Wanvoeding: 35 sterf in Erongo
Vyf-en-dertig kinders jonger as vyf jaar het tussen Januarie 2024 en Julie 2026 in die Erongostreek gesterf, nadat hulle weens wanvoeding in die hospitaal opgeneem is.
Die syfers is Donderdag tydens die streekraad se 370ste gewone vergadering in Swakopmund deur Tuyenikelao Mwashekele, die hoofbeampte vir gesondheidsprogramme in die afdeling vir gesinsgesondheid van die Erongo-direktoraat vir gesondheid, voorgelê.
Volgens die voorlegging is 192 kinders in 2024 opgeneem, van wie 18 gesterf het. In 2025 is 163 opgeneem en tien is oorlede. Van Januarie tot Julie vanjaar is 95 opgeneem en is sewe oorlede.
“Dit is werklik nie goeie syfers nie,” het Mwashekele gesê.
“Ten spyte van alles wat Erongo bied – die myne, die uitgestrekte oseane en pragtige plase – behoort ons nie ’n kind aan wanvoeding te verloor nie, want dit kan ons toekomstige raadslede, dokters en dies meer wees,” het sy gesê.
Gesondheidsgeriewe in die streek het in 2024 wanvoeding by 939 kinders jonger as vyf jaar en by 1 126 kinders in 2025 gediagnoseer. Nog 418 gevalle is van Januarie tot Julie vanjaar gediagnoseer.
’n Nasionale opname in 2024 het chroniese wanvoeding, of groeivertraging (stunting) in Erongo op 26,6% geplaas – ’n koers wat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) as hoog klassifiseer. Die koers vir akute wanvoeding (wasting) was 2,5%.
Mwashekele het gesê groeivertraging lei tot vertraagde geestelike ontwikkeling, swak skoolprestasie en verminderde intellektuele vermoë.
“Sommige gevolge van wanvoeding kan nie omgekeer word nie,” het sy gemaan.
Die Usakos-distrik het die hoogste voorkomssyfer in verhouding tot sy bevolking van kinders jonger as vyf jaar aangeteken: 7,2% in 2024, 5,3% in 2025 en 4% tot dusver vanjaar. Die Swakopmund-distrik het 5,6% in 2024 en 3,5% vanjaar aangeteken.
Volgens Mwashekele bly Swakopmund en Usakos die direktoraat se prioriteit. In die Swakopmund-distrik kom die meeste gevalle uit die informele nedersetting DRC, Mondesa en Hentiesbaai.
Op Walvisbaai is die hoogste voorkomssyfers in die informele nedersettings Twaloloka, Otweya en Tutaleni. In die Usakos-distrik is gevalle gekonsentreer op Karibib, Hakhaseb en Otjimbingwe. Op Omaruru kom gevalle van wanvoeding hoofsaaklik in die dorp self en op Omatjete en Okombahe voor.
Mwashekele het gesê 77% van babas jonger as ses maande is in 2024 en 2025 uitsluitlik geborsvoed. Van Januarie tot Julie vanjaar het dié persentasie tot 73% gedaal.
Sy het swak babavoeding, die vroeë bekendstelling van vaste kos, huishoudelike armoede, voedselonsekerheid, swak sanitasie, kindersiektes en die beperkte toegang tot gesondheidsdienste as oorsake geïdentifiseer. Erongo beskik oor 18 klinieke, twee gesondheidsentrums, vier distrikshospitale en 304 uitreikpunte.
Mwashekele het ’n beroep op streek- en plaaslike owerhede gedoen om skoon water en sanitasie te voorsien en huishoudelike tuine te bevorder. Sy het skole en sentrums vir vroeë kinderontwikkeling versoek om voedingsvoorligting en voedingsprogramme te verskaf.
Hendrina Gebhardt, raadslid vir die Omaruru-kiesafdeling, het op haar beurt versoek dat die voorlegging vir verwysingsdoeleindes beskikbaar gestel word.
“Ons moet ook vasstel of daardie uitdagings die werklike situasie op die grond weerspieël,” het sy gesê.
Victor Maswahu, raadslid vir die Swakopmund-kiesafdeling, het voorgestel dat die raad die verslag in detail bespreek om ’n besluit oor moontlike ingrypings te neem.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie