Staat benodig N$16 mjd. om gesondheidsorg op te gradeer
Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste sê hy werk daaraan om befondsing te bekom vir ’n omvattende opgradering van die staat se gesondheidsorgstelsel ter waarde van N$16 miljard.
Dit sluit die opgradering en bou van hospitale in om aan die standaarde van die private sektor te voldoen, die modernisering van geriewe landswyd en die versnelling van personeelaanstellings.
Ter ondersteuning van die plan is die ministeries van finansies, justisie en arbeidsverhoudinge en myne, energie en nywerheidsontwikkeling, asook die Maatskaplike Voorsorgkommissie en ander vennote, betrek om geoormerkte en afgebakende befondsing vir die sektor te verseker.
Die uitvoerende direkteur van gesondheid, Penda Ithindi, het aan Network Media Hub (NMH) gesê dat die ministerie die voorstel van N$16 miljard in 2024 aan die kabinet voorgelê het om hospitale en klinieke op te gradeer.
Die fondse sal gebruik word om bykomende gesondheidswerkers te werf, toerusting en infrastruktuur te moderniseer en hervormings te implementeer om gehalte, doeltreffendheid en toegang tot sorg te verbeter.
Die multimiljardplan sluit die bou van die Windhoek-distrikshospitaal in.
Ithindi het gesê universele gesondheidsdekking (UHC) sal verseker “dat alle mense in Namibië toegang het tot gehalte- gesondheids- en maatskaplike dienste wat hulle benodig wanneer en waar hulle dit nodig het sonder om finansiële probleme te ervaar”.
Hy het beklemtoon dat UHC “nie ’n enkele program of versekeringskema” is nie, maar “’n stelselwye benadering” wat fokus op die verbetering van gesondheidsorgstandaarde, die versterking van finansiële beskerming en die verbetering van bestuur en volhoubaarheid. Ithindi het gesê die dryfkrag agter UHC is in die Grondwet gegrond.
Alhoewel die Grondwet nie uitdruklik die UHC noem nie, het hy gesê Artikel 95 plaas toegang tot gesondheidsdienste duidelik binne die staat se verantwoordelikhede, wat universele sorg ’n grondwetlike verpligting eerder as ’n diskresionêre program maak.
BESTENDIGE VORDERING
Namibië se UHC-diensdekkingsindeks het verbeter van ongeveer 40% in 2000 tot tussen 60% en 71% teen 2021, wat die land onder die sterker presteerders in Suider-Afrika plaas.
Meer as 76% van die bevolking woon nou binne ’n radius van 10 kilometer van ’n gesondheidsfasiliteit, wat langtermynbelegging in klinieke, gesondheidsentrums en uitreikdienste weerspieël, veral in landelike gebiede.
Die meeste openbare gesondheidsdienste word gratis of teen nominale fooie by die punt van gebruik gelewer, wat uit-die-sak-uitgawes op ongeveer 8% van die totale gesondheidsuitgawes hou.
Dié vlak van beskerming help om te verhoed dat siektes mense in armoede dryf, het Ithindi gesê.
Die lewensverwagting het van 47 jaar in 2000 tot 56 jaar teen 2019 gestyg. Namibië het ook MIV-epidemiebeheer onder die 95-95-95-teikens bereik – ’n wêreldwye erkende mylpaal.
Die land is gesertifiseer vir die uitwissing van moeder-na-kind-oordrag van MIV en hepatitis B. Ma- en kindersterftesyfers het gedaal, wat deur uitgebreide immuniserings- en oordraagbare siekteprogramme ondersteun is.
Ten spyte van dié vordering het Ithindi volgehoue leemtes in die gehalte van sorg, beskikbaarheid van medisyne, toegang tot nie-oordraagbare siekte- en geestesgesondheidsdienste en billike toegang tot gespesialiseerde sorg vir afgeleë gemeenskappe erken.
Die ministerie van gesondheid het die gereedheid van geriewe en basislynassesserings voltooi om geteikende beleggings te rig. Gestandaardiseerde sorgprogramme word uitgerol, terwyl ’n handves vir kliëntediens wat in 2025 bekend gestel is, daarop gemik is om aanspreeklikheid te versterk en die pasiënt-ervaring in staatsgeriewe te verbeter.
OPLEIDING
Ithindi het gesê personeelstrategieë word in pas gebring met UHC-prioriteite, met die vul van kritieke vakatures, die aansporing van dienste in landelike gebiede en gebiede waar personeel moeilik ontplooi kan word, die uitbreiding van indiensopleiding en die belyning van opleidingsuitsette met geprioritiseerde diensbehoeftes.
’n UHC-implementeringsaksieplan sit besteding vir die eerste vyf jaar uiteen, terwyl hervormings aan die gang is om begrotings met ’n noodsaaklike gesondheidsdienstepakket te belyn en na ’n programgebaseerde begroting en strategiese aankope oor te skakel.
’n Belangrike hervorming wat oorweeg word, is die stigting van ’n nasionale gesondheidsekwiteitsfonds, wat ten doel het om bykomende binnelandse hulpbronne te mobiliseer en solidariteitsfinansiering te versterk.
Ithindi het gesê wetgewende werk is ook aan die gang, met ’n voorgestelde UHC-wetsontwerp wat ontwikkel word om grondwetlike beginsels in duidelike wetlike regte, befondsingsmeganismes en aanspreeklikheidstrukture te omskep wat met bestaande gesondheids- en maatskaplikevoorsorgwette belyn is.
“Die fokus is nou uitvoering,” het hy gesê.
“Die belegging moet tot betroubare, toeganklike en gehaltesorg vir alle Namibiërs lei.”
Die regering het bevestig dat staatshospitale opgegradeer sal word om te funksioneer teen standaarde vergelykbaar met private geriewe ingevolge UHC-hervormings wat in Swapo se 2025-’30-implementeringsplan uiteengesit word en in April vanjaar in werking tree.
VISIE
Die minister van gesondheid, dr. Esperance Luvindao, het in ’n ministeriële verklaring wat op 4 Februarie uitgereik is, gesê die regering is vol vertroue dat uitgesoekte staatshospitale gereed sal wees om die Visie April 2026-opdrag te implementeer.
“Visie April 2026 is nie ’n abstrakte beleidstrewe nie, maar ’n gestruktureerde en bewysgedrewe hervormingsinisiatief met duidelike tydlyne, gedefinieerde prioriteite en meetbare mylpale,” het sy gesê.
Luvindao het gesê die implementering sal “’n gefaseerde en geteikende benadering volg, eerder as ’n algemene uitrol oor alle geriewe gelyktydig”.
Voorkeur sal gegee word aan hospitale wat gereedheid getoon het in terme van infrastruktuur, personeel en bestuurskapasiteit, het die minister bygevoeg.
Sy het gesê twee intensiewesorgeenhede (ICU’s) is ten volle funksioneel by die Katima Mulilo- en Keetmanshoop-distrikshospitaal, terwyl bykomende ICU-infrastruktuur by Oshakati, Onandjokwe, Rundu, Gobabis en Mariental onder konstruksie is.
Wat personeeltekorte betref, het Luvindao gesê dat werwing versnel is.
“Tussen April 2025 en Februarie 2026 is altesaam 2 397 gesondheidswerkers aangestel,” het sy gesê.
“Hierdie maatreëls toon die ministerie se verbintenis om huidige personeeltekorte te takel, gespesialiseerde mediese kapasiteit te versterk en te verseker dat die gesondheidstelsel voldoende beman is.”


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie