Die verlate perseel waar die distrikshospitaal op Nkurenkuru jare gelede al sy verskyning moes maak. FOTO ARGIEF
Die verlate perseel waar die distrikshospitaal op Nkurenkuru jare gelede al sy verskyning moes maak. FOTO ARGIEF

Waar is die hospitaal? vra oudstaatspresident

Vandale dra heining weg
Die regering wil nou kyk of 'n private-openbare-vennootskap die oplossing is vir die bou van 'n distrikshospitaal op Nukurenkuru wat al tien jaar gelede gebou sou word.
Phillipus Josef
Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het bevestig voorlopige werk is reeds op die terrein van ’n beplande hospitaal op Nkurenkuru gedoen, maar daar is op ’n ander ligging besluit.

“Op die grond wat vir die konstruksie van die hospitaal toegeken is, is die omheining van die grond voltooi en boorgate is gevestig.

“Die tender vir die bou van die hospitaal is toegeken, maar dit is na ’n ander perseel verskuif om opeenhoping in die toekomstige hospitaal se afdeling vir buitepasiënte te voorkom,” het die ministerie gesê.

Volgens die ministerie is die vorige kontrakteur se kontrak in 2019 gekanselleer aangesien niks gedoen is nie en ’n nuwe kontrakteur is ingebring om die hospitaal te voltooi.

“Die begrote bedrag is dus vir hierdie doel aangewend,” het die ministerie gesê en bygevoeg dat daar voortdurende konsultasies met die ministerie van finansies is om die lewensvatbaarheid van ’n openbare-private-vennootskap (PPP)-model te ondersoek.

Terwyl die ministerie die druk op bestaande dienste erken, het die ministerie beklemtoon hy gaan voort om bestaande geriewe te versterk deur verbeterde toerusting, voorrade, personeel, uitreikprogramme, asook die opgradering van infrastruktuur.



ANTWOORDE

Die ministerie se reaksie volg op skerp kritiek deur die voormalige president Hifikepunye Pohamba die afgelope naweek tydens Nkurenkuru se sesde jaarlikse geldinsamelingsgala.

“Ek wil vanaand graag die leierskap van die streek, insluitend die Nkurenkuru-dorpsraad, vra om my in te lig oor die konstruksie van die Nkurenkuru-distrikshospitaal waarvoor ek die sooispitseremonie in 2014 gehou het.

“Wat gebeur werklik met hierdie projek en waarom het julle my die sooispitseremonie laat doen, terwyl die konstruksie tot vandag toe nog nie begin het nie? Hoekom?” het Pohamba sigbaar gefrustreerd tydens die geleentheid gevra.

Hy het ’n dringende beroep op die nuwe regering onder leiding van president Netumbo Nandi-Ndaitwah en eerste minister Elijah Ngurare gedoen om te verseker dat die projek, wat meer as tien jaar gelede afgeskop het, finaal en uiteindelik van die grond af kom.



BELOFTE

Die distrikshospitaal was bedoel om duisende inwoners van Kavango-Wes te bedien, van wie talle nog lang afstande moet reis om toegang tot basiese en noodgesondheidsdienste te verkry.

’n Ondersoek in 2023 het getoon ten spyte van die feit dat N$6 miljoen bestee is om die perseel te omhein, die infrastruktuur sedertdien onder vandale deurgeloop het.

’n Besoek in 2019 deur die voormalige minister van gesondheid, dr. Kalumbi Shangula, het ook die verval en gebrek aan vooruitgang uitgelig.

In dieselfde jaar het die ministerie gesê ’n lewensvatbaarheidstudie is voltooi en die nuwe hospitaal se ontwerp sou toe daarby ingesluit word. Geen betekenisvolle vooruitgang het egter tot op hede nog gevolg nie.



GEBREK AAN INFRASTRUKTUUR

In Februarie is ’n raadslid van die Kapako-kiesafdeling, Johannes Karondo, aangehaal waar hy gekla het oor die gebrek aan infrastruktuur vir gesondheidsdienste.

“Sommige inwoners loop tot 30 kilometer om by ’n kliniek uit te kom. Nie ’n enkele gesondheidsgerief is al hier gebou sedert ek in 2016 deel van hierdie kantoor geword het nie,” het hy gesê.

Die Kapako-kiesafdeling het tans net vier geriewe wat sowat 28 000 mense moet bedien en wat dit volgens die 2023-bevolkingsensus die kiesafdeling in die streek maak wat die minste dienste het.

Inwoners van Nkurenkuru het intussen hul frustrasie met die uitgerekte en voortgesette vertraging in die konstruksie van die hospitaal uitgespreek.

“Hulle het ons ’n hospitaal belowe, maar al wat ons het, is ’n stukkende heining en ’n oop stuk grond,” het Rosalia Kandonga, ’n pensioenaris, gesê.

“Wanneer iemand in die nag siek word, is daar niks hier nie. Ons moet of Rundu toe ry, of maar net bid,” het Moses Kamonga, ’n plaaslike taxibestuurder gesê.

“Ons voel verwerp.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer