Stories van verlies en stilte

Lykshuise gevul met stilgebore babas
Baie van die ouers is werkloos, leef in armoede en kan nie 'n begrafnis bekostig nie.
Nikanor Nangolo
Meer as 30 onopgeëiste lyke en meer as 200 stilgeboortes lê in staatslykshuise en wag op ‘n waardige begrafnis wat moontlik nooit sal gebeur nie. Wanneer ‘n begrafnis wel einde ten laaste gehou word, is dit dikwels die gevolg van koördinasie op die laaste minuut met die polisie of private skenkers.

Van die lyke lê reeds maande hier. Met van die stilgeboortes is dit soms families wat arm en werkloos is en nie die koste van ‘n begrafnis kan bekostig nie. Gesondheidsbeamptes waarsku die stelsel is oorweldig en stilte aan die kant van plaaslike owerhede vererger die verslegtende situasie.

Die woordvoerder van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste Walters Kamaya sê die lykshuis by die Windhoek Sentrale Hospitaal berg tans agt onopgeëiste lyke, terwyl 45 stilgeboortes vir begrafnisse vir armlastiges geoormerk is. Laasgenoemde is gevalle waar ouers hul regte aan die staat om verskeie redes oorgedra het. Volgens Kamaya huisves die staatslykshuis op Swakopmund tans 42 stilgeboortes, onveranderd van verlede jaar.

“As iemand in 14 weke nie identifiseer is nie, word die liggaam as onopgeëis beskou. Kliëntesorg by die onderskeie hospitale word in kennis gestel en hulle betrek die media om naasbestaandes op te spoor. As hierdie pogings tevergeefs is, begin die staat beplan vir ‘n verassing of ‘n begrafnis,” het hy aan Netwerk Media Hub (NMH) verduidelik.

Die Oshakati-hospitaal in Oshana het die hoogste getal stilgeboortes en wel 124, met nege onopgeëiste lyke waarvan ses Namibiërs en drie Angolese is.

In Omusati is vyf onopgeëiste liggame van Angolese en 16 stilgeboortes (12 Namibië, vier Angola) op rekord. Volgens die streek se gesondheidsdirekteur Alfons Amoomo is alle protokol vir begrafnisse vir armlastiges gevolg en sal ‘n versoek vir goedkeuring in die huidige finansiële kwartaal ingedien word. Kavango-Wes het drie onopgeëiste liggame wat uit 2024 dateer. Volgens Franciska Hamutenya, die streek se gesondheidsdirekteur, hang die duur van hoe lank die liggame gehou word af van die tipe geval, pogings om familie op te spoor en die kapasiteit van die lykshuis. Vir ‘n ‘normale’ geval met familie wat bekend is, word die liggame nie langer as twee weke gehuisves nie.

By die Rundu-staatshospitaal in Kavango-Oos is daar tans drie stilgeboortes en een liggaam wat nog nie opgeëis is nie. Statistiek uit die ander streke was teen druktyd nie van die gesondheidsministerie ontvang nie.

Die staatshospitaal op Grootfontein het onlangs ‘n massabegrafnis vir 133 onopgeëiste liggame gehou wat vir nege jaar, spesifiek sedert 2017 in die hospitaal se lykshuis was. Die massabegrafnis het op 25 Junie plaasgevind en was een vir armlastiges wat beteken die oorledenes is nie identifiseer of opgeëis nie.

In Junie verlede jaar het die ministerie 392 onopgeëiste stilgeboortes oraloor die land aangeteken en wel 151 in Khomas, 42 in Erongo, 14 in Kavango-Oos, een elk in Kavango-Wes en Kunene, nege in //Kharas, 63 in Ohangwena, 45 in Omaheke, 15 in Oshikoto, 42 in Oshana, en nege in Zambezi.

Lykshuise het nie die mandaat om lyke te begrawe nie en hul verantwoordelikheid is bloot die bewaring daarvan. Die stygende aantal onopgeëiste en gevalle van stilgeboortes dwing lykshuise egter nou in onbekende waters.

“Dit is ‘n misverstand dat ons weier om babas te begrawe, maar ons rol strek nie tot by ‘n begrafnis nie. Die publiek vra dikwels waarom sekere liggame gehou word of waarom dit nie begrawe word nie, ons kan nie net alles bekendmaak nie. Hierdie besluite dra emosionele en regsimplikasies,” het ‘n bron aan NMH gesê.

“Families wat dikwels in armoede leef, kan eenvoudig nie die koste van ‘n begrafnis dra nie. Baie ouers van stilgebore babas is werkloos en sonder enige vorm van ondersteuning,” het die bron gesê.

Die uitdaging is egter nie net die hoë aantal stilgeboortes nie. Die identiteit van die families is dikwels bekend, maar daar is geen finansiële ondersteuning vir hulle nie.

“As ‘n ministerie is dit ons rol om die liggame te bewaar totdat iemand na vore kom, maar dit is ‘n duur oefening. Ons moet betaal vir kiste en begrafnisondernemers en ons kry geen toegewyde finansiering nie.”

Die bron het beklemtoon agter elke syfer is ‘n storie van verlies en dikwels stilte. Sommige van die babas lê sedert Januarie in staatslykshuise.

“Statisties aan die kant van die ministerie het ons nie baie gevalle wat as ‘onopgeëis’ klassifiseer nie. Met stilgeboortes het ons ophou tel. En selfs ons eie data weerspreek wat op die grond gebeur.

“Die ministerie doen nou ‘n beroep op nie-regeringsorganisasies (NGO’s) en plaaslike owerhede om in te gryp, omdat die situasie nie net ‘n mediese kommer is nie, maar ‘n groeiende maatskaplike krisis. Maar wat doen plaaslike owerhede? Onder die wet vir plaaslike owerhede het munisipaliteite soos Stad Windhoek wetlik die mandaat om begraafplase te bestuur, grafte te vestig en die behoorlike wegdoening van oorskot te verseker. Lykshuispersoneel sê egter munisipale ondersteuning is inkonsekwent en dikwels stil.

“Mense mag dink munisipaliteite help nie, maar hulle doen, stilweg. As die publiek geweet het, mag hulle dalk direk na daardie kantore vir hulp gaan. Maar die kwessie van grond (om te begrawe) is ernstig. Ná Covid-19 het die situasie nog moeiliker geword.”

Stad Windhoek se woordvoerder Lydia Amutenya het by navraag beklemtoon die munisipaliteit het nooit enige geldige en formele versoek vir die begrafnis of verassing van onopgeëiste oorskot of stilgeboortes geweier of versuim om te help nie.

“Dienste word gelewer met ontvangs van die regte dokumentasie en deur die regte kanale van die instelling. Soos met alle stadsdienste mag standaard administriewe kontroles van toepassing wees, soos die opbetaalde rekening van die aansoeker se munisipale rekening. Tot op hede is egter geen wettige versoek vir die begrafnis of verassing van onopgeëiste liggame wat weens hierdie kontroles afgewys is nie,” het Amutenya gesê.

“Daar is geen grond spesifiek geoormerk vir onopgeëiste liggame of stilgeboortes nie. Alle grond vir begraafplase wat deur die munisipaliteit bestuur word, is toeganklik om in algemene begrafnisbehoeftes te voorsien, ongeag of die oorledene se maatskaplike of wetlike status.

“Grafte word toegeken op formele versoek en in gevalle van onopgeëiste oorskot, word sulke versoeke tipies deur die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste of die Namibiese polisie ingedien wat die primêre instellings is wat wetlik die mandaat het om sulke gevalle te hanteer.

“Die stad reageer deur gepaste ruimte vir ‘n begrafnis toe te ken of verassingsdienste aan te bied, afhangend van die aard van die versoek,” het Amutenya verduidelik.

Volgens haar het die mees onlangse begrafnis van onopgeëiste oorskot deur die munisipaliteit in Januarie 2025 plaasgevind.

“In dié geval het die Namibiese polisie formeel die begrafnis van 42 onopgeëiste oorskot, ingesluit stilgebore babas, versoek. Dit is in die Oponganda-begraafplaas volgens standaard munisipale prosedures gedoen,” het sy gesê.

“Stad Windhoek is bewus van die toenemende aantal onopgeëiste gevalle, insluitend stilgeboortes, onder veral kwesbare en laeinkomste groepe. Terwyl die stad se rol gedefinieer is onder die wet vir plaaslike owerhede as die verskaffer en bestuurder van begrafnis- en verassingsdienste binne sy jurisdiksie, is ons sensitief tot die breër openbare gesondheid en maatskaplike implikasies van hierdie gevalle,” het Amutenya gesê.

Sy het beaam dat die munisipaliteit die begrafnisse en verassings van onopgeëiste oorskot op formele versoek van die wetlike verantwoordelike instellings fasiliteer. Dit is met dien verstande dat in alle standaard voorvereistes voldoen word soos administratiewe goedkeurings en waar toepaslik dat die versoeker se rekening opbetaal is.

“Ons bly ontvanklik om koördinering en dialoog met rolspelers soos die ministerie van gesondheid, Namibiese polisie en relevante maatskaplike dienste te versterk om die tydige, menslike en respekvolle hantering van hierdie sensitiewe kwessies te hanteer.” - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer