Foto ter illustrasie/UNSPLASH
Foto ter illustrasie/UNSPLASH

Wat ’n praktyk kos

Jaarlikse totale salarisuitgawe van N$123 m.
Die bedryfskoste vervat in die verslag verwys net na die lopende oorhoofse uitgawes en sluit spesifiek die praktisyn se salaris, toerustingkoste en swak skuld uit.
Henriette Lamprecht

Die bedryf van ’n private mediese praktyk in Namibië stel beduidende finansiële eise, met personeelsalarisse wat oor alle dissiplines heen as die grootste en mees konstante kostedrywer na vore kom. 

Die inligting is vervat in ’n studie deur HealthMan wat deur die Namibië Private Praktisynsforum (NPPF) opdrag gegee is om ’n kostestudie vir praktyke uit te voer. 

Die opname moes insae bied in die werklike koste wat geassosieer word met die bedryf van ’n mediese of verwante praktyk oor ’n breë geografiese en sosioëkonomiese spektrum. 

Die bedryfskoste vervat in die verslag verwys net na die lopende oorhoofse uitgawes en sluit spesifiek die praktisyn se salaris, toerustingkoste en swak skuld uit. 

Die opname is aan alle NPPF-lede gestuur, met ’n totaal van 67 praktyke, 120 gesondsheidsberoepslui en 568 personeelposte wat deel van die opname gevorm het. Die praktyke en poste verwys spesifiek na die verslag se opname vir salarisse, met die poste se jaarlikse totale salarisuitgawe wat N$123 miljoen beloop. 

Vir die breër finansiële kostestudie self was die deelname selfs hoër, met 174 praktyke uit ’n bevolking van 211 wat op die opname gereageer het en wat die studie statisties verteenwoordigend maak.

Volgens die studie dra oorhoofse uitgawes, toerusting en versekering verdere gewig, maar personeelkoste oorheers praktyke se begrotings. Dit weerspieël, volgens die studie, beide die afhanklikheid van vaardige personeel en die opwaartse aanpassing wat vir Namibiese arbeidsmarkte vereis word. 

“Hierdie resultate beklemtoon die finansiële druk waarmee praktisyns te kampe het om bedrywighede vol te hou en beklemtoon die noodsaaklikheid van akkurate kostemodellering om beleide te rig, billike vergoeding te verseker en die langtermyn-lewensvatbaarheid van private gesondheidsorgvoorsiening in Namibië te beskerm,” lui die verslag.

Buiten vir ’n algemene praktisyn se salaris, is personeelkoste die grootste uitgawe en wel 22,6% van ’n praktyk se uitgawe. Dit word gevolg deur oorhoofse uitgawes van die perseel, asook finansierings- en versekeringskoste, wat onderskeidelik 5,7% en 5,1% beloop.

Praktykbestuur- en administratiewe koste word deur sagteware en kommunikasie (telefoon, drukwerk ens.) gedryf, wat weer op hul beurt deur die administrasie van mediese fondse gedryf word. 

Die meeste algemene praktisyns bestee, volgens ’n opname oor die omvang van praktyke, meer as ’n uur per dag aan hierdie administrasie. 

Persele word grootliks deur hoë huurkoste gedryf, met die gemiddelde bedryfskoste (totale praktyk-, oorhoofse, toerustingkoste en swak skuld), wat volgens die studie, die hoogste in Swakopmund is en die nasionale gemiddeld met 46,2% oorskry. 

Oor die algemeen kan die gemiddelde bedryfskoste vir ’n praktyk met 13,4% van die een praktyk na ’n ander wissel, volgens die studie. 

Volgens die studie beloop die praktykkoste vir verwante gesondheidsdienste sowat N$2,7 miljoen per jaar, wat ’n markverwante salaris, personeel en huur insluit. 

Personeelkoste vir chirurgiese mediese dissiplines is sowat 42% hoër as dié van ’n konsulterende mediese spesialis. 

Volgens die studie beloop die gemiddelde bedryfskoste vir 'n mediese spesialis – insluitend sy of haar salaris – sowat N$4,5 miljoen per jaar.

Die gemiddelde tandarts se totale praktykkoste is bepaal op N$3,1 miljoen jaarliks, ingesluit die tandarts se salaris.

Die NPPF het in 2013-’14 ook ’n kostestudie vir beperkte dissiplines aangevra, met die uitslae wat daartoe gelei het dat sekere dissiplines ’n beduidende verhoging gekry het. 

Die verhoging is deur alle mediese fondse aanvaar en is steeds van toepassing as ’n basis vir die bepaling van tariewe vir mediese fondse in Namibië. 

Die omvang van die jongste studie sluit nie die bepaling van vergoeding vir ’n dokter of ander dissiplines in nie, weens die veranderinge in wette en regulasies wat die publikasie van hierdie data verbied. 

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer