Die veldhospitaal is tydens die Covid 19-pandemie vir Covid-pasiënte gebruik. FOTO ARGIEF
Die veldhospitaal is tydens die Covid 19-pandemie vir Covid-pasiënte gebruik. FOTO ARGIEF

Staatspasiënte tydelik in veldhospitaal gehuisves

Katutura-hospitaal ondergaan tans opknappings
Die minister meen om die staatshospitaal as onhigiënies te beskryf, is 'n "betreurenswaardige oordrywing".
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Stabiele pasiënte van die Katutura-staatshospitaal is tydelik na ’n veldhospitaal oorgeplaas terwyl die hospitaal opknappings- en herstelwerk ondergaan.

Dis glo ’n tydelike maatreël wat wêreldwyd gebruik word wanneer daar beperkte ruimte in hospitale ervaar word.

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het verlede week in die Nasionale Vergadering (NV) gereageer op vrae oor bekommernisse met betrekking tot voedseltekorte, oorbevolking, ’n tekort aan beddens en vullis by die hospitaal.

Die staatshospitaal ondergaan tans uitgebreide opknappings- en herstelwerk op verskeie verdiepings, wat beteken pasiënte moet tydelike uit die betrokke sale verskuif word.

Shangula het beklemtoon pasiënte wat tydelik in die veldhospitaal gehuisves word, is in ’n stabiele toestand en loop nie enige gesondheidsrisiko’s terwyl hulle hier geakkommodeer word nie.

Hy het in die NV in reaksie op ’n vraag van Utaara Mootu van die Landless People’s Movement (LPM) gesê die pasiënte word so na as moontlik aan die hospitaal gehou sodat gesondheidswerkers die nodige sorg kan verskaf.

Die veldhospitaal is tydens die Covid-19-pandemie gebruik en is met die nodige toerusting en voorrade toegerus en vervul dieselfde rol as ’n saal in die hospitaal.

“Dit huisves tans pasiënte in ’n stabiele toestand en verseker sodoende dat sorg midde die opknappingswerk voortgaan,” het Shangula gesê.

OORBEVOLKING

Met verwysing na ’n tekort aan beddens, het die minister gesê die uitdaging wat in ’n sekere saal ervaar word, is weens die feit dat ma’s hul babas en kleuters vergesel wanneer hulle in die hospitaal opgeneem word.

Hoewel die sale oorspronklik ontwerp is om ’n sekere aantal babas en kleuters te akkommodeer, vererger die teenwoordigheid van die ma’s die oorbevolking in die saal.

Volgens die minister is daar besluit om nie die ma’s huis toe te stuur nie, maar om hulle toe te laat om by hul babas te bly en hulle te borsvoed.

“Om die babas en die ma’s te skei tydens so ’n kritieke stadium is nie in die beste belang van hul langtermyn-herstelproses en die band met hul ma’s nie.”

Shangula het egter erken dit skep ’n presedent in terme van hospitaaleiendom en beskadiging van geriewe.

“Dit is om dieselfde rede dat ’n nuwe distrikshospitaal in Windhoek gebou word om die oorbevolking in bestaande geriewe te verlig.”

Shangula sê die mobilisering van bykomende hulpbronne om die openbare gesondheidstelsel te versterk, word op N$16 miljard beraam en sluit onder meer die uitbreiding en opknapping van bestaande infrastruktuur in, sowel as die aankoop van toerusting en ambulanse. Dit vorm deel van die ministerie se pad tot die verwesenliking van universele gesondheidsorg (UHC).

DRIE MAALTYE PER DAG

Oor die bewering van voedseltekorte in die hospitaal, sê Shangula pasiënte ontvang drie maaltye per dag wat deur spyseniersmaatskappye op ’n tenderbasis verskaf word.

Toepaslike stappe sal gedoen word sou enige maatskappy versuim om aan hul mandaat en vereistes te voldoen, volgens hom.

“Die ministerie sal nie huiwer om die Sentrale Verkrygingsraad te vra vir die uitsluiting van maatskappye in die tenderproses wat nie hul mandaat in die voorsiening van spysenieringsdienste nakom nie.”

Om die staatshospitaal as onhigiënies te beskryf, is volgens Shangula ’n “betreurenswaardige oordrywing”.

Hoewel hy erken daar kan tye wees wanneer vullis sigbaar is, kan dit wees as gevolg van die feit dat dit op sekere tye verwyder word.

“Daar is altyd ruimte vir verbetering. Ons sal die gereedheid van ons skoonmaakspanne opskerp, sodat hulle altyd gereed is wanneer hul dienste benodig word.

“Dié proaktiewe benadering ondersteun ons verbintenis om ’n veilige en skoon omgewing vir alle pasiënte, personeel en besoekers in ons hospitale te verseker.”

'OOK NET MENSE'

Oor ’n tekort aan beddegoed in die hospitaal, sê Shangula die ministerie koop dit aan gebaseer op behoeftes en voorrade van kommersiële verskaffers.

Afhangend van die weer en individuele behoeftes, word pasiënte ook toegelaat om hul eie beddegoed saam te bring.

“Dit moet in ’n skoon, netjiese toestand wees sonder enige risiko vir infeksie om te verseker dat pasiënte se gemak en gesondheidstandaarde gehandhaaf word sonder om die hospitaal se protokol vir higiëne in te boet.”

Hoewel die ministerie oop is vir positiewe kritiek, sê Shangula gepaste krediet aan gesondheidspersoneel sal verseker dat hulle meer moeite met hul werk doen.

“Ons toegewyde gesondheidswerkers doen hul uiterste bes en sal die erkenning waardeer vir hul pogings om die gesondheid van Namibiërs te handhaaf. Gesondheidswerkers is ook net mense.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer