50 sake, 47 skuldig in wildmisdaadhof

‘Waar is die rondgaande wildmisdaadhof?’
Die eienaar van ’n eenheid vir teenstropery op Otjiwarongo sê dié gespesialiseerde hof maak beslis ’n groot verskil en die aanklaers weet wat hulle doen.
Francoise Steynberg

Sedert die vestiging van die wildmisdaadhof op Otjiwarongo twee jaar gelede in Augustus 2024, het die hof 50 sake aangehoor, waarvan 47 tot skuldigbevindings gelei het. 

Wildstropers en smokkelaars van renosterhoring, ietermagôskubbe, ivoor van olifanttande en ander onwettige wildprodukte het in hierdie hof verskyn. 

“Daardie resultate dui op Namibië se doelbewuste keuse om die instellings en kapasiteit te bou wat hierdie stryd teen wildmisdadigers vereis,” het die Amerikaanse ambassadeur in Namibië, John Giordano, in ’n verklaring gesê.

Hy het benadruk dat wildsmokkelary nie net ’n bewaringskwessie is nie, maar transnasionale misdaad met wildleweprodukte wat miljarde dollars vir misdaadsindikate inbring wat ook dwelms, wapens en mense oor grense heen smokkel. 

“Daarom is Namibië se eerste omgewingsmisdaadhof op Otjiwarongo so belangrik.”

Die Verenigde State van Amerika (VSA) was ’n belangrike vennoot in die stigting van dié hof. Deur die Amerikaanse departement van buitelandse sake se Buro vir Internasionale Narkotika en Wetstoepassingsake het die VSA meer as N$2,5 miljoen tot die konstruksie van die hof bygedra. Die VSA het ook gespesialiseerde opleiding vir aanklaers wat wildmisdaadsake hanteer, ondersteun.

Die ambassadeur sê die vervolging van wildsmokkelarysake vereis gespesialiseerde kundigheid – in forensiese ondersoeke, oorgrens-intelligensie en die kriminele misdaadnetwerke en voorsieningskettings wat onwettige wildprodukte van nasionale parke na swartmarkte in China en elders oraloor die wêreld verskuif.

“Die hof is nie bloot ’n plek waar sake aangehoor word nie. Dis ’n verklaring dat Namibië se natuurlike erfenis nie deur kriminele netwerke te koop is nie,” het Giordano gesê.


‘REGSTELSEL LAAT BOERE IN DIE STEEK’

Wildboere wat onlangs weer deur renosterstropers geteiken is, is dankbaar vir die vestiging van die wildmisdaadhof, maar sê justisie bly steeds ’n probleem.

“Ons boere en sekere eenhede van die Namibiese polisie soos die eenhede vir teenstropery (PRU) en die Blue Rhino-taakspan werk baie goed saam, maar sodra beskuldigdes in die hof kom, kry hulle borgtog en pleeg weer misdaad,” het ’n boer die naweek aan Republikein gesê.   

Een voorbeeld wat genoem is, is die vermeende dief van renosterhorings wat in die wildmisdaadhof borgtog toegestaan is en weer onlangs as ’n vermeende renosterstroper in die Kunenestreek toegeslaan het.  

Hy is nog steeds op vrye voet nadat sy medepligtige ernstig deur lede van ’n teenstroperyspan gewond is toe hulle probeer het om ’n renoster te stroop. 

“Die regstelsel laat ons boere, die publiek en selfs die polisie in die steek. Die polisie werk baie hard, net sodat die howe die beskuldigdes weer kan vrylaat. 

“So ’n jaar gelede sou die rondgaande wildmisdaadhof as ’n mobiele hof gevestig word om sake te versnel, maar dit is nou nog nie op die been gebring nie,” het ’n wildboer gesê.   


LOFSANGE

Die eienaar van die Kyani Anti-Poaching And Security Group, Danie van der Westhuizen, sing net lofsange vir die wildmisdaadhof.

“Die hof maak ’n groot verskil. Die aanklaers weet wat hulle doen. Dis nie soos die gewone hof nie, hulle probeer ’n saak so vinnig as moontlik op die regte prosedure afhandel.”

Volgens hom is die grootste probleem dat daar te min aanklaers is en sake in die gewone hof aangehoor moes word. 

“As die hof loop, hulle is baie deeglik en hulle gaan die sake baie netjies deur. As daar voltyds regsamptenare is, kan al die sake van Kalkfeld, Otjiwarongo, Outjo en Otavi hier hanteer word,” het Van der Westhuizen gister aan Republikein gesê. 

“Dit sal vinniger, makliker en beter wees. As hulle vinger trek en het regte mense in die regte plek het, kan dit net werk.”

Van der Westhuizen benadruk egter dat die wildmisdaadhof nie net omgewingsmidaad moet hanteer nie, maar ook veediefstal. 

“Ons wil aanklaers uitnooi om saam met ons op ’n operasie uit te gaan” om die realiteit van wildstropery en veediefstal op die grond te ervaar. 

Tien jaar gelede in 2016 het ’n Amerikaanse inisiatief van US$19 miljoen die samewerking in wetstoepassing tussen die Verenigde State en Namibië versterk om wildhandel te bestry, het Giordano gesê. 

“Dieselfde inisiatief het die houtidentifikasie-siftingsentrum in Windhoek gebou – die enigste fasiliteit van sy soort in Afrika” – om onwettige houthandelaars te help identifiseer en te vervolg. 

“Dit het doeane- en grenssekuriteit versterk, toegang tot inligting uitgebreik wat aanklaers nodig het om sake te bou en sterker vennootskappe tussen Namibiese, streek- en Amerikaanse wetstoepassingspersoneel gebou,” het hy gesê.

“Hierdie werk gaan nie net oor geboue of toerusting nie. Dit gaan oor mense, instellings en resultate.

“Die omgewingsmisdaadhof is een deel van ’n breër Namibiese bewaringsmodel – wat die regering, wetstoepassing, natuurbewaarders en private grondeienaars byeenbring om die land se natuurlike erfenis en die toerisme-ekonomie wat dit ondersteun, te beskerm,” het die ambassadeur gesê.

“Wildhandel respekteer nie grense nie en die reaksie daarop ook nie. Die Verenigde State, Namibië en lande regdeur die streek het al meer as ’n dekade saamgewerk om internasionale wetstoepassingsamewerking te versterk, instellings te bou wat in staat is om geregtigheid te lewer en te verseker dat diegene wat voordeel trek uit hierdie vernietiging geen veilige hawe vind nie.”

Giordano meen Namibië is ’n wêreldleier in bewaring. 

“Deur saam te werk, kan ons sy buitengewone natuurlike erfenis beskerm en die transnasionale kriminele netwerke wat dit bedreig, ontwrig.

“Dit is bewaring wat deur afdwinging gerugsteun word – en vennootskap wat deur resultate gemeet word.”

– [email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-10-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer