• Tuisblad
  • Howe
  • Angolese kinders vier jaar in staatsbewaring
WHERE ARE OUR KIDS?: The gender ministry, the Namibian Police human trafficking unit and the police chief have been dragged court by the mothers of four Angolan children. Pictured is gender minister Doreen Sioka. PHOTO: FILE
WHERE ARE OUR KIDS?: The gender ministry, the Namibian Police human trafficking unit and the police chief have been dragged court by the mothers of four Angolan children. Pictured is gender minister Doreen Sioka. PHOTO: FILE

Angolese kinders vier jaar in staatsbewaring

Ma's sleep partye hof toe
'n Strafregtelike saak teen Simon Andjamba is in Februarie vanjaar van die hofrol geskrap, hoewel die kinders nog in aanhouding is.
Jemima Beukes,Tanja Bause
Jemima Beukes – Die ma’s van vier Angolese kinders het die minister in die presidensie verantwoordelik vir geslagsgelykheid, armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn, die Namibiese polisie se mensehandel-eenheid en die polisiehoof hof toe gesleep.

Die kinders is in September 2018 uit hul oom – die plaaslike sakeman Simon Andjamba – se sorg verwyder. Andjamba is daarvan aangekla dat hy die kinders in Namibië ingesmokkel het sodat hulle as plaasarbeiders kon werk.

’n Strafregtelike saak teen Andjamba is in Februarie vanjaar van die hofrol in die Windhoekse landdroshof geskrap. Die kinders het egter in aanhouding gebly en hul ouers het eers vanjaar van die saak uitgevind.

Sisa Namandje – die ma’s se regsverteenwoordiger – het Vrydag ’n dringende aansoek in die hoërhof in Windhoek gebring vir die vrylating van hul kinders. Die kinders is die afgelope vyf jaar in “een of ander obskure plek insluitend ’n kamp” aangehou.

Een van die kinders was 14 toe hulle uit hul oom se sorg verwyder is en het sedertdien 18 geword.

“Ons is nou verheug; ons het ’n hofbevel op ’n dringende basis gekry en die regering is met onmiddellike effek opdrag gegee om die kinders in hierdie ma’s se sorg te plaas.

“Hulle moet na Angola reis sodat die kinders met hul families verenig kan word,” het Namandje ná die hofverskyning in ’n onderhoud aan die media gesê.

TOEGANG GEWEIER

Volgens hom is die kinders in September 2018 ingevolge die Wet op Kinderversorging van 2003 aangehou, maar daardie wet het eers in Januarie 2019 in werking getree.

Ten spyte van die strafregtelike saak teen Andjamba wat van die rol geskrap is, het die geslagsgelykheidsministerie na bewering die ma’s toegang tot hul kinders geweier.

In hul funderende beëdigde verklaring het die vroue gesê dit was nie ongewoon vir hul kinders om na Namibië te reis en by hul oom – wat die middele gehad het om vir hulle te kan sorg – te bly nie.

Hulle het bygevoeg dat kinders wat familielede besoek nie onvanpas is of verbied word deur enige wet in Namibië of Angola nie.

“Ons kinders sou baat gevind het by ’n besoek aan Namibië en aan hul oom, Simon Andjamba, aangesien hy hulle dan sou kon bystaan wanneer hulle terugkeer omdat hy finansieel in staat is om die uitgebreide familie te ondersteun.”

Hulle het ook daarop gewys dat hulle verskeie onsuksesvolle pogings aangewend het om hul kinders te sien. In 2020 het hulle regshulp ingewin, het hulle gesê.

Gedurende hierdie tyd het hulle verneem dat die Namibiese polisie se mensehandel-eenheid hul kinders in die Hope Children Home geplaas het. Hulle is egter nie ingelig waar die kinderhuis geleë is of in watter toestand dit is nie, het hulle gesê.

ONWETTIG

“Ná meer as drie jaar sedert hul aanhouding, tot op hede, is die kinders nie vrygelaat nie en dit is onseker waar die kinders nou geplaas is en in watter omstandighede.

“Wat seker is, is dat die Namibiese polisie en aanklaer-generaal, Martha Imalwa, die kinders uit hul oom se toesig en sorg verwyder het as gevolg van beweerde klagte van mensehandel. Ons is ingelig dat die aanhouding onwettig is en die saak het in elk geval wreed en onmenslik geword,” het die ma’s gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer