Tekort aan toerusting op Okahandja
Bekommerde inwoners van Okahandja is toenemend gefrustreerd oor toestande in die dorp se staatshospitaal. Dit sluit van lang wagtye, beperkte mediese toerusting asook uitdagings met ambulansdienste in wat na bewering hul lewens in gevaar stel.
In ’n onderhoud met Network Media Hub (NMH) het sommige inwoners gekla dat pasiënte soms so vroeg as 06:30 in die ry begin staan, maar teen laatmiddag nog nie geholpe geraak het nie. In sommige gevalle gaan pasiënte onverrigter sake huis toe sonder dat ’n dokter hulle gesien het.
Die situasie word vererger deur ’n tekort aan basiese mediese toerusting. Die hospitaal het tans glo net een werkende bloeddrukmeter en net een toestel vir die toets van diabetes. Albei word in verskeie departemente gebruik, onder meer in konsultasiekamers en noodgevalle. Dit veroorsaak beduidende bottelnekke omdat pasiënte eers basiese ondersoeke moet ondergaan voordat hulle medikasie ontvang of na ’n dokter verwys word.
“Mense sit vir ure en wag dat hul bloeddruk gemeet of hul suikervlakke getoets word voordat hulle verder kan beweeg. Die rye is lank en die proses uiters stadig,” het ’n inwoner gesê.
Nog ’n klagte is dat dokters glo eers laat soggens pasiënte begin sien, wat verdere druk op oorvol wagareas plaas. Hoewel personeel by ontvangs as doeltreffend in die verwerking van pasiënte se gesondheidskaarte beskryf word, voel gemeenskapslede dat die oorhoofse stelsel weens beperkte hulpbronne en vertragings in kliniese dienste ondoeltreffend bly.
Die huidige situasie is veral kommerwekkend vir pasiënte met chroniese toestande wat op gereelde medikasie staatmaak. Die vrees is dat die lang wagtye tot ernstige gesondheidskomplikasies, insluitend hartaanvalle of beroertes kan lei.
Buiten vir die tekort aan toerusting, is daar ook kommer oor die beskikbaarheid van suurstofvoorrade by die hospitaal. Inwoners beweer onvoldoende toerusting het in sommige gevalle pasiënte se uitkomste negatief geraak.
Gerub Gaseb, ’n gemeenskapsaktivis, het op sy beurt verwys na die toestand van nood- mediese dienste op die dorp, met een van die staat se ambulanse wat na bewering reeds vir ses maande weens ’n meganiese fout met ’n waaierband buite werking is.
Hy wou weet waarom ’n voertuig wat gebruik moet word om lewens te red, vir maande lank stilstaan vir iets wat blyk geringe herstelwerk te wees.
Die situasie is vererger deur die feit dat die enigste ander ambulans wat nog in ’n werkende toestand is, tydelik weens verslete bande onttrek is. Dit laat Okahandjo sonder enige funksionerende ambulans om op noodgevalle te reageer.
“Dit is ’n ernstige kwessie wat direk die veiligheid en welstand van elke inwoner raak. In mediese noodgevalle kan die reaksietyd die verskil tussen lewe en dood beteken,” het die beswaarde inwoners gesê.
Die een ambulans het intussen nuwe bande gekry, terwyl die ander ambulans vir herstelwerk geneem is wat binnekort voltooi behoort te wees.
Ten spyte van dié positiewe stappe aan die kant van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het inwoners ’n beroep gedoen dat personeeltekorte dringend getakel word, die toekenning van hulpbronne verbeter moet word en dat noodsaaklike mediese toerusting beskikbaar gestel word.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie