Vir 'n wyle in hul skoene (Deel 4)

Die kronkelpad van kanker
Republikein stap vandeesmaand die pad saam met Namibiërs wat op welke manier ook al deur kanker geraak is.
Henriette Lamprecht
Sy het geleer om altyd positief te wees, want ’n vrou is iemand na wie haar familie en gemeenskap opkyk, sê Josephine Eises (54) van Katutura.

Net meer as ’n jaar gelede in September 2021 is Josephine ná ’n biopsie met borskanker gediagnoseer en het dadelik met chemoterapie begin.

Sy erken die pad was nie maklik nie, “omdat ek altyd na beter dae uitsien”. Josephine het egter haar diagnose met ’n “kerkmaatjie” gedeel wat dadelik saam met haar begin bid het.

Dit het haar laat moed skep en haar raad is om voluit te lewe. “As jy vaskyk teen jou omstandighede, sal die lewe jou in ’n hoek vasdruk.”

MARTHA

Toe sy nege jaar gelede met fase 3 borskanker gediagnoseer is, het Martha Angolo gedink haar wêreld gaan verkrummel.

Danksy emosionele steun van haar dokter, familie en vriende, aangevuur deur haar vasberadenheid om te leef om ander met kanker aan te moedig en deur haar geloof dat God haar sal dra, is Martha vandag ’n lig in vele kankerlyers se lewe.

Sy erken die begin van haar reis was nie maklik nie, maar sy het bewustelik hoop bo vrees gekies en geglo saam met God is alles moontlik. Die chemoterapie was “aaklig” en haar “kaal kop” was moeilik om te aanvaar.

’n Mastektomie en bestraling het ook gevolg; ook later ’n oordrag van vel wat van haar bobeen verwyder is omdat die wond waar nog kliere uitgehaal is, nie wou heel nie.

Die les wat sy geleer het, is om te aanvaar, aan te pas en oop te wees sodat ander jou kan help.

“Ek het geleer daar sál ’n dag ná ’n lang nag wees as jy vertroue en hoop het.”

Haar raad aan vroue is om hul situasie te aanvaar, ander toe te laat om te help, hul storie te deel en nooit afsprake by hul dokters mis te loop nie.

QUINTEN

Quinten Potgieter moes twee keer die kankerpad saam met sy ma Barbara stap, eers met borskanker en ’n jaar later met limfkanker. Hy was by toe die spesialis die nuus aan haar oordra en sy eerste reaksie was “ons gaan teen dit veg en hierdeur kom!”

“My ma was ongelooflik deur die hele proses. Sy het geweier om toe te laat dat die kanker haar positiewe uitkyk op die lewe beïnvloed.”

Quinten erken daar is nie ’n ‘handboek’ vir dié tipe situasies nie, maar as ’n familie het hulle die kanker “erken”, maar nie toegelaat dat dit sentraal in hul lewens staan nie.

Natuurlik is daar vrees en woede en daar is oomblikke deur die proses waar jy hulpeloos voel, erken hy.

“Wanneer jy vir iemand lief is, is jou begeerte om enige pyn en siekte van hul weg te neem. Die onvermoë om dit te kan doen, is die ergste.”

Vir hulle as familie was dit baie belangrik om steeds voort te gaan om die lewe te vier.

Sy grootste les wat hy geleer het, is dat die lewe kosbaar is en dat niks as vanselfsprekend aanvaar moet word nie.

“Ons vermoë om te kies hoe ons op enige traumatiese gebeurtenis reageer, is iets wat niks en niemand van ons kan wegvat nie. Ongeag watter geloof jy aanhang, om nie vertroue te verloor nie en met vaste vertroue in die aangesig van teenspoed te staan, is ons grootste geskenk as mensdom. In alle oomblikke het ons ’n keuse.”

Met sy ma wat twee keer teen kanker moes baklei, het sy telkens die lewe gekies, sê Quinten.

“Met haar as rolmodel, hoe kan ek nie nederig my plek langs haar inneem, vas staan en eggo wat sy sê en glo nie?”

Sy beste raad is om ’n “ware man en weerloos” te wees.

“Jy kan dit nie regmaak nie, maar jy kan ’n bron van lig en ondersteuning wees. Deel jou gevoelens, vrese en woede. Nie een van julle het die antwoorde nie, maar julle sal verenig om saam teen dit te baklei.”

SHARLENE

Dit was ’n geweldige moeilike tyd toe Sharlene Bergh in 2003 op die ouderdom van 37 met borskanker gediagnoseer is. Sy erken sy het van haar vriende onttrek en het steun by die ondersteuningsgroep van die Kankervereniging van Namibië (CAN) gevind.

Die grootste les vir haar was om nie oor die toekoms bekommerd te wees nie, sê Sharlene. Sy maan vroue om hulle nooit na “dokter Google” te wend nie, maar eerder na hul dokter te luister wat die beste weet.

HILLERY

Toe sy in Mei verlede jaar met borskanker gediagnoseer is, vier jaar nadat haar ma aan dieselfde siekte gesterf het, was sy verpletter en het vrees oorgeneem, sê Hillery /Goagoses. Sy was ook bang om die nuus aan haar bejaarde pa en haar twee seuns oor te dra.

Toe sy die onkologiedepartement binnestap, het die herinneringe aan haar ma se laaste week haar oorweldig en het sy haar trane agter haar masker weggesteek.

Die eerste chemoterapie se uitwerking was verwoestend en Hillery het dit moeilik gevind om die nagevolge vir haar seuns weg te steek. ’n Week later het sy Covid-19 opgedoen, wat vir haar soos ’n “doodsvonnis” gevoel het.

“Ek was kwaad vir God; dit het gevoel asof Hy my straf.” Elke derde week moes sy uit Swakopmund na Windhoek reis vir chemo wat haar vir ’n paar dae bitter siek gemaak het. Haar hare het uitgeval en sy het ’n veluitslag op haar hande en voete ontwikkel. Sy erken sy was ’n emosionele wrak en het haar selfvertroue verloor, maar het begin om haar situasie te aanvaar en te veg, om haar seuns se onthalwe.

Maande later kry Hillery die nuus dat sy skildklierkanker het. Dié nuus het sy van haar seun weerhou. Sy besluit ook om haar mastektomie uit te stel omdat dit in sy eksamen sou val.

Sy erken die wete dat sy haar bors sou verloor, het haar ‘minder vrou’ en depressief laat voel. Ná gesprekke met vriende en vroue wat dieselfde pad gestap het, besluit sy op ’n dubbele mastektomie.

“Soveel soos wat ek die chirurgie aanvaar het, was dit steeds met tye baie moeilik wanneer sy na haar letsels kyk, omdat die linkerkant “opgemors” is.

Ná nog ’n operasie is bevind haar skildkliere was skoon, die kanker het nie versprei nie en sy was kankervry.

Daar is steeds dae wat sy nie na haarself wil kyk as sy aantrek nie en sy “minder vrou” voel, sê Hillery.

“Ek herinner myself egter my letsels het ’n storie om te vertel. Ek het oorleef en dis ’n teken dat ek ’n langer leeftyd het.”

Aanvaarding is baie belangrik; ook om God te vra om jou die vrede te gee wat alle verstand te bowe gaan. Onmiddellike familie wat veral emosioneel geraak word, kan ook vir berading gaan

“Sonder God is die reis nie maklik nie; jou geloof sal jou genees.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2022-12-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer