Die Katutura-staatshospitaal Foto argief
Die Katutura-staatshospitaal Foto argief

Spesiale stelsels vir staatsamptenare

Beskikbare spesialisdienste moet gebruik word
Vir te lank is ’n tweevlakstelsel aanvaar waar gesondheidsdienste wat as onvoldoende vir senior amptenare beskou is, as goed genoeg vir die gewone Namibiër bestempel is.
Henriette Lamprecht

’n Uitvoerende direkteur kan nie vir ses ure in ’n ry sit wanneer hulle ’n ministerie moet bestuur nie. 

Daarom sal spesifieke bestuurstelsels vir die vloei van pasiënte vir staatsamptenare aangewys word wanneer hulle op 1 April as deel van Visie April 2026 private hospitale vir staatshospitale moet verruil. 

Fase I skop af met die leierskap van die staatsdiens wat van uitvoerende direkteure, die kabinetsekretaris, die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie en die hoof van die weermag tot die kommissaris-generaal van korrektiewe dienste teiken.

Volgens die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Esperance Luvindao, is dit nie om gelykheid in gedrang te bring nie, maar om vinniger omkeertye te verseker “sodat hulle na hul werkstasies kan terugkeer om die nasie te dien.” Dié diensmodel gaan in Maart reeds getoets word.

Visie April 2026 gaan oor die waardigheid van die pasiënt in die ry by die Katutura-hospitaal wat dieselfde gehaltesorg verdien as die pasiënt in ’n private saal, sê Luvindao.

“Dit gaan oor die waardigheid van ons staatsamptenare wat trots moet wees om die presiese dienste te gebruik waarvoor hulle werk om te verskaf,” het sy gesê. 

In Fase I word dienste deur sewe strategies-verkose hospitale verskaf, naamlik Windhoek Sentrale Hospitaal, Katutura Intermediêre Hospitaal, Rundu Intermediêre Hospitaal, Keetmanshoop-distrikshospitaal, Oshakati Intermediêre Hospitaal, Walvisbaai-Swakopmund-hospitaalkompleks en Onandjokwe Intermediêre Hospitaal.

As die stelsel goed genoeg is vir kuku in die nedersetting, behoort dit goed genoeg vir die uitvoerende direkteur in Windhoek te wees, sê Luvindao. 

“Vir te lank is ’n tweevlakstelsel aanvaar waar dienste wat as onvoldoende vir senior amptenare beskou is, as goed genoeg vir die gewone Namibiër bestempel is.”

Sy het beklemtoon dat niemand die nodige sorg ontsê sal word nie, maar waar gespesialiseerde behandeling in die openbare gesondheidsektor beskikbaar is, moet dit gebruik word. 

Indien ’n spesifieke vlak van sorg of ’n spesifieke spesialisdiens nog nie by staatsgeriewe in die streek beskikbaar is nie, sal die bestaande verwysingsmeganismes, insluitend die gebruik van private verskaffers, van krag bly.

Deur die leierskap van die land na die openbare gesondheidsektor te bring, word die ideale aansporing geskep om die staat se gesondheidstelsel te herstel, sê Luvindao.

“Ons sluit die gaping tussen die besluitnemers en die dienste wat hulle bestuur.”

Met verwysing na die vraag “hoe veilig is staatshospitale?” het die minister gesê as die openbare gesondheidstelsel veilig genoeg was om die lewens van meer as twee miljoen Namibiërs te onderhou, “is dit veilig genoeg vir senior regeringsamptenare”.

Sy het beklemtoon daar word nie van staatsamptenare verwag om ’n stukkende stelsel te betree nie, maar ’n stelsel wat tans sy mees aggressiewe versterkingsprogram sedert onafhanklikwording ondergaan.

In die aanloop tot Visie April 2026 het die ministerie ’n omvattende bepaling van staatsgeriewe se gereedheid in September 2025 voltooi. 

Met verwysing na menslike hulpbronne is 66% (1 262 mediese personeel) van geïdentifiseerde poste vir meer as 2 000 bykomende personeel teen middel Januarie gevul. 

Die res sal teen Maart gevul wees.

Om te verseker medikasie en kliniese voorrade is beskikbaar, is die strategie nou om direk van vervaardigers aan te koop om ’n volhoubare vlak van 95% van beskikbaarheid te handhaaf. 

Altesaam 40% van uitstaande direkte aflewerings word tussen Februarie en Maart verwag. Versnelde verkryging is ook aan die gang om hospitale met die diagnostiese en behandelingstoerusting toe te rus wat met dié in private hospitale kan meeding. 

Spesifieke projekte vir instandhouding is in samewerking met die ministerie van werke en vervoer en die Namibiese opleidingsowerheid onderweg om te verseker staatsgeriewe is op standaard, terwyl bykomende ambulanse en noodvoertuie ook aangekoop is. 

Sowat 118 936 staatsamptenare is lede van die staat se mediese fonds (Psemas) wat ’n begroting van N$3,9 miljard vir die huidige boekjaar het. 

Volgens Luvindao het ’n beduidende deel hiervan direk in die private gesondheidsektor gevloei en “uitstekende infrastruktuur en personeelkapasiteit” gefinansier wat net ’n paar bedien.

Meer as 85% – sowat 2,6 miljoen inwoners – is afhanklik van openbare gesondheidsdienste wat deur die ministerie verskaf word met ’n begroting van N$12,2 miljard vir die huidige boekjaar.

“Terwyl die private sektor spog met wêreldklas-geriewe, sukkel ons openbare sektor met verouderde infrastruktuur, lang wagtye vir pasiënte en uitdagings met verskaffingsketting,” het sy gesê.

Vir diegene wat sê Visie April 2026 is gedoem tot mislukking, is Luvindao se antwoord dat eerder gekyk moet word na dit wat reeds ter voorbereiding bereik is.

“Ons bou ’n stelsel waar die gesondheid van ’n burger nie bepaal word deur die grootte van sy beursie of titel nie nie. Visie April 2026 is ons verbintenis tot universele gesondheidsdekking (UHC),” het sy gesê. 

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-03-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer