Verwysings kos geld
Die staatshospitaal op Katima Mulilo in die Zambezistreek verwys gemiddeld 30 pasiënte per maand na tersiêre gesondheidsgeriewe soos die Windhoek Sentrale Hospitaal, asook die Katutura- en Rundu-staatshospitale.
Die verwysings behels, volgens die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Esperance Luvindao, hoofsaaklik pasiënte wat gevorderde of gespesialiseerde mediese ingrypings benodig wat tans nie by die Katima Mulilo-staatshospitaal beskikbaar is nie.
Volgens die minister was die aantal pasiënte wat vir verskeie toestande van April 2024 tot Maart 2025 verwys is, soos volg: 124 chirurgie, medies 94, ortopedies 69, ginekologie 9, onkologie (nuwe gevalle) 13, kraamsorg 14 en pediatrie 49, wat die totaal op 372 te staan bring.
Sy het in die Nasionale Vergadering gereageer op ’n vraag van die parlementslid vir die Independence Patriots for Change (IPC), Bonny Susiku, oor kommer rakende die aantal pasiëntverwysings vanaf die staatshospitaal op Katima Mulilo.
Luvindao het verwys na die beduidende finansiële implikasies van die staat se verwysingstelsel vir pasiënte en gesê die ministerie is “deeglik bewus” van die koste verbonde aan brandstof en daggeld. Dit geld veral vir pasiënte uit verafgeleë streke soos Zambezi wat na gespesialiseerde geriewe in Windhoek en ander verwysingshospitale vervoer moet word, wat volgens die minister “’n beduidende en noodsaaklike uitgawe” in die ministeriële begroting is.
In ’n poging om akkuuraatheid en deursigtigheid te verseker, is die ministerie tans in die proses om ’n gedetailleerde en gerekonsilieerde verslag van die spesifieke koste saam te stel.
Dit sluit, volgens Luvindao, die insameling van data in van die verskillende bedryfseenhede wat verantwoordelik is vir vervoerlogistiek en toelaes vir reis en verblyf (S&T) dwarsdeur die hele verwysingsnetwerk.
Die minister het beklemtoon die inligting is noodsaaklik vir voortgesette strategiese beplanning en die voldoende bestuur van menslike hulpbronne, in ’n poging om die verwysingstelsel te versterk ten einde intydse en doeltreffende gesondheidsorg te lewer, terwyl fiskale verantwoordelikheid nagekom word.
Met verwysing na pasiënte wat onderweg na verwysingshospitale sterf, het Luvindao dit as “een van die mees tragiese uitkomste in ons gesondheidstelsel” beskryf.
“Hoewel die ministerie streef na geen sterftes nie, erken ons dat sulke voorvalle wel gebeur,” het sy gesê.
Oor die spesifieke getal sterftes van pasiënte die afgelope twee jaar wat tydens vervoer gesterf het, het die minister gesê ’n omvattende oorsig wat alle verwysingsdata en verwante uitkomste bevat, word tans opgestel.
Volgens Luvindao val die redes vir die sterftes in twee kategorieë wat mediese faktore insluit en na die erns van die pasiënt se onderliggende toestande verwys.
“Baie pasiënte verkeer reeds in ’n kritieke toestand en ly aan gevorderde stadiums van siektes, ernstige trauma of toestande wat hulle hoogs onstabiel laat en hul prognose swak maak, ongeag onmiddellike ingrypings,” het Luvindao gesê.
Die ander kategorie is logistieke en bedryfsfaktore wat lang afstande insluit, wat tot verlengde reistye, potensiële meganiese probleme met voertuie kan lei, asook die voorsiening van gevorderde kritieke sorg en ondersteuning tydens ’n lang rit op uitdagende terrein.
Volgens Luvindao is die beplande nuwe intensiewesorgeenheid by die Katima Mulilo-staatshospitaal ’n direkte strategiese ingryping wat daarop gemis is om kritiek siek pasiënte te stabiliseer voordat hulle oorgeplaas word en sodoende die risiko’s verbonde aan tussentydse sorg beduidend verminder.
Voortgesette planne om die hospitaal tot ’n verwysingshospitaal op te gradeer, sal volgens die minister ook meer gespesialiseerde dienste nader aan die Zambezistreek bring. Volgens Luvindao word die uitbreiding van die staatshospitaal na ’n verwysingshospitaal tans deur ’n model van openbare-private-vennootskap (PPP) ondersoek. Die eerste stap is om die tegniese, finansiële en volhoubaarheid van die bedryf van so ’n hospitaal te bepaal.
Sy het erken die hospitaal se opgradering tot ’n verwysingshospitaal moes reeds in 2019 begin het, maar dat die implementering van ontwikkelingsprojekte deur die beskikbaarheid van fondse geraak word.
In ooreenstemming met die sesde nasionale ontwikkelingsdoelwit is verskeie grootskaalse ontwikkelingsprojekte deur middel van ’n PPP-model aan die gang, wat die opgradering en uitbreiding van die staatshospitale op Nkurenkuru, Ondangwa, Otjiwarongo en Keetmanshoop insluit. Volgens Luvindao is die projekte reeds by die PPP-eenheid van die ministerie van finansies geregistreer. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie