Van bakboord na stuurboord
’n Pensioenaris (70) moes vir maande sonder sommige van haar chroniese medikasie vir diabetes, hoë bloeddruk en hoë cholestrol klaarkom, omdat staatshospitale herhaaldelik geen voorraad gehad het nie.
Sedert Februarie vanjaar het haar dogter, Caillin Basson, weekliks die apteek van die Windhoek Sentrale Hospitaal besoek om haar ma se medikasie op te tel. Telkens moes sy egter hoor daar is steeds geen voorraad nie.
Basson het nou ’n ope brief aan die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste geskryf waarin sy waarsku dat medisynetekorte kwesbare Namibiërs stilweg dieper in siekte, skuld en wanhoop stoot.
Basson se ervaring is egter geensins geïsoleerd nie.
Pasiënte en families wat vandeesweek met Network Media Hub (NMH) gepraat het, sê hulle moet noodgedwonge van een kliniek of hospitaal na ’n ander reis op soek na medikasie. Dit wissel van chroniese medikasie wat medikasie vir geestesongesteldhede insluit, tot noodteengif teen slangbyte.
GEEN GERINGE KWESSIE
In haar brief aan die ministerie is Basson vol lof vir sigbare verbeterings by staathospitale, insluitend opgeknapte sale, noodeenhede wat opgeknap is asook verbeterde reaksietye van nooddienste.
Volgens Basson het haar pa wat intussen oorlede is, chirurgie, bestraling en chemoterapie in die openbare gesondheidstelsel ontvang, nadat hy in 2024 met graad vier gliosarkoom gediagnoseer is.
“Dit is iets wat ek nooit sal vergeet nie,” sê Basson.
“Dit het my gewys wat ’n funksionerende openbare gesondheidstelsel vir ’n gewone Namibiese gesin kan beteken.”
Terwyl sy die vordering erken, waarsku Basson dat opgradering van infrastruktuur weinig beteken as pasiënte nie toegang tot die medikasie het wat hulle nodig het om te oorleef nie.
Weens die feit dat al haar ma se medikasie nie in voorraad is nie, het haar toestand versleg en kry sy sedertdien migraines, sê Basson.
“Die afwesigheid van basiese chroniese medikasie kan stabiele pasiënte in hospitaalbeddens laat beland wat deur voorkoming beskikbaar gehou kon word,” waarsku sy.
VERWYSING EN FRUSTRASIE
Buiten vir die tekorte was haar grootste frustrasie die burokrasie om ’n alternatief te vind.
Op ’n vraag of sy haar ma se medikasie privaat kon koop, was die antwoord dat Basson eers magtiging by ’n staatsdokter moes kry. Sy is egter weer deur ’n dokter by die Windhoek Sentrale Hospitaal na ’n ander vir die goedkeuring verwys.
Waarom moet ’n pasiënt wat reeds maande sonder noodsaaklike medikasie is, van een fasiliteit na ’n ander gestuur word bloot om toestemming te kry om medisyne privaat te koop?” vra Basson.
“Hierdie tipe burokrasie maak nie sin in ’n krisis nie.”
Kommunikasie oor tekorte moet verbeter en noodprosedures moet ingestel word wat staatspasiënte help met magtiging in dieselfde geriewe en op dieselfde dag sou hulle noodgedwonge hul medikasie in die private sektor moet koop, sê Basson.
GEESTESGESONDHEID
In die noorde van Namibië word soortgelyke frustrasies oor erge tekorte aan psigiatriese medikasie by die staatshospitale op Oshakati en Engela ervaar. Tekorte sluit in medikasie soos Haloperidol 2,5 mg- tablette, Akineton 2 mg-tablette en Tiamienhidrochloried 30 mg.
LEë HANDE
’n Pensioenaris wat verkies om naamloos te bly, het aan NMH vertel hoe sy van dorp tot dorp moes reis op soek na medikasie vir haar 48-jarige seun wat sedert 2006 staatsbehandeling ontvang. Sy was by die kliniek op Ongenga, toe na Engela en daarna die staatshospitaal op Oshakati en moes telkens met leë hande huis toe keer.
Sy moes uiteindelik N$420 by die bestuurder leen wat haar Oshakati geneem het om die medikasie privaat te kon koop.
Die krisis is emosioneel en finansieel, sê pensioenaris.
“Dit is baie seer. Selfs my hoë bloeddrukmedikasie raak by die hospitale op en ek kry dit uiteindelik by die apteke. Dit maak ons seer. Omdat ons gesê is om nie vir medisyne te betaal nie. Nou betaal ons,” het sy gesê.
Die vervoerkoste tussen verafgeleë hospitale maak die las op arm gesinne ook soveel erger.
“Ons het nie ’n keuse nie. Om ’n geestessieke op medikasie te hê, is baie beter as dat hulle hul medisyne mis. Hulle loop die risiko om te versleg of terug te val,” het sy gesê.
SLANGBYTE
Ook noodsorg word deur die medisynetekorte geraak. Die slangbytkenner Francois Theart het gewaarsku Namibië kan nog ’n ernstige tekort aan teengif in die gesig staar, met die afleweringsdatum vir voorraad wat van Maart tot Junie vertraag is.
“Die huidige stand van teengifvoorraad in Namibië is absoluut onaanvaarbaar,” het Theart in ’n Facebook-plasing geskryf.
“Hospitale en veeartsenykundige klinieke oraloor die land wag al meer as twee maande vir aanvulling van voorraad. Dit is nie net ’n ongerief nie; dit is ’n ernstige openbare gesondheidskwessie,” het Theart gemaan.
Hy het owerhede gekritiseer omdat hulle swaar op Suid-Afrikaanse entstofprodusente steun wat volgens Theart herhaaldelik gesukkel het om aan die streek se vraag te voldoen.
“Ons waarsku die relevante rolspelers voortdurend oor hierdie presiese scenario,” sê Theart.
“Die burokrasie, vertragings en rompslomp met die verkryging van teengif moet onmiddellik verminder word voordat lewens as gevolg van administratiewe onbevoegdheid en swak beplanning verlore gaan,” het hy gemaan.
“Noodgevalle met slangbyte wag nie vir papierwerk nie. Mense se lewens staan nie stil as gevolg van mislukkings in die voorsieningsketting nie,” sê Theart.
MINISTERIE ERKEN DRUK
Die gesondheidsministerie het intussen die druk op vlakke van voorrade by die sentrale mediese store erken. Volgens die woordvoerder, Walters Kamaya, word verkrygingsprosesse proaktief op grond van verbruikstendense, bestaande voorraad en geprojekteerde behoeftes uitgevoer.
“Die ministerie erken die druk en gaan voort om die beskikbaarheid van noodsaaklike medisyne te prioritiseer,” sê Kamaya.
Volgens hom word maatreëls geïmplementeer om voorspellingstelsels te versterk, voorraadmonitering te verbeter en langertermyn-verkrygingsreëlings deur middel van ’n oop internasionale tender in te stel.
Die ministerie kon egter nie duidelikheid verskaf oor hoe lank die tekorte aan medikasie vir geestesgesondheids sal duur of wanneer geraakte hospitale nuwe voorraad kan verwag nie.
Die ministerie is volgens Walters bewus van tekorte by Windhoek Sentraal en die staatshospitaal op Onandjokwe waar ’n tekort aan onder meer narkose ervaar word.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie