Verbreek die stilte
Menstruele gesondheid is besig om in Namibië die aandag te kry wat dit verdien, met ’n nuwe inisiatief van die One Economy Foundation wat ook die bekende handelsmerk vir vroue higiëne Lil-Lets betrek.
Die inisiatief poog om die grootliks private kwessie tot ’n nasionale openbare gesondheidsprioriteit te verhef.
Die stap volg op die suksesvolle voltooiing van Lil-Lets se toer van universiteite in Windhoek wat vyf tersiêre instellings deur 14 veldtogte bereik het. Duisende is tydens die veldtog betrek by gesprekke oor menstruele gesondheid, waardigheid en welstand.
Besoek is by die Universiteit van Namibië (Unam), asook die mediese kampus, Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust), die Internasionale Universiteit van Bestuur (IUM) en Triumphant College afgelê.
Besprekings het volgens die organiseerders aan die lig gebring dat baie studente steeds huiwerig is om menstruasie te bespreek. Dit bevorder gevolglik die voortbestaan van stigma, ten spyte van die feit dat dit ’n direkte invloed op jong vroue se opvoedkundige deelname, selfvertroue en algehele lewensgehalte het.
Deel van die voortgesette vennootskap tussen One Economy Foundation en Lil-Lets, was die skenking van 6 000 sanitêre doekies tydens ’n oorhandigingseremonie by die #BeFree Jeugkampus in Windhoek.
Die ontvangers van die doekies sluit in Girl Up Namibia, die Havana Charity Work Foundation, die Lidar Foundation en die Zambezi Girl Child Foundation.
Michaela Boing van Premier FMCG, ’n Suid-Afrikaanse vervaardiger van verbruikersgoedere wat ’n wye reeks handelsmerke oor voedsel- en persoonlike sorg, waaronder Lil-Lets, oraloor Namibië versprei, sê die inisiatief strek verder as die verskaffing van menstruele produkte.
“Dit gaan oor die verskuiwing van denkwyses. Deur saam met nasionale leiers, studente en gemeenskapsorganisasies te werk, help ons om menstruele gesondheid as ’n gedeelde maatskaplike verantwoordelikheid en nie ’n stille stryd nie, te posisioneer,” sê Boing.
Die skenking is beskryf as ’n belangrike stap om menstruele gesondheid stewiger binne Namibië se openbare gesondheids- en maatskaplike ontwikkelingsagenda te plaas.
Die geleentheid is deur voormalige presidentsvrou en uitvoerende voorsitter van die One Economy Foundation, Monica Geingos, bygewoon.
Sy het die belangrikheid beklemtoon om menstruele gesondheid in die hoofstroom openbare diskoers te bring.
“Deur menstruele gesondheid op die nasionale agenda te plaas, bevestig ons dat waardigheid, toegang en oop gesprek fundamentele regte is. Wanneer ons hierdie besprekings normaliseer, ontsluit ons vertroue, geleenthede en agentskap vir vroue en meisies oraloor Namibië,” sê Geingos.
Die One Economy Foundation se werk aan reproduktiewe gesondheid en regte vorm deel van hul breër gesondheidsprogram. Deur hul adolessente- en jeugvriendelike #BeFreeCares Clinic bied die organisasie jongmense toegang tot gesondheidsdienste, inligting en ondersteuning.
Die stigting en verwante organiseerders is dit eens dat die verbetering van toegang tot menstruele produkte hand aan hand moet gaan met onderrig en oop dialoog, sou Namibië menstruele armoede en die stigma wat daaraan verbonde is, doeltreffend wil aanpak.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie