Nandi-Ndaitwah: Niemand is verhef bo die wet nie

'Stryd teen korrupsie onwrikbaar'
President Netumbo Nandi-Ndaitwah het haar regering se onwrikbare verbintenis tot die oppergesag van die reg, aanspreeklikheid en volhoubare hulpbronbestuur herbevestig.
Nikanor Nangolo

President Netumbo Nandi-Ndaitwah sê geen individu, gesag of instelling is verhef bo die wet nie dat die regering se verbintenis tot aanspreeklikheid, deursigtigheid en die stryd teen korrupsie onwrikbaar bly. 

Tydens haar toespraak by die amptelike opening van die derde sitting van die parlement gister het die president beklemtoon dat die doel nie ’n “heksejag” is nie, maar om die openbare vertroue in die land se instellings te herstel en te handhaaf. “Gesag in die Republiek van Namibië berus by die mense, wat hul soewereiniteit deur demokratiese instellings uitoefen en hul verteenwoordigers verkies. Die parlement dra daarom ’n verantwoordelikheid nie, net om wetgewing te maak nie, maar ook om die waardigheid en integriteit van hierdie eerbiedwaardige Huis te handhaaf, aangesien hulle hier namens alle Namibiërs is," het sy gesê. "Kragtige debat is ’n hoeksteen van ons demokrasie. Dit moet egter altyd met respek, dissipline en doel gevoer word.

“Ons mense verwag dat hul verteenwoordigers in die parlement hard werk. Hulle wil debatte hê wat tot oplossings lei, wette wat lewens verbeter, en toesig wat bestuur betyds versterk.

"Verder bly die oppergesag van die gereg die grondslag van vrede, geregtigheid en volhoubare ontwikkeling,” het sy bygevoeg.

Die president het gesê dat die parlement oor die afgelope jaar verskeie wetsontwerpe oorweeg en ter tafel gelê het, insluitend die begrotingswetsontwerp (begroting), die wysigingswetsontwerp op streeksrade, die wetsontwerp op grond, die wysigingswetsontwerp op die bestuur van staatsondernemings, die wetsontwerp op geestesgesondheid en die wysigingswetsontwerp op die begroting (middeltermyn-begrotingsoorsig).

“Kennisgewings is ook uitgereik vir die indiening van die wetsontwerp op die reguleringsowerheid vir rekenmeesters en ouditeure, die wysigingswetsontwerp op inkomstebelasting, en die wysigingswetsontwerp op petroleum (ekslorasie en produksie).

"Ongelukkig het van al hierdie nege wetsontwerpe slegs twee begrotingsverwante wetsontwerpe deurgegaan."

Die president ag dit as baie teleurstellend, "want die mense van Namibië verdien beter dienste van hul verkose verteenwoordigers en dit is die hoop van ons mense dat so ’n situasie hom nie in die tweede jaar van die agtste parlement sal herhaal nie,” het sy gesê.

Nandi-Ndaitwah het beklemtoon dat wette wat in die parlement opgestel word, sterk, beginselvas en toekomsgerig moet wees. 

“Hulle moet ons soewereiniteit beskerm, demokratiese bestuur versterk en Namibië help om die onstabiele wêreldlandskap te navigeer, terwyl ons ’n betroubare en verantwoordelike lid van die internasionale gemeenskap bly,” het sy gesê.

“Oor die afgelope jaar het ons land voortgegaan om maatskaplike en ekonomiese uitdagings te trotseer –werkloosheid, ongelykheid, asook erge armoede onder lede van ons samelewing. Hierdie uitdagings plaas druk op die kernwaardes van ons samelewing."

Die president sê dit noop vir gesamentlike pogings en gedeelde verantwoordelikheid van al drie pilare van die regering om positiewe verandering in mense se lewens te skep.

"Hulle herinner ons aan die waarheid wat ek altyd noem: 'Ons is te min om arm te wees’.”

NATUURLIKE HULPBRONNE

Sy het verder die behoefte uitgelig dat Namibië se natuurlike hulpbronne verantwoordelik en volhoubaar gebruik moet word.

“Om waarde by ons produkte te voeg, behoort een van ons kernbeginsels te wees om ons ekonomie te stimuleer en te laat groei. Dit behoort ons toekomstige strategiese doel te wees om geleidelik op te hou om ons hulpbronne te ontgin sonder plaaslike waardetoevoeging.

"Verlede jaar het die regering die publiek versoek om wysigings aan enige van ons wette voor te stel om die behoeftes van ons mense op ’n omvattende wyse aan te spreek. Van die kritieke voorgestelde wysigings uit die publiek sluit dié in wat betekenisvolle nasionale voordeel uit ons hulpbronne sal verseker.

JEUG

Sy sê dit is daarom belangrik dat wanneer daardie wysigings na die parlement gebring word, dit met dringendheid oorweeg moet word. "Ons bly landbou, vervaardiging en die digitale ekonomie prioritiseer, waar jongmense tegnologiese vooruitgang benut om werk vir hulself en hul eweknieë te skep, terwyl fiskale dissipline gehandhaaf en inkomste-invordering versterk word,” het sy gesê.

[email protected]

 

Kommentaar

Republikein 2026-03-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer