Marlien Conradie moet agter tralies bly. Foto verskaf
Marlien Conradie moet agter tralies bly. Foto verskaf

Baba nie genoeg rede vir borgtog

Marlien Conradie bly agter tralies
Die voormalige finansiële bestuurder het haar borgtogappèl in die bedrogsaak van sowat N$41 miljoen verloor.
Rita Kakelo

Marlien Conradie (37) wat daarvan beskuldig word dat sy bedrog van meer as N$41 miljoen gepleeg het, het misluk in haar poging om op borgtog vrygelaat te word.

Die voormalige finansiële bestuurder van Western Investments Namibia wat sedert November 2025 agter tralies is, het aangevoer dat sy tydens die hangende verhoor vrygelaat behoort te word, aangesien sy die ma van ’n baba is. 

Haar man, Jan-Hendrik, is in Desember verlede jaar as die tweede beskuldigde in die saak in hegtenis geneem, maar in Januarie vanjaar op borgtog van N$10 000 vrygelaat. Volgens vriende van die egpaar, is hul babaseuntjie, nou een jaar en twee maande oud, in sy sorg. 

Conradie het ook gewys op haar sterk familieverbintenisse in Namibië, die inhandiging van haar paspoort en haar samewerking met ondersoekbeamptes as faktore wat haar vrylating op borgtog sou ondersteun.

Die hoërhof het egter bevind dat hierdie faktore nie swaarder weeg as die belange van geregtigheid nie.

Regters Naomi Shivute en waarnemende regter Marilize du Plessis het Maandag Conradie se appèl teen die landdroshof in Windhoek se beslissing, wat haar borgtog geweier het, van die hand gewys.

Sy is op 10 November 2025 in hegtenis geneem en staar aanklagte van bedrog in die gesig, asook ’n oortreding van artikel 6 van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad van 2004 (Poca).

Die staat beweer terwyl Conradie as finansiële bestuurder van Western Investments Namibia in diens was, sy betalings wat vir verskaffers en diensverskaffers bedoel was, na bankrekeninge van haarself, haar man of entiteite wat met hulle verbind is, oorbetaal het.

Die beweerde transaksies het tussen 2016 en 2025 plaasgevind, met ondersoekers wat aanvoer dat Conradie valse uitgawes geskep het om die betalings moontlik te maak.

Die ondersoekbeampte het aan die hof gesê dat sowat N$5 miljoen teruggevind is, terwyl ongeveer N$35 miljoen steeds onverklaar bly. Volgens die ondersoek na haar bankstate, is die geld op luukshede bestee.

Hoewel die hoërhof bevind het dat die landdros verkeerd was om op die moontlikheid van ’n lang gevangenisstraf staat te maak toe beoordeel is of Conradie ’n vlugrisiko is, het die regters beslis dat die weiering van borgtog nietemin geregverdig was.

Die regters het gesê die reuse-omvang van die beweerde bedrog, die sterk saak van die staat en dat haar vrylating nie in openbare belang sou wees nie, het teen haar vrylating getel.

Die hof het die beweerde bedrag wat betrokke is as “verstommend” beskryf.

Die hof het egter beslis dat die beskuldigde se persoonlike omstandighede nie die erns van die bewerings en die belange van geregtigheid oortref nie.

Die egpaar verskyn weer op 13 Augustus in die hof.

– [email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-11-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer