Vrae oor dood van vroeggebore baba
Die familie van ’n pasgebore babadogtertjie wat dood is ná twee weke in die staatshospitaal op Rundu, wil ’n siviele eis teen die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste weens beweerde nalatigheid instel.
Sy het na bewering tydens geboorte ’n snywond aan haar kop opgedoen.
Volgens haar oupa, Johannes Kasera, was daar glo beweerde nalatigheid tydens die geboorte van sy kleindogter. Sy is op 14 Augustus vanjaar in die staatshospitaal gebore waar sy tot met haar dood op 28 Augustus gebly het.
Haar 19-jarige ma, Anna Kasera, beweer haar dogtertjie het ’n snywond tydens haar geboorte opgedoen waarvan sy aanvanklik nie in kennis gestel is nie. Sy het glo ook nie geweet waarheen haar dogtertjie na haar geboorte geneem is nie.
Johannes sê hy het vroeg in Augustus van Walvisbaai gereis in afwagting van die geboorte van sy kleindogter, maar die familie se opgewondenheid het gou in skok en teleurstelling verander.
Volgens hom wil die familie hê dat die omstandighede rondom sy kleindogter se besering en daaropvolgende dood behoorlik ondersoek word.
Anna se ouma het haar op 14 Augustus omstreeks 11:00 na die staatshospitaal geneem, nadat sy kraampyne ervaar het. Sy het teen 13:00 in kraam gegaan en kort daarna geboorte aan haar dogtertjie geskenk.
Volgens haar is sy ná die bevalling deur mediese personeel behandel en later teater toe geneem. Sy het omstreeks 16:00 wakker geword en is na ’n ander kamer geskuif. Volgens haar het niemand vir haar gesê waar haar baba was en dat sy ’n besering tydens die bevalling opgedoen het nie.
Dit was eers nadat haar ma haar vroeg die volgende oggend gebel en gevra het of sy die baba gesien het, dat sy na haar dogtertjie gaan soek het.
Anna het gesê sy het haar uiteindelik in die neonatale eenheid vir vroeggebore babas gevind. Tydens ’n besoek van haar pa het ’n vrouedokter hulle glo genader en gevra of hulle die wond aan haar dogtertjie se kop gesien het.
Sy kon nie die rede vir die wond verduidelik nie, omdat sy nie tydens die geboorte van Anna se dogtertjie teenwoordig was nie.
Volgens Anna was haar dogtertjie se kop en oë geswel en het sy gesukkel om haar oë oop te maak. Sy het na bewering herhaaldelik probeer om antwoorde by die mediese personeel oor die snywond te kry.
Sy is uiteindelik meegedeel dat haar dogtertjie na bewering per ongeluk tydens die bevalling raakgesny is, omdat sy (Anna) “beweeg” het. Volgens die mediese personeel was die sny glo nie diep nie.
Die swelling aan haar babadogtertjie se gesig het mettertyd gesak en sy kon haar oë oopmaak. Sy het egter twee weke ná haar geboorte in die hospitaal gesterf. Anna het na bewering eers berading van ’n maatskaplike werker ontvang nadat sy daarvoor gevra het.
Die woordvoerder van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, Walters Kamaya, by navraag gesê geen bewerings van nalatigheid word ondersoek nie en geen formele klag is deur die familie gelê nie. ’n Ondersoek word eers van stapel gestuur wanneer ’n formele klag ingedien word.
Kamaya het gesê die hospitaal se kliniese rekords toon dat die dogtertjie op 14 Augustus vroeggebore is en daarna in die neonatale eenheid vir gespesialiseerde sorg opgeneem is.
’n Skeurwond aan haar kopvel was deel van die kliniese bevindinge wat ná haar geboorte aangeteken is. Die rekords dui dit egter nie aan as die oorsaak van haar dood nie.
Volgens die hospitaal se beskikbare mediese rekords word haar dood toegeskryf aan komplikasies wat met haar vroeggeboorte en ander mediese toestande verband hou.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie