AG moet besluit oor honde-eienaar se lot

Tuyeimo Haidula
Tuyeimo Haidula – Die aanklaer-generaal, Martha Imalwa, sal na verwagting ’n aanbeveling aan die polisie maak of die eienaar van die vyf honde wat Sondag ’n man in Oshakati doodgebyt het, vervolg moet word.

Ruben Abraham (44), ’n voormalige lid van die Namibiese weermag, is in die Oshakati-staatshospitaal dood waar hy opgeneem is ná die gru-aanval. Dit het gebeur toe hy op pad huis toe was van Panama Tiles and Paint Wholesale waar hy as ’n veiligheidswag gewerk het.

Huang Lingyan (42), ’n Chinese burger is die eienaar van dié onderneming waar die aanval gebeur het, asook die eienaar van die honde.

Die polisie se woordvoerder, adj. komm. Kauna Shikwambi, sê in ’n verklaring Abraham se familielede is in kennis gestel dat die dossier aan Imalwa se kantoor gestuur sal word vir ’n beslissing.

Sy het gesê die familie sal oor die uitslag ingelig word. ’n Saak van strafbare manslag is teen Lingyan geopen.

Shikwaambi het in haar verklaring ook bewerings ontken dat die polisie geweier het dat die familie ’n saak aanhangig maak.

“Daar word beweer dat die oorledene se familielede daarop aangedring het om ’n saak by die polisiekantoor op Oshakati te open, maar hulle is ingelig dat die staat reeds ’n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer aanhangig gemaak het. Nadat die polisie uitgevind het dat Abraham aan sy wonde dood is, is die klag na strafbare manslag verander,” het Shikwambi gesê.

Sy het die voorval as betreurenswaardig beskryf en namens die polisie simpatie aan Abraham se familie betoon vir hul verlies.

Die honde is Maandag van kant gemaak.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer