Eerste minister betreur vermorsing van miljarde
Eerste minister Elijah Ngurare het die toename in onvoltooide kapitaalprojekte van die regering oraloor die land skerp gekritiseer.
Hy het dit as ’n “onbegryplike vermorsing” van openbare fondse beskryf en daarop aangedring dat daar ’n einde gemaak moet word aan die kultuur van straffeloosheid wat met dormante ontwikkelingsprojekte gepaardgaan.
In sy toespraak Woensdag tydens die uitvoerende direkteure se jaarlikse beraad in Swakopmund, het Ngurare gesê hy is verontrus oor die aantal onvoltooide projekte wat hy steeds tydens amptelike besoeke landswyd teëkom – waarvan sommige reeds meer as ’n dekade lank verlate staan.
“Ek is geskok wanneer ek sekere dele van die land besoek en onvoltooide en verlate kapitaalprojekte sien wat miljarde gekos het – waarvan sommige selfs so ver terug as 2012 dateer,” het hy gesê.
Hoewel talle van die projekte dateer uit die tydperk voor die huidige groep uitvoerende direkteure se ampstermyn, het hulle, volgens Ngurare, ’n verantwoordelikheid om dit wat hy as “’n nalatenskap van verkwisting en swak implementering” beskryf, die hoof te bied.
“Ja, dit was lank voor julle tyd as uitvoerende direkteure. Nietemin moet ons besorg wees oor hierdie onbegryplike vermorsing van openbare fondse,” het hy gesê.
Die eerste minister het projekte vir die bou van paaie, behuising, klaskamers, klinieke, hospitale en die boor van boorgate geïdentifiseer as van die ontwikkelings wat steeds uitstaande is, ten spyte van beduidende regeringsbelegging.
Hy het gesê hierdie projekte was daarop gemik om die lewens van gemeenskappe te verbeter deur toegang tot behuising, onderwys, gesondheidsorg en water uit te brei, maar staan nou eerder as sigbare herinneringe aan die regering se mislukking.
Ngurare het die verlate ontwikkelings as “onooglike vlekke” op die regering se diensleweringpogings beskryf en gesê dit het gemeenskappe se hoop vernietig en vertroue in die staatsdiens ondermyn.
“Sulke ekonomiese sabotasie vernietig hul drome. Die ergste is dat daar geen gevolge vir sulke verskriklike traagheid is nie. Dit moet stop,” het hy gesê.
Die eerste minister het gesê vorige praktyke moet onmiddellik laat vaar word en het uitvoerende direkteure uitgedaag om eienaarskap vir die verbetering van projekuitvoering te neem en om te verseker dat belastingbetalers waarde vir hul geld kry.
“Dit is ek en jy, hier vandag, wat daardie dapper besluit moet neem om sulke onvergeeflike vermorsing van openbare hulpbronne te beëindig,” het hy gesê.
Ngurare het die kwessie verbind aan president Netumbo Nandi-Ndaitwah se beroep op ’n staatsdiens wat ten doel het om in burgers se basiese behoeftes te voorsien deur middel van doeltreffende dienslewering.
Hy het die uitvoerende direkteure aangemoedig om amptenare vir swak prestasie verantwoordelik te hou en terselfdertyd erkenning te gee aan diegene wat uitblink.
Ngurare het gesê staatsamptenare moet nie struikelblokke vir ontwikkeling word nie.
“Ons behoort nie die oorsaak te wees van die trane wat ons mense elke dag in wanhoop en hopeloosheid stort nie.
“Ons behoort nie die rede te wees waarom daar nie huise, water, medisyne, paaie, klaskamers, klinieke, hospitale, sanitasie, elektrisiteit en ander noodsaaklike geriewe is nie,” het hy gesê.
Ngurare het verder gesê die regering kan dit nie meer bekostig om jaar na jaar met dieselfde implementeringsmislukkings te worstel nie.
Hy het staatsamptenare aangespoor om ’n uitkomsgerigte kultuur aan te neem wat op uitvoering eerder as slegs op beplanning fokus.
“Ons moet verander en ons uitvoeringskoers verbeter. Ons kan nie jaar na jaar oor dieselfde probleme kla nie. Ons het ’n uitkomsgerigte denkwyse dwarsdeur die staatsdiens nodig,” het Ngurare gesê.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie