Wie gaan Psemas se eise bestuur?
Die Maatskaplike Voorsorgkommissie (SSC) evalueer tans sy gereedheid en kapasiteit om die bestuur van eise van die staat se mediese fonds (Psemas) oor te neem. Die stappe volg na ’n opdrag van die kabinet.
Methealth Namibia Administrators wat die skema sedert 2004 bestuur, bly die huidige administrateur nadat sy kontrak met nog ’n jaar verleng is.
Volgens ’n interne kommunikasie onderteken deur die SSC se uitvoerende beampte Milka Mungunda op 28 Januarie en wat met personeel gedeel is, behels die proses gesprekke met hoëvlak rolspelers. Dit sluit ook die assessering van vermoë en kapasiteit in om te bepaal of die SSC die verantwoordelikheid vir die administrasie van eise kan oorneem.
“Hierdie ontwikkeling verteenwoordig ’n moontlike uitbreiding van ons mandaat en dienslewering. Dit bied ook geleenthede vir werksekerheid, die aanleer van nuwe vaardighede, moontlike nuwe loopbaanpaaie vir personeel, en die skep van werk vir Namibiërs in die breër sin,” het Mungunda gesê.
’n SSC-amptenaar wat verkies om naamloos te bly en Network Media Hub (NMH) na Mungunda verwys het, het bevestig dat gesprekke aan die gang is.
“Ons bespreek die saak en niks is nog gefinaliseer nie,” het die amptenaar gesê. Mungunda kon nie vir kommentaar op haar twee gelyste nommer bereik word nie. Hoewel interne SSC-kommunikasie daarop dui dat betrokkenheid reeds op institusionele vlak ver gevorder is, hou die regering vol dat die proses eerder evaluerend as finaal is. Enige oordrag van verantwoordelikhede sal afhang van die uitkoms van ’n haalbaarheidsassessering, bewese institusionele gereedheid en formele kabinetsgoedkeuring. Indien dit goedgekeur word, sal die oordrag van die administrasie van Psemas-eise ’n groot institusionele verskuiwing in Namibië se ontwerp vir maatskaplike beskerming verteenwoordig. Dit sal ook die SSC se mandaat verder as sy huidige omvang uitbrei. Volgens die interne inligting wat gedeel is, sal die skuif indien dit wel geïmplementeer word, die SSC ‘dieper’ in die administrasie van gesondheidsvoordele in die openbare sektor intrek. Die bestuur van eise is ’n kern-bedryfsfunksie wat die beoordeling van voordele, betalings, nakomings-toesig, datastelsels en kliëntedienste insluit.
Dit verg beduidende institusionele, tegniese en ook kapasiteit vir menslike hulpbronne. Die SSC het ook die stap bevestig om die Nasionale Mediese Voordelefonds (NMBF) in 2026 in bedryf te stel. Dit vorm deel van sy strategie om Namibië se maatskaplike beskermingsnet uit te brei. Die NMBF het ten doel om mediese voordele aan bydraers te verskaf, veral werkers wat nie voldoende deur private mediese hulpskemas gedek word nie.
Die SSC erken dat die uitrol van die NMBF bedryfs- en institusionele uitdagings meebring. Die proses word egter gesien as ’n geleentheid om veerkragtigheid te bou, interne kapasiteit te ontwikkel en dienslewering te verbeter.
KABINET
Die ministerie van finansies se woordvoerder Wilson Shikoto het bevestig dat die kabinet net die ministerie en relevante rolspelers opdrag gegee het om die SSC se lewensvatbaarheid en vermoë te verken en te beoordeel om eise vir die skema te administreer en te bestuur.
Shikoto het beklemtoon geen formele besluit is geneem dat die SSC beheer oor Psemas moet oorneem nie.
“Ek is bewus van die studie om te kyk of die SSC die fonds kan bestuur,” het Shikoto gesê. Hoewel hy nie ’n presiese syfer kon gee nie, het hy gesê die Psemas-begroting oorskry N$1 miljard.
Die kabinet se riglyn kom te midde van voortgesette onsekerheid oor verkryging van die administrasie van Psemas.
Die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië het in September 2025 ’n tender gesluit vir ’n voorgestelde administrasieperiode van vyf jaar. Ses maatskappye – Prosperity Health, Cimco Health, Methealth, Medscheme en Methealth Namibia Administrators – het aanbiedinge ingedien. Volgens Shikoto duur die verkrygingsproses steeds voort.
ONSTUIMIG
Psemas het ’n lang en omstrede verkrygingsgeskiedenis. In April 2019 het die destydse finansminister Calle Schlettwein, aangekondig dat die kontrak om die skema te administreer met ’n jaar verleng tot 31 Maart 2020 verleng is. Teen die einde van Maart 2020 was die tenderproses steeds nie afgehandel nie, wat tot ’n verdere korttermyn-verlenging van die kontrak gelei het. Op 4 Junie 2020 is die Psemas-administrasietender, verwysingsnommer NCS/ONB/CPBN-03/2020, uiteindelik geadverteer met ’n sluitingsdatum van 22 Julie 2020. Dit was toe wat ernstige kommer oor die proses kop uitgesteek het. In Julie 2020 het Republikein berig dat een van die potensiële bieërs, Prosperity Health se Bertus Struwig, kommer oor die tender se ontwerp geopper het. Struwig het beweer dat die spesifikasies so gestruktureer is dat dit die sittende administrateur, Methealth Namibia Administrators, bevoordeel. Die bewerings het op moontlike korrupsie in die tender-ontwerpstadium gedui, en vrae laat ontstaan oor of die proses so ingerig is om te verseker dat die kontrak aan ’n spesifieke firma toegeken word. In Desember 2020 het die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië die tender vir die administrasie van Psemas gekanselleer. Dit nadat bevind is dat bieërs grootliks nie aan die vereistes van eienaarskap soos vervat in die openbare verkrygingswet voldoen het nie.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie