Staatsamptenaar = staatshospitaal
As deel van die hervormings aan die staat se mediese fonds, Psemas, sal daar van staatsamptenare vereis word om aangewese staatshospitale te gebruik. In dié verband het ’n evaluering vir gereedheid reeds sommige geriewe as geskik geïdentifiseer.
Dié inligting is tydens ’n vergadering tussen Psemas en ’n breë groep rolspelers in die private gesondheidsbedryf gedeel.
Staatshospitale sal begin om eise op ’n soortgelyke manier as private hospitale in te dien, hoewel Psemas erken ’n groot struikelblok is die afwesigheid van ’n faktuurstelsel wat hierdie eise kan verwerk.
’n Nuwe kontrak vir diensverskaffers is tans by die prokureur-generaal vir evaluering, terwyl die jaarlikse siklus vir hernuwing moontlik weens die administratiewe las op personeel hersien gaan word.
Met verwysing na tariewe gaan die huidige skaal van 2014 wat al meer as ’n dekade gebruik word, uiteindelik as deel van die hervormings hersien word.
Sekere voordele gaan beperk word, terwyl beperkings veral op medikasie geplaas gaan word. ’n Toegewyde raad bestaande uit die regering, vakbonde en kenners uit die private sektor word ook in die vooruitsig gestel.
Frustrasie aan die kant van diensverskaffers loop die afgelope paar maande hoog, met eise vir Desember 2025 en Januarie 2026 wat N$376 miljoen beloop, wat nog nie betaal is nie. Die fonds het tydens die vergadering erken sy uitgawes vir die huidige boekjaar het sy toegelate begroting oorskry.
Sommige diensverskaffers sit met hul hande in hul hare oor leë rakke en leë beursies om voorrade aan te vul, met Psemas se laaste betaallopie wat middel Desember was.
Volgens die fonds het hy die tesourie vir bykomende finansiering “te midde van mededingende nasionale prioriteite” genader.
Hoewel die fonds die finansiële druk erken wat dit op diensverskaffers plaas, is die situasie volgens Psemas buite sy onmiddellike beheer. Verskeie rolspelers het hul misnoeë te kenne gegee oor Psemas se gebrek aan tydige kommunikasie terwyl die fonds lank voor Desember bewus van die dreigende geldtekort was.
Psemas het die blaam vir die druk op sy begroting op “oorgebruik” geplaas, maar het nie ’n meegaande ontleding aan rolspelers by die vergadering verskaf om die onderliggende oorsake van die tendense te verduidelik nie.
Psemas-eise het met 14,8% in die 2024-’25-boekjaar gestyg in vergelyking met die vorige vyf jaar, waartydens jaarlikse stygings tussen 1% en 4% gewissel het. Die fonds bestee tans sowat N$4 miljard per jaar, waarvan lede N$500 miljoen bydra en die belastingbetaler N$3,5 miljard.
Die kabinet oorweeg tans die Maatskaplike Voorsorgkommissie (SSC) as potensiële administrateur vir Psemas, ’n skuif van vroeëre beperkings waarin die Vereniging vir Namibiese Mediese Fondse (Namaf) vir die rol oorweeg is.
Private verskaffers van gesondheidsdienste het egter die statutêre mandaat bevraagteken om Namaf se standaardtariewe aan die regering vir aanvaarding te verkoop soos wat na bewering beoog is.
Die Namibië Private Praktisynsforum (NPPF) is tans besig om ’n etiese tariefraamwerk saam te stel wat moontlik as ’n deursigtige alternatief vir toekomstige oorweging kan dien.
Geen verwysing is tydens die vergadering gemaak na die potensiële impak van die Raad vir Gesondheidsberoepe in Namibië (HPCNA) se strategiese doelwit om die aantal geregistreerde gesondheidslui teen 2026 beduidend te verhoog nie.
Dit ten spyte van die afwesigheid van ’n gevestigde volhoubaarheidsdrempel vir die uitbreiding van die werksmag in die private gesondheidsorgsektor.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie