Suurstofaanleg steeds stukkend

Geen sterfte weens suurstoftekort nie, sê minister
Die staatshospitaal steun op suurstofsilinders terwyl herstelwerk aan sy hoofsuurstofaanleg voortgaan.
Tuyeimo Haufiku

Herstelwerk aan die hoofsuurstofaanleg by die staatshospitaal op Mariental is steeds aan die gang, meer as drie maande nadat ’n ontploffing die suurstofstelsel beskadig het. 

Die hospitaal maak intussen op silinders staat om in pasiënte se behoeftes te voorsien.

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Esperance Luvindao, het verlede week aan die Nasionale Vergadering gesê ’n nuwe maatskappy is aangestel om die aanleg se onderliggende probleme te takel. Dít nadat vroeëre instandhoudingspogings nie daarin kon slaag om herhaalde onderbrekings op te los nie.

Luvindao het gereageer op vrae van die Independent Patriots for Change (IPC) se skaduminister vir gesondheid, Lilani Brinkman. Volgens Brinkman het die ministerie ongeveer N$100 000 aan tussentydse suurstofvoorrade bestee. Sy het ook kommer uitgespreek oor bewerings dat pasiënte weens die suurstoftekorte gesterf het.

Luvindao het gesê die aanleg is op 6 Junie in ’n ontploffing beskadig, waarna die verskaffer ontbied is om die probleem te evalueer en te takel.

Die aanleg het egter steeds operasionele probleme ondervind. ’n Kwotasie vir grootskaalse dienswerk is in Julie uitgereik en op 30 Julie het die ministerie op ’n langtermyn-oplossing besluit. 

Die verkrygingskomitee het die versoek gevolglik oorweeg, met wysigings wat in Augustus aangebring is, voordat ’n diensvlakooreenkoms op 21 Augustus gesluit is.

Luvindao het gesê die verwagting was dat die nuwe maatskappy in die week van 14 September met die grootskaalse dienswerk sou begin. Hoewel die herstelwerk tans onderweg is, wag die kontrakteur op onderdele wat bestel is.

Die hospitaal gebruik tans suurstofsilinders wat sedert 19 Junie verskaf en volgens aanvraag aangevul word. Dit verseker die voortsetting van die verskaffing van suurstof, totdat die hoofaanleg herstel is. 

Pasiënte wat tydens die akute fase van hul toestand deurlopende suurstof benodig, word in die isolasiesaal opgeneem, waar ’n deel van die respiratoriese eenheid deur ’n kleiner suurstofaanleg ondersteun word. 

Luvindao het die beweringe betwis dat pasiënte weens ’n gebrek aan suurstof by die hospitaal dood is.

Sy het verwys na ’n voorval op 9 September waar ’n buitepasiënt deur ’n geregistreerde verpleegkundige geëvalueer is en suurstof en hidrokortisoon deur middel van suurstofsilinders ontvang het.

Volgens die pasiënt se mediese rekords is die pasiënt se dood aan ’n ander mediese toestand gekoppel en nie aan ’n gebrek aan suurstof nie, het Luvindao gesê. 

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-10-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer