Verbod kan fondsadministrateurs ‘vernietig’
’n Standaard in die wet op finansiële instellings en markte (Fima) wat ’n verbod op die uitkontraktering van die kernfunksies van mediese fondse en fondsadministrateurs in Namibië plaas, sal in effek die bedryf vir die administrasie van mediese fondse in die land vernietig.
Dié donker prentjie word in die funderende verklaring van Prosperity Health geskets wat nou die hoërhof genader het om die standaard ter syde te stel en ongeldig te laat verklaar.
Die hofaansoek fokus op die wettigheid en grondwetlikheid van die standaard wat op 30 April in die Staatskoerant gepubliseer is en in werking getree het.
Die verbod op uitkontraktering is van toepassing op die assessering en bepaling van eise, die betaling van gesondheidsverwante uitgawes namens lede, die ontwerp van voordele, uitvoerende bestuursfunksies en die hou van bydraes.
Volgens die Prosperity Health Group se uitvoerende hoof, Bertus Struwig, is dit die kern van Prosperity Health se besigheid en sal ’n verbod hierop dit asook die bedryf vir fondsadministrateurs in Namibie vernietig en die voortbestaan van befondsing van private gesondheidsorg in gedrang bring.
Die verbod sal mediese fondse verbied om die dienste van fondsadministrateurs vir kern- administratiewe funksies te gebruik wat reeds vir meer as drie dekades deur hulle uitgevoer is. Dit sal van fondse vereis om, ongeag hul kapasiteit, kundigheid en hulpbronne om dit te kan uitvoer, alle funksies soos vervat in hul kernbesigheid intern te moet doen.
GESPESIALISEERD
Prosperity Health verwys in sy funderende verklaring na administrateurs se gespesialiseerde stelsels, kundigheid en infrastruktuur wat oor etlike jare teen beduidende koste ontwikkel is om dienste aan mediese skemas en lede te lewer.
Veral kleiner en korporatiewe (geslote) fondse beskik volgens die verklaring nie oor die kapasiteit, stelsels en menslike kundigheid om die betrokke funksies intern uit te voer nie.
Die verbod ondermyn volgens die verklaring stabiliteit deur die gelyktydige, chaotiese migrasie van alle mediese fondse van uitkontraktering na interne administrasie af te dwing, ’n oorgang wat nog nooit in meer as drie dekades deur enige fonds suksesvol bereik is nie en ’n model wat nog nooit in enige ander land suksesvol afgedwing was nie. Die reguleringsmodel skep ook finansiële risiko’s van gedwonge fondskonsolidasie, mislukking of kuratorskap.
“Die finansiële irrasionaliteit van interne administrasie vir kleiner fondse sal lei tot ’n niemededingende landskap, tot nadeel van die stabiliteit van die mediesefondssektor as geheel,” lui die verklaring.
ALGEHELE VERBOD
Volgens die verklaring plaas die uitkontrakteringstandaard ’n algehele verbod wat eenvormig vir elke mediese fonds geld, ongeag die grootte en lidmaatskapbasis, finansiële hulpbronne en reserwes, bestaande of die afwesigheid van kapasiteit, die aard en duur van bestaande kontrakte, die kompleksiteit van voordeelstrukture en die geografiese verspreiding van lede.
Die verklaring verwys na buiten die “katastrofiese koste” vir veral kleiner mediese fondse, na ontwrigtings in die verwerking van eise en die betalings aan diensverskaffers en gesondheidsorg. Die impak op alle administrateurs en hul personeel in die land sal massa-afleggings en die ineenstorting van die hele administrasiebedryf veroorsaak.
Volgens die verklaring word die toesighoudende owerheid vir finansiële instellings in Namibië (Namfisa) deur Fima bemagtig om die uitkontraktering van funksies deur finansiële instellings en finansiële tussengangers te reguleer. Dit magtig egter nie Namfisa om die einste uitkontrakteringsverhoudings wat Fima self uitdruklik beoog en magtig, heeltemal te verbied nie.
Die Namfisa-verbod is daarom in direkte stryd met die bepalings van Fima self, veral artikels 344(3) en 363(1) wat onderskeidelik ’n mediese hulpfonds magtig om ’n fondsadministrateur aan te stel om administratiewe en operasionele doeltreffendheid te bevorder. Dit magtig ook ’n fondsadministrateur om administrasiedienste aan mediese hulpfondse te verskaf.
ONGRONDWETLIK
Die verbod beperk ook “ongrondwetlik” ’n administrateur se reg ingevolge Artikel 21(1)(j) van die Namibiese Grondwet om sy handel, besigheid en beroep vrylik te beoefen.
Dit benadeel gevolglik wesenlik en vernietig in effek sy besigheid as ’n fondsadministrateur, aldus die verklaring. Dit sê ook die verbod is uitgevaardig sonder om aan die vereistes van Artikel 22 van die Namibiese Grondwet te voldoen.
Prosperity Health beroep hom ook op Artikel 8 (reg tot waardigheid) vir die skending van sy reg om vrylik ooreenkomste vir uitkontraktering met mediese fondse aan te gaan en te onderhou. Dit verwys ook na die skending van sy eiendomsregte wat deur Artikel 16 van die Grondwet beskerm word.
Volgens die verklaring het Namfisa daarin misluk om Prosperity Health en die ander administrateurs van mediese fondse ’n regverdige geleentheid te bied om met verwysing na die standaard gehoor te word.
Die respondente sluit onder meer in Namfisa, die ministers van finansies en gesondheid en maatskaplike dienste, die prokureur-generaal, die eerste minister, die president asook die Speaker. Verskeie mediese fondse word ook gelys en sluit in Renaissance, Gemhealth, Named, Napotel, Namibia Health Plan (NHP), Heritage en Namibia Medical Care (NMC) en administrateurs Methealth, Medscheme en Universal.
’n Versoek is aan die hof vir 23 September as ’n moontlike verhoordatum gerig.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie