Voorkoming is beter as genesing
Wêreldwyd word die fokus al hoe meer op voorkomende gesondheidsorg geplaas namate gesondheidstelsels op die groeiende las van chroniese siektes en die finansiële druk van laat diagnose reageer.
Dié benadering fokus op die voorkoming en opsporing van siektes vroegtydig voordat ernstige komplikasies intree.
Volgens navorsing in die openbare gesondheidsektor verwys voorkomende sorg na mediese dienste wat ontwerp is om siektes te voorkom of vroeë diagnose moontlik te maak. Dié dienste sluit roetine-ondersoeke, siftingstoetse, inentings en gesondheidsvoorligting in.
Navorsing oor voorkomende medisyne beklemtoon dat sifting ’n sleutelrol in vroeë diagnose speel.
“Roetine-ondersoeke identifiseer moontlike gesondheidsprobleme voordat dit ernstig word,” skryf Paul Lushniak van die Universiteit van Maryland in ’n studie oor voorkomende gesondheidsorg.
Talle chroniese siektes ontwikkel oor jare sonder merkbare simptome. Toestande soos kardiovaskulêre siektes, diabetes en sekere kankers kan ongemerk vorder totdat dit ’n gevorderde stadium bereik. Gereelde sifting en gesondheidsondersieke kan egter risikofaktore identifiseer voordat ernstige komplikasies ontwikkel.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) beskryf sifting as ’n proses om individue met verhoogde gesondheidsrisiko’s binne ’n oënskynlik gesonde bevolking te identifiseer.
Volgens die organisasie is die doel van sifting “om mense met ’n hoër risiko vir ’n gesondheidsprobleem te identifiseer sodat vroeë behandeling aangebied kan word”. Dié vroeë opsporing maak dit moontlik vir gesondheidswerkers om behandeling of verandering in leefstyl betyds in te stel. Akademiese navorsing toon dat konsekwente betrokkenheid by gesondheidsifting ’n beduidende impak kan hê op hoe pasiënte gesondheidsorg gebruik en siektes bestuur.
Volgens ’n studie in die Journal of Primary Care and General Practice speel sifting “’n sleutelrol in moderne voorkomende medisyne” deur vroeë diagnose en beter siektebestuur moontlik te maak.
Vroeë opsporing word veral belangrik in die konteks van kankerdiagnoses. Studies toon dat die oorlewingsyfers aansienlik verbeter wanneer siektes vroegtydig geïdentifiseer word. Navorsing oor die diagnose van borskanker toon byvoorbeeld dat die meerderheid gevalle wat vroeg opgespoor word, ’n oorlewingsyfer van ongeveer 99% kan hê.
Voorkomende gesondheidsprogramme kan ook ’n impak hê op hospitalisasies en die druk op gesondheidstelsels. ’n Akademiese studie oor voorkomende sorg en die risiko van hospitalisasie het bevind dat pasiënte wat gereelde voorkomende sorg ontvang, ’n beduidende vermindering in dié risiko kan toon. Volgens die studie kan konsekwente voorkomende sorg die risiko van hospitalisasie met meer as ’n derde verminder.
Gesondheidstelsels fokus toenemend op hierdie proaktiewe benadering omdat chroniese siektes wêreldwyd ’n groot las inhou. Nie-oordraagbare siektes soos hartsiektes, kanker, diabetes en chroniese respiratoriese toestande is vandag die grootste oorsake van sterftes wêreldwyd en vereis dikwels langdurige behandeling en toesig.
In Namibië vorm chroniese siektes ook ’n beduidende deel van die land se gesondheidsuitdagings. Volgens ’n voorlegging deur die National Health Plan (NHP) se hoofbeampte, Dantago Garosas, is chroniese siektes verantwoordelik vir ongeveer 43% van sterftes in die land.
Die voorlegging benadruk dat voorkomende strategieë daarop gemik is om gesondheidsrisiko’s vroeg te identifiseer.
“NHP se strategie fokus op die voorkoming van siektes en die vroeë opsporing van gesondheidsprobleme eerder as om dit eers te behandel wanneer dit reeds ontstaan het,” luidens die dokument.
Die laat diagnose van chroniese siektes kan gesondheidsuitkomste vererger en die koste van behandeling verhoog. Wanneer siektes eers in ’n gevorderde stadium geïdentifiseer word, vereis behandeling dikwels meer ingewikkelde mediese ingrypings en langtermyn-medikasie.
Chroniese siektes het ook ekonomiese gevolge. Volgens die NHP-aanbieding kan chroniese siektes produktiwiteit in die werkplek aansienlik beïnvloed, met beramings dat dit produktiwiteit met ongeveer 32% kan verminder.
Voorkomende gesondheidsprogramme sluit dikwels die bepaling van gesondheidsrisiko’s asook roetine-sifting en welstandsprogramme in. Dié programme kan toetse vir bloeddruk, cholesterol, diabetes en sekere kankers insluit. Welstandsdae in die werkplek word ook gebruik om werknemers toegang tot basiese gesondheidstoetse en -konsultasies te gee.
Navorsing toon dat sulke siftingsprogramme ’n belangrike rol in die vroeë opsporing van siektes kan speel.
Volgens akademiese literatuur oor openbare gesondheid help gereelde sifting om siektes vroeër te identifiseer en behandeling betyds te begin, wat die kans op die suksesvolle bestuur van die siekte verhoog.
Voorkomende inisiatiewe sluit ook programme vir geestesgesondheid en chroniese siektebestuur in. Hierdie programme fokus op die monitering, ondersteuning en gesondheidsvoorligting om komplikasies te voorkom en pasiënte te help om hul toestande beter te bestuur.
Openbare gesondheidskommunikasie speel ook ’n rol in die bevordering van voorkomende gesondheidsorg. Volgens die NHP-voorlegging kan mediavennootskappe help om openbare bewustheid te verhoog en vroeë sifting en gesondheidskontroles te normaliseer.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie