Wanneer jou brein anders werk

Dit beteken nie jy wil nie of jy kan nie
Aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsteuring (ADHD) is ’n breinverskil wat jou aandag, impulskontrole en uitvoerende funksies beïnvloed.
Henriette Lamprecht

As iemand wat eers as volwassene met aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsteuring (ADHD) gediagnoseer is, het sy baie begrip vir die impak daarvan op die individu, verhoudings en alledaagse lewe.

En hoewel Leonie Prinsloo, ’n gesertifiseerde ADHDafrigter, ’n passie het om vroue te help, is haar fokus gerig op die bou van algemene strukture – hetsy dit die vrou self, haar maat, of kinders is wat met ADHD leef. 

Leonie verduidelik sy werk aanvullend tot die kliniese proses.

“Terwyl mediese praktisyns fokus op die individu se diagnose en terapie, stap ek langs my kliënte om ’n ondersteunende omgewing te help bou waarin hulle en hul geliefdes kan floreer.”


JOU BREIN WERK ANDERS

ADHD is ’n breinverskil wat jou aandag, impulskontrole en uitvoerende funksies beïnvloed. Dit beteken nie jy wil nie of jy kan nie, dit beteken jou brein werk anders, verduidelik Leonie. 

Jy het dus ondersteuning en strategieë nodig wat by daardie werking pas. 

“Baie volwassenes of ouers ontdek self eers later in hul lewens dat hulle ook daarmee leef, so dit is beslis nie iets wat net by kinders gediagnoseer word nie.”

Dit is baie belangrik om die regte kanale te volg om ’n diagnose te kry, beklemtoon sy. 

“In Namibië is ADHD-diagnose tipies deel van die werk van spesialiste soos psigiaters en kliniese sielkundiges en vorm gewoonlik deel van ’n multidissiplinêre benadering.”


AFRIGTING VS TERAPIE

Mediese praktisyns en terapeute doen wonderlike werk om die kliniese kant van ADHD te hanteer, sê Leonie. Hulle help die individu met diagnose, hoe die brein werk, medikasie, emosionele en sielkundige ondersteuning. 

’n ADHD-afrigter aan die ander kant is die praktiese brug wat help om die hier-en-nou- uitdagings met ADHD in werkbare stappe op te breek, ondersteuning te bied om keuses te maak wat prakties werk, sowel as om die voort te bou op reeds bestaande sterk punte. 

“Afrigters kan nie diagnoses maak nie en werk ook glad nie met die mediese of sielkundige kant van ADHD nie,” beklemtoon Leonie.


DIE HART VAN DIE HUIS

Leonie se nismark is baie spesifiek op vroue en die algehele gesinstelsel gerig. Op die vraag waarom die huisomgewing en gesinsdinamika so deurslaggewend is wanneer dit by ADHD kom, is haar antwoord eenvoudig - ’n vrou is die hart van die huis. 

“Sy skep atmosfeer, en iets wat ons dalk nie altyd raaksien nie, dikwels is sy ook die een wat stelsels en struktuur in plek sit.”

Met ADHD is dit baie belangrik dat daar maniere is om hierdie struktuur duidelik en konsekwent deur te voer, verduidelik sy. 

“Dit moet voor die hand liggend wees en sin maak vir almal in die huishouding om werklik ondersteuning te kan bied en dit suksesvol te kan vestig.”

Mense met ADHD het ’n gestruktureerde omgewing nodig wat hul uitvoerende funksies ondersteun, sê Leonie. 

Die atmosfeer in die huis moet veiligheid bied vir nodige emosionele regulering. Dit is ook belangrik dat die gesin as geheel ’n goeie begrip het van wat ADHD is, om mekaar beter te kan verstaan en te kan ondersteun.


STUKKIES VAN DIE LEGKAART

Oor haar eie diagnose beklemtoon sy dit is nooit te laat nie. 

“Daar is beslis hoop met so ’n diagnose. Dit kan baie oorweldigend voel en daarom is dit so belangrik om die regte ondersteuning te hê.”

Vir Leonie was haar diagnose ’n ‘eureka’-oomblik en het dit “soveel stukkies van die legkaart oor baie dinge in my verlede in plek laat val”. 

Almal se ervaring van so ’n diagnose is egter nie dieselfde nie, beklemtoon sy. Daarom dat dit veral belangrik is om die regte kliniese ondersteuning te kry om deur die verskillende emosies te werk en by selfaanvaarding te kan uitkom.

“As gevolg van my diagnose, verstaan ek vir die eerste keer in my lewe hoe my brein werk. Ek hoef dus nie meer teen my eie brein te veg nie en daarom kan ek meer genade hê met myself.”


JY IS NIE ALLEEN NIE

Om met ADHD saam te leef kan werklik baie oorweldigend en uitdagend wees, erken Leonie. Veral wanneer jy probeer om elke dag met min struktuur en min ondersteuning “net te oorleef”. 

Hoop lê egter daarin dat jy nie alleen hoef te sukkel nie en dat daar ’n pad vorentoe is deur diagnose, ’n multidissiplinêre benadering en praktiese hulpmiddels wat by jou lewe en jou gesin pas. 

“Met die regte ondersteuning kan die gevoel van totale oorweldiging geleidelik plek maak vir duidelikheid, verstandige roetines en genade vir jouself,” beklemtoon sy.

Leonie is as afrigter vir aanlyn sessies van 45 minute lank oraloor die land en ook vir opleidingsessies vir klein groepe beskikbaar. 

Vir meer besonderhede, kontak Leonie by 081 129 1667 of volg haar Facebookblad Thrive ADHD Coaching waar sy gereeld waardevolle inligting en artikels deel.

– [email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-09-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer