Standaardtarief: Weerspieël dit werklike koste?
Die kernvraag is nie die grootte van die verhoging van die standaardtarief nie, maar of dit die werklike koste van gesondheidsorg weerspieël.
Dr. Jürgen Hoffmann, uitvoerende hoof van die Namibië Private Praktisynsforum (NPPF), het gereageer op die aankondiging van die Vereniging vir Mediese Fondse in Namibië (Namaf) dat standaardtariewe vir aanstaande jaar met 4,67% styg.
Die vereniging het by monde van sy bestuurder vir kommunikasie en belangegroepverhoudings, Uatavi Mbai, gesê die verhoging volg ná ’n oorsig van voorleggings wat van verskaffers van gesondheidsdienste en professionele verenigings ontvang is.
Volgens haar weerspieël die 4,67% die behoefte om die stygende koste van die verskaffing van gesondheidsorg te balanseer met die finansiële druk wat mediesefondslede en werkgewers ervaar, asook die langtermyn-volhoubaarheid van mediese fondse.
Hoffmann het gesê NPPF se onafhanklike studie oor praktykkoste toon dat huidige vergoedingsvlakke reeds beduidend laer as die werklike koste van dienslewering is.
Volgens die studie is die koste van dienslewering in sommige spesialisdissiplines meer as 40% hoër as die vlakke waarop vergoeding tans gebaseer word.
“Die studie bevind uitdruklik dat huidige fondstariewe duidelik onder die kostes om ’n praktyk te bedryf, vergoed word,” het Hoffmann gesê.
Mbai het verwys na gesondheidsorgverskaffers wat steeds bedryfskoste in die gesig staar wat verband hou met personeelvergoeding, mediese verbruiksgoedere, toerusting, professionele vrywaring en ander noodsaaklike insette.
Mediesefondslede en werkgewers ervaar op hul beurt druk weens lewenskoste, wat hul vermoë beïnvloed om mediesefondsdekking te handhaaf, het Mbai gesê.
Sy het verwys na mediese fondse wat ook finansieel volhoubaar moet bly, terwyl dit steeds hul verpligtinge teenoor lede nakom en aan toepaslike omsigtigheidsvereistes (prudential requirements) voldoen.
“Die hersiening van die standaardtarief vereis dat ons verskeie werklikhede gelyktydig oorweeg: Die koste van die verskaffing van gehaltegesondheidsorg, die bekostigbaarheid van mediesefondsdekking, die volhoubaarheid van mediese fondse en die breër ekonomiese omgewing waarin ons bedryf word,” het sy gesê.
Mbai het dit ook duidelik gemaak ’n standaardtarief dien as ’n verwysingspunt om konsekwentheid in die finansieringsbedryf vir private gesondheidsorg te bevorder.
“Dit is nie ’n waarborg vir vergoeding teen ’n spesifieke koers nie en dit vervang ook nie die behoefte aan verantwoordelike betrokkenheid tussen die partye nie,” het sy gesê.
Alhoewel Namaf na die tariewe as ’n “aanbeveling” verwys, merk Hoffmann op dat die meeste mediese fondse dit in die praktyk as die grondslag vir vergoeding gebruik.
Gevolglik het die aangekondigde aanpassing ’n direkte invloed op die gaping tussen werklike koste en vergoeding, het hy gesê.
“Die fundamentele probleem is nie die jaarlikse persentasieverhoging nie, maar dat die vertrekpunt self nie die koste weerspieël nie.
“Solank daardie gaping bestaan, sal praktyke onder druk bly en sal bybetalings vir pasiënte voortduur,” het Hoffmann gemaan.
Volgens hom behoort ook gekyk te word na hoeveel lede jaarliks aan mediesefondsbydraes betaal en hoeveel van daardie geld uiteindelik aan gesondheidsdienste bestee word. Hy het verwys na data van die Namibië toesighoudende owerheid vir finansiële instellings (Namfisa) wat op volgehoue finansiële surplusse in die mediesefondsbedryf dui.
Volgens Hoffmann dui die Namfisa-data in die onderskeie kwartale op surplusse van onderskeidelik sowat N$229,7 miljoen, N$144,5 miljoen, N$129,5 miljoen en N$293,6 miljoen. Dit terwyl die totale jaarlikse surplus vir 2024 na raming sowat N$1,7 miljard beloop het.
“Teen dié agtergrond behoort die debat nie slegs oor die grootte van die jaarlikse tariefaanpassing te handel nie, maar ook oor die verhouding tussen ledebydraes, fondsreserwes en die vergoeding wat uiteindelik vir gesondheidsdienste beskikbaar gestel word,” het Hoffmann gesê.
Mbai het beklemtoon die volhoubaarheid van Namibië se finansieringsbedryf vir private gesondheidsorg is afhanklik van konstruktiewe betrokkenheid van verskaffers, mediese fondse, administrateurs, reguleerders asook lede wat uiteindelik die stelsel finansier.
AGTERGROND
Republikein het verlede jaar berig oor private verskaffers van gesondheidsdienste wat gemaan het lede betaal meer, maar ontvang minder, met fondsbydraes wat jaarliks styg, terwyl voordele daal of staties bly.
As voorbeelde is toe verwys na Namaf wat tussen 2022 en 2025 die “bykomende hospitaalvoordeel met 33% verminder het, tariewe vir daaglikse hospitaalbestuur deur dokters met 30%, noodgeval- en 24 uur-diens met 30% en narkose met 27% gesny het”.
Namaf het in reaksie hierop in ’n volbladadvertensie na die hooggeregshofsaak van Namaf en ander teen die Namibiese Mededingingskommissie (2017) verwys, wat bevestig het die doel van die tariewe is om as ’n gids tot die redelike koste van gesondheidsorg te dien.
Volgens Namaf is dit nie ’n voorgeskrewe tarief nie en kan dit deur ’n fonds gebruik word om die vlak van terugbetaling in eise te bepaal.
Private diensverskaffers was egter van mening die werklikheid sien egter heel anders daarna uit en dat die laaste onafhanklik geverifieerde kostemodel uit 2003 dateer.
Inflasie, mediese tegnologie en praktykkoste het volgens die verskaffers intussen drasties gestyg, terwyl tariefaanpassings “ondeursigtig, inkonsekwent en gebaseer op interne berekeninge” bly.
In sy verklaring het Namaf egter na die tariewe as ’n “buigbare stelsel” verwys wat by veranderinge in gesondheidsorgpraktyke en -koste aanpas.
Volgens die vereniging word dit ten minste een keer per jaar opgedateer deur middel van ’n proses wat voorleggings deur onder meer diensverskaffers insluit.
Met verwysing na bybetalings, het Namaf gesê, hoewel die tariewe ’n verwysingspunt bied, die werklike koste vir lede van beide hul mediese fonds se voordelestruktuur en die diensverskaffer se fooie afhang.
Volgens diensverskaffers was die gevolg egter ’n gaping tussen wat die fonds betaal en wat die verskaffer vra, met die verskil (eie bybetaling) wat direk uit die pasiënt se sak kom.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie