Brandstofpryse wurg ambulansoperateurs
Privaat ambulansoperateurs aan die kus sê die styging in die brandstofprys dra by tot koste wat hulle nie kan verhaal nie, met sommige wat gedwing word om personeel, voertuie en gemeenskapsborgskappe te sny om oop te bly.
Diesel het met N$3 per liter gestyg met 50ppm-diesel wat nou N$30,86 op Walvisbaai kos, terwyl petrol met N$2 tot N$28.58 gestyg het. Diesel kos nou sowat N$11 per liter meer as wat dit aan die begin van die jaar gekos het.
Die operateurs is onder die hoof privaat dienste aan die kus en lede van die Erongo Noodkoördinasiegroep. Hulle sê die tariewe wat mediese fondse aan hulle betaal, het nie bygehou nie.
Fanie Redelinghuys van LifeLink het gesê die maatskappy se gemiddelde maandelikse brandstofrekening verlede jaar was N$55 000.
Vanjaar het dit gemiddeld na raming N$69 000 tot N$74 000 beloop.
Die verhoging stoot hierdie maand se rekening tot omtrent N$84 000 tot N$85 500 vir dieselfde volume brandstof op, rofweg 53% tot 55% meer as verlede jaar se gemiddelde. Die meeste van sy vloot loop op diesel.
Redelinghuys het gesê die ekstra koste kon nie van mediese fondse of pasiënte verhaal word nie.
Die Namibiese Vereniging van Mediese Fondse (Namaf) se tariefaanpassings vir 2026, asook die onlangs aangekondigde gemiddelde verhoging van 4,67% vir 2027 het ver tekortgeskiet aan wat operateurs nodig gehad het.
“’n Tariefaanpassing in die lae enkelsyfers dek nie voldoende ’n verhoging in brandstofkoste van ongeveer 50% of meer nie,” het hy aan Republikein gesê.
“Volgehoue verhogings van hierdie omvang maak dit al hoe moeiliker om die bykomende koste te absorbeer terwyl ons steeds dieselfde vlak van diens lewer,” het hy verduidelik.
’n Ander operateur het gesê: “Die brandstofpryse gaan weer op. Dit maak dit meer as ’n 30%-verhoging op brandstof alleen, en Namaf verhoog net ons tarief met 4,3%. Hoe dink hulle moet ons aan die lewe bly? Weet hulle wat dit kos?”
BEDRYF TEEN ’n VERLIES
Die eienaar van MedRescue 24/7, Conrad Jacobs, wie se maatskappy landswyd in bedryf is, het gesê sommige operateurs is gedwing om personeel te sny en hul vlote te verklein.
“Beskikbare fondse vir werk wat reeds gedoen is, vul nie meer die huidige bedryfsuitgawes aan nie, so ons loop teen verliese,” het hy gesê.
Jacobs het gesê tariewe moet met 14% tot 17% styg, “nie weer met 4% nie”.
Hy het gesê Namaf antwoord aan die hoofbeamptes van die mediese fondse en kyk na hul lede se belange, terwyl hospitale nie so streng soos ambulansdienste gereguleer word nie.
Aubrey Oosthuizen van Code Red Ambulansdiens het gesê sy maandelikse brandstofrekening het sedert Junie van ’n begrote N$10 000 tot N$12 000 na tussen N$13 000 en N$19 000 gestyg.
“Om enigiets van N$3 000 tot N$9 000 ekstra per maand vir brandstof uit te haal – vir ’n klein maatskappy soos myne – is nogal erg,” het hy gesê.
Groter maatskappye, het hy aangevoer, kan koste oor mynkontrakte, vlugte en ander inkomste versprei, terwyl kleiner operateurs afhanklik is van wat hulle elke maand verdien.
“Die kleiner en medium maatskappye, hulle vat die druk,” het hy gesê.
’n Topklas-hartmonitor kos omtrent N$430 000.
Oosthuizen het gesê ’n diens sou 255 pasiënte teen die laagste basiese tarief vir lewensondersteuning nodig hê om dit af te betaal, ’n syfer wat “basies verdubbel” sodra belasting, salarisse en oorhoofse koste betaal is.
“Die brandstofaspek is ’n bydraende faktor, maar in vergelyking met die res is dit ’n redelik klein persentasie. Ek dink die probleem is baie dieper as net die brandstofkwessie,” het hy opgemerk.
Hy het gesê geen vereniging verteenwoordig privaat ambulansdienste by Namaf of die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste nie. Hy het bygevoeg hospitale en mediese fondse het tydens die Covid-19-pandemie verligting ontvang, terwyl ambulansdienste nie het nie.
“In ons bedryf dink ek ons het aan die agterste speen gesuig,” het hy gesê.
BREëR IMPAK
Gabriela Teleman se St Gabriel’s Ambulansdiens met sowat 12 personneellede werk sedert 2003 in Walvisbaai, maar bedryf nou drie ambulanse nadat ’n vierwielaangedrewe ambulans in ’n ongeluk afgeskryf is.
“Ons borg sommige geleenthede vir kinders en ons begin dit sny, omdat ons dit nie meer kan bekostig nie, want anders moet ons toemaak. Ons word gedwing om die borgskap af te skaal,” het sy gesê.
“Ek kan nie na die pomp toe gaan en sê, jammer meneer, maar ons is nooddienste nie.”
eleman het gesê ’n ramp word nie aan die aantal pasiënte gemeet nie: “Die ramp word deur die beskikbaarheid van die dienste bepaal. Het jy ’n ambulans of nie? Dit is ’n ramp.”
Namaf-woordvoerder Uatavi Mbai het voorheen gesê maatstaftariewe is verwysingspunte eerder as verpligte tariewe en dat verskaffers bo of onder hulle kan hef. In Mei het Namaf verskaffers genooi om ’n tariefhersiening aan te vra indien hul koste bo sy inflasiemodel gestyg het.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie