NamRA maak sy pakhuise leeg
Die laaste in die reeks veilings wat Aucor namens die Namibië Inkomste-agentskap (NamRA) reeds op Oshakati, Rundu en Katima Mulilo gehou het, sluit vandag om 13:00.
Die meerderheid van die pakkies op aanbod behels goedere wat van kleinhandelinvoerders, algemeen bekend as “Order With Me”, beslag gelê is.
Kliënte bestel tipies spesifieke goedere vanaf die buiteland deur dié invoerders, wat dit in klein skaal invoer en direk aan hul kliënte teen voorafbetaalde pryse verkoop.
Klagtes teen NamRA vir die beslaglegging van hierdie besendings duur al jare voort. Pakkies wat te koop aangebied word, sluit onder meer pruike, T-hemde, onderdele, trourokke, kinderboeke, koffiebekers, sonbrille, oorfone, slimhorlosies, juweliersware, skoene en mandjies in.
Aucor het vroeër vandeesweek in ’n mediaverklaring benadruk dat hulle as ’n onafhanklike afslaer slegs in opdrag van NamRA, die goedere aanlyn by aucornamibia.com/online-auctions opveil.
NamRA se senior bestuurder van grensbeheer en operasionele nakoming, Abner David, het gister bevestig dat die agentskap se pakhuise nou leeg is, alhoewel hy nie kon sê hoeveel geld die veilings reeds ingevorder het nie.
Te midde van kommentaar en klagtes op sosiale media oor die opveiling van die goedere, het NamRA aangevoer dat die goedere “onderskep is tydens operasies by aangewese kontrolepunte, sowel as by ongemagtigde toegangspunte waar dit onwettig die land ingebring is”.
“Ingevolge Artikel 6 van die Doeane- en Aksynswet (Wet No. 20 van 1998), moet goedere deur aangewese toegangspunte en gemagtigde roetes in- en uitgevoer word.
“Goedere wat strydig met hierdie bepalings is, is onderhewig aan beslaglegging,” het Yarukeekuro Ndorokaze, NamRA se hoofwoordvoerder, op vrae van NMH gereageer.
Hy het beklemtoon dat dit van alle persone wat Namibië binnekom of verlaat, vereis word om al die goedere in hul besit op die voorgeskrewe wyse te verklaar.
“Die goedere wat opgeveil word, sluit alle items in wat gekonfiskeer is weens die nie-nakoming van die wet. Die proses diskrimineer nie op grond van die grootte of kategorie van die invoerder of uitvoerder nie.
“Enige goedere wat strydig met die wet bevind word, is onderhewig aan dieselfde handhawingsmaatreëls,” volgens Ndorokaze.
Hy sê die wet maak voorsien daarvoor dat goedere wat vir ’n tydperk van meer as drie maande onopgeëis of onverklaar in ’n staatspakhuis bly, deur middel van ’n openbare veiling van die hand kan gesit word.
“In hierdie geval het die eienaars van die goedere nie binne die voorgeskrewe tydperk na vore gekom om die goedere te reguleer en vry te stel nie,” sê hy.
Ndorokaze brei uit dat die staatspakhuise beperkte stoorkapasiteit het en is nie ontwerp om goedere vir lang tydperke te akkommodeer nie.
“Die verkoop van onverklaarde goedere deur middel van die veilings is dus nodig om doeltreffende benutting van stoorruimte en voortgesette operasionele doeltreffendheid te verseker,” voeg hy by.
Alle opbrengste uit die veiling word in die staatsinkomsterekening betaal, sê die hoofwoordvoerder.
Volgens Ndorokaze maak die wet voorsiening vir die vrystelling van goedere waar in- of uitvoerders aan alle wetlike vereistes voldoen.
“Dit sluit die indiening van akkurate verklarings, die verskaffing van ondersteunende dokumentasie en die betaling van toepaslike heffings en belastings in.
“Sodra hieraan voldoen is, kan goedere dienooreenkomstig vrygestel word, ongeag die grootte van die besigheid,” sê hy.
“Die veilingsproses is oop vir alle lede van die publiek, insluitend deelnemers aan die ‘Order With Me’-sakemodel,” sê hy.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie