ACC weerhou dokumente, beweer regsman
Nghipunya glo net instruksies gevolg
'n Regsverteenwoordiger van een van die Fishrot-beskuldigdes beskuldig die ACC daarvan dat hulle getuies geïntimideer het om hul verklarings te verander.
Een van die Fishrot-beskuldigdes, mnr. Mike Nghipunya, se regsverteenwoordiger, mnr. Tabang Phatela, beweer die Teenkorrupsiekommissie (ACC) weerhou dokumente – wat in die beskuldigdes se guns kan tel – van die verdediging.
Phatela het gister tydens die kruisondervraging van hoofinspekteur Andreas Kanyangela, ’n ondersoekbeampte van die ACC, uitgewys volgens ’n ouditverslag van Deloitte is daar 683 658 dokumente wat verband hou met die saak, maar die verdediging het glo net sowat 80 000 ontvang.
“Die ACC is so desperaat om te probeer bewys dat ons kliënte skuldig is, dat hulle die oorgrote meerderheid van die inligting – wat moontlik in ons kliënte se guns kan tel – van ons weerhou. Hulle het net ’n klein deeltjie aan ons beskikbaar gestel om ons kliënte sleg te laat lyk in hierdie saak,” het Phatela gesê.
Kanyangela het Phatela se aantyging ontken.
“Die ACC het nog nooit enigiets probeer wegsteek nie. Al die dokumente is verskaf.”
Die staatsaanklaer Cliff Lutibezi het die kruisondervraging onderbreek en die hof verseker alle dokumente is aan die verdediging verskaf.
Phatela het ook die ACC daarvan beskuldig dat hulle getuies geïntimideer het om hul verklarings te verander.
VERKLARING ONDER DIE LOEP
Die verklaring van ’n bestuurder van NovaNam wat in beheer was van onderhandelinge van ooreenkomste met Fishcor en Seaflower, is gister onder die loep gebring.
Phatela het gesê die bestuurder het sowat 18 keer in sy verklaring gesê dat hy nie kan onthou nie. Die meerderheid daarvan was rakende sy betrokkenheid by ooreenkomste.
“Ek kan nie onthou dat ek die terme van die ooreenkomste onderhandel het nie, maar ek het waarskynlik,” het Phatela meermalig uit die bestuurder se verklaring gelees.
Kanyangela het beklemtoon dat hy nie aan iemand kan voorskryf wat hulle in hul verklarings moet sê nie.
Phatela het gesê hy kan nie verwag dat die hof op so ’n ongeloofwaardige verklaring sy besluit kan baseer nie.
“Julle [ACC] steun op hierdie verklaring om borgtog aan my kliënt te weier? Jou standaarde moet regtig laag wees,” het Phatela aan Kanyangela gesê.
‘NET INSTRUKSIES UITGEVOER’ Phatela beweer sy kliënt het net instruksies gevolg en was altyd deursigtig oor dit wat hy vir sy werkgewer gedoen het.
“Hy het getuig dat hy te alle tye volgens die instruksies van sy werkgewer – wat hy gedink het wettig was – opgetree het met betrekking tot die kwotas en opdragte oor waar die inkomste van daardie kwotas moet gaan,” het Phatela gesê.
Nghipunya en vyf van sy medebeskuldigdes se aansoek om borgtog sal vandag in die hoërhof in Windhoek voortduur. Kanyangela is steeds in die getuiebank.
Phatela sal voorlopig sy kruisondervraging vandag afhandel en daarna sal mnr. Milton Engelbrecht sy ondervraging afskop. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie