FOTO TER ILLUSTRASIE. FOTO ARGIEF
FOTO TER ILLUSTRASIE. FOTO ARGIEF

Standaard bedreig fondse, administrateurs

Verlies aan inkomste
Deur die verdeling van kernprosesse onder verskillende entiteite, sal bedryfsrisiko's na verwagting verhoog, doeltreffendheid verminder en onnodige ingewikkeldhede skep in die bestuur van eise en betalings van voordele.
Henriette Lamprecht
’n Standaard in die wet op finansiële instellings en markte (Fima) wat ’n verbod plaas op die uitkontraktering van die kernfunksies van mediese fondse en fondsadministrateurs in Namibië, hou ’n ernstige bedreiging vir die bedryf in.

Die verbod op uitkontraktering is van toepassing op die assessering en bepaling van eise, betaling van gesondheidsverwante uitgawes namens lede, ontwerp van voordele, uitvoerende bestuursfunksies en die hou van bydraes.

Die uiteinde kan beteken dat administrateurs nie meer in staat is om hul bedrywighede lewensvatbaar te onderhou nie en noodgedwonge die mark sal moet verlaat.

Methealth Namibia Administrators, Prosperity Health, Medscheme Namibia Administrators, Clinico Health Group en Paramount Health maan in ’n brief aan die Toesighoudende owerheid vir finansiële instellings in Namibië (Namfisa) bogenoemde funksies is histories die ruggraat van fondsadministrateurs se kernsakebedrywighede.

Om dié kern- inkomste-genererende funksies te verbied, hou ’n direkte bedreiging vir die finansiële lewensvatbaarheid van die bedryf in Namibië in, beklemtoon die groep.

In die brief, wat ook aan die minister van finansies gerig is, word verwys na die belegging van miljoene in gevorderde tegnologieë en omvattende personeelopleiding om stelsels te ontwikkel wat doeltreffend die komplekse lewensiklus van mediesefondseise bestuur. Dit is ook die primêre bron van inkomste vir administrateurs.

“Hierdie verlies aan inkomste sal dit vir baie administrateurs onmoontlik maak om hul bedryfsuitgawes te dek en hulle uiteindelik uit die mark dwing.”

Vir kleiner werknemer-gebaseerde fondse sonder die finansiële en tegniese hulpbronne om eise intern te hanteer, sal die Standaard dit onvolhoubaar maak.

“Uitkontraktering was ’n belangrike werksdryfveer en het die administrasie van mediese fondse doeltreffend en lewensvatbaar vir veral kleiner fondse gemaak,” lui die brief.

Dit sal heel waarskynlik ook tot beduidende werksverliese lei aangesien administrateurs weerhou word om hul werk uit te voer wat jare lank werksgeleenthede in die bedryf onderhou het.

Deur die verdeling van kernprosesse onder verskillende entiteite, sal bedryfsrisiko’s na verwagting verhoog, doeltreffendheid verminder en onnodige kompleksiteite skep in die bestuur van eise en betalings van voordele.

Sou die Standaard toegepas word, kan lede van mediese fondse, veral diegene afhanklik van werkgewer-geborgde dekking, moontlike voorafbetalings vir mediese dienste in die gesig staar wat baie huishoudings gaan sukkel om te bekostig.

Die brief maan die Standaard ondermyn nie net doeltreffendheid deur duplisering in stelsels, beheer en hulpbronne tussen die fonds en hul aangewese administrateurs nie, maar skep vertragings, foute en teenstrydighede in die toepassing van fondsreëls. Dit verswak ook die vermoë van administrateurs om spesialisstelsels, personeel en kundigheid te ontplooi om eisrisiko’s te bestuur.

Deur die administrasie van fondse te versprei deur sleutelprosesse onder verskeie diensverskaffers te verdeel, skep ook beduidende risiko’s, veral met betrekking tot die sekuriteit en vertroulikheid van persoonlike gesondheidsdata.

“Dié benadering stel fondse, administrateurs en lede bloot aan onnodige en voorkombare risiko’s, met potensieel ernstige gevolge vir privaatheid, vertroue en die algehele integriteit van die gesondheidsorgstelsel.”

Die brief beklemtoon dat die Standaard nie in lyn is met streek- of internasionale regulatoriese raamwerke nie, waar administratiewe uitkontraktering aan gereguleerde administrateurs toegelaat word onder robuuste risiko-gebaseerde beheermaatreëls.

“Ons is van mening dat die Standaard die grondwetlike en ontwikkelingsdoelwit ontwrig om toegang tot gesondheidsorg te verseker en sodoende die welstand van burgers opoffer.”

Fima is op 1 Oktober 2021 gepromulgeer, maar ’n datum wanneer dit amptelik in werking sal tree, is nog nie bekend gemaak nie.

Die wet is ontwerp om toesig oor finansiële instellings te versterk, kliënte te beskerm en deursigtigheid aan te moedig. Namfisa het sedertdien verskeie Fima-standaarde en regulasies hersien en uitgereik.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-11-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer