Staatshospitale ‘sowat 30%’ goedkoper as privaat

Henriette Lamprecht

Henriette Lamprecht - Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste se voorstelle vir tariewe by openbare gesondheidsgeriewe is om dit in lyn met dié van die staat se mediese fonds (Psemas) te bring. 

Die doel is ook om dit op enige tydstip so te beperk dat dit nie die fonds se befondsingsvlak oorskry nie. 

Volgens die ministerie se uitvoerende direkteur, Penda Ithindi, is alle voorgestelde tariewe, wat hospitalisasie en buitepasiënte insluit, binne Psemas se befondsingsvlakke en aansienlik laer as dié van die Vereniging vir Namibiese Mediese Fondse (Namaf). 

Vir hospitalisasie is die ministerie se tariewe gebaseer op Namaf se 2017-tariewe plus 20%, wat volgens Ithindi gelykstaande is aan sowat 70% van die huidige Namaf-skaal.

“Dit maak openbare hospitaaldienste steeds sowat 30% meer bekostigbaar as private gesondheidsorg vir hierdie dienste.”

Vir buitepasiënte geld Namaf se 2014-tariewe plus 20% en oorskry dit nie Psemas se tariewe nie.

“Hierdie aanpassing is uitsluitlik bedoel vir die fakturering van alle private pasiënte en nie net Psemas-pasiënte nie,” sê Ithindi.

Volgens hom is dit 56% laer as Namaf se 2026-tariewe, wat openbare gesondheidsorgdienste sowat 44% meer bekostigbaar maak as die ekwivalent in die private sektor.

Die benadering verseker gevolglik bekostigbaarheid, terwyl dit oor die medium termyn binne die goedgekeurde Psemas-begroting bly.

Om doelbewus die ministerie se tariewe op ouer Namaf-maatstawwe plus ’n beskeie aanpassing te plaas, is volgens hom om bekostigbaarheid vir pasiënte en mediese hulpskemas en die langtermyn-volhoubaarheid van Psemas te verseker.

“Hierdie oefening verteenwoordig ’n herbelyning van tariewe wat lank agterstallig is en daarop gemik is om die doeltreffendheid van fakturering te verbeter, die verhaling van koste te versterk en die langtermyn-volhoubaarheid van openbare gesondheidsdienste te verseker. Dit terwyl die bekostigbaarheid vir pasiënte beskerm word,” het Ithindi gesê.

Volgens hom verseker die aanpassing dat openbare geriewe ’n meer gepaste vlak van vergoeding ontvang vir dienste wat aan private pasiënte gelewer word. Sodoende kan herbelê word in infrastruktuur, toerusting en die gehalte van diens by staatsgeriewe, sê Ithindi. 

Private pasiënte wat in ’n staatshospitaal opgeneem is, het vir dekades N$600 per nag betaal, terwyl private mediese fondse sowat N$2 900 per nag vir dieselfde opname in ’n private hospitaal betaal.

Volgens die hersiene tarief ontvang die ministerie nou N$2 030 per nag, wat binne die vergoedingsperke van Psemas en ander mediese hulpskemas is.

Tariewe soos betaalbaar deur Psemas-lede is die afgelope 11 jaar nie omvattend hersien nie. Dit ten spyte van beduidende veranderinge in die koste van gesondheidsorg, die ingewikkeldheid van dienste, asook faktureringstelsels.

Volgens Ithindi is die ministerie se huidige tariefstruktuur vir dienste aan Psemas-lede en hul begunstigdes nie ten volle in lyn met die tarief- en koderingsraamwerke wat deur die fonds, Namaf en private verskaffers van gesondheidsorg gebruik word nie.

Dit het gevolglik gelei tot die inkonsekwente invordering van inkomste, die onvoldoende verhaling van koste vir dienste wat gelewer is, ondoeltreffende administrasie en fakturering as gevolg van verskillende koderingstelsels, asook vergoedingsverskille tussen openbare en private gesondheidsorgverskaffers.

Republikein het vroeër berig Psemas-lede het sedert 1 April onbeperkte voordele vir hospitalisasie in staatshospitale, maar word beperk tot N$350 000 per begunstigde en N$700 000 per familie sou hulle in ’n private hospitaal opgeneem word.

Die beperkte voordele as deel van die hoër opsie vir private sorg, sluit verblyf, teater, intensiewe- sowel as hoësorg, medikasie, rehabilitasie, palliatiewe sorg asook die opname in ’n eenheid vir geestesgesondheid in.

Beperkte voordele geld ook vir die standaardopsie en is die voordeel vir private hospitalisasie net beskikbaar as die prosedure nie in ’n staatshospitaal uitgevoer kan word nie. 

Indien die prosedure wel by die staat beskikbaar is, sal die uitbetaling volgens staatstariewe geskied.

Die nuwe voordele het saam met Visie April 2026 afgeskop, met staatsamptenare wat ingevolge die regeringsinisiatief verplig word om van staatsgeriewe gebruik te maak in ’n poging om openbare gesondheidsorg te verbeter en te versterk. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer