Die gesondheidsminister, dr. Esperance Luvindao, steek ’n kers aan vir die ­slagoffers van selfdood, asook hul families. Foto Eliot Ipinge
Die gesondheidsminister, dr. Esperance Luvindao, steek ’n kers aan vir die ­slagoffers van selfdood, asook hul families. Foto Eliot Ipinge

Selfdoodpogings word binne ’n jaar herhaal

’n Totaal van 112 slagoffers binne agt maande
Families herken dikwels die gevaar eers nadat 'n tragedie ­plaasgevind het.
Eliot Ipinge
Tussen 16% en 20% van mense wat ’n selfdoodpoging oorleef, sal dit binne ’n jaar weer probeer.

Tydens die herdenking van die Internasionale Dag van Selfdoodvoorkoming onder die tema “Verandering van die narratief oor selfdood” gister, het die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Esperance Luvindao, gesê hierdie harde werklikheid beklemtoon die dringende behoefte aan ’n gesamentlike reaksie op ’n krisis wat reeds 112 Namibiese lewens – insluitend vier kinders – in net die eerste agt maande van vanjaar geëis het.

“Dit is nie net syfers nie,” het sy beklemtoon. “Dit is iemand se ouer, iemand se kind. Agter elke statistiek is ’n familie in pyn.”

Luvindao het verduidelik dat families te dikwels eers die gevaar herken nadat ’n tragedie plaasgevind het. “Baie keer wanneer ons geliefdes verloor, onthou ons dan dat hulle voorheen probeer het,” het sy gesê. “Die vraag is: Wat het ons daaraan gedoen?”

Sy het Namibiërs aangespoor om waaksaam te bly en gesê waarskuwingstekens word dikwels oor die hoof gesien. “Elke enkele persoon rondom jou moet op selfdoodwaak wees,” het sy gesê. “Die tekens is daar – iemand word stiller, onttrek van WhatsApp-groepe, of kruip skielik in hul dop by die werk. Ons moet aandag gee.”

BREEK DIE STILTE, STIGMA

Die minister, wat openlik haar eie stryd met angs tydens mediese skool gedeel het, het gesê die bekamping van stigma is die kern om mense se lewens te red. Sy het ’n “veilige woord”-stelsel voorgestel om mense in krisis te help om diskreet uit te reik. “Ek is ’n veilige ruimte,” het sy verklaar en leiers en Namibiërs aangemoedig om ander te verseker dat hulle sonder vrees of oordeel genader kan word.

Die minister het ook die “dringendheid van hierdie krisis” erken en erken: “Ja, nie genoeg word gedoen nie. Ons neem verantwoordelikheid daarvoor.” Sy het bygevoeg: “Om te min bewusmakingsveldtogte te hê en op sosiale media te plaas en te sê ons is hier, dit is nie genoeg nie. Daar is soveel meer wat gedoen moet word wat nie gedoen word nie en ons moet dit doen,” het sy gesê en bygevoeg dat die stelsel ’n volledige hersiening nodig het.

Onder die planne wat sy uiteengesit het, is die uitbreiding van geestesgesondheidsdienste in landelike gebiede, die versterking van die Lifeline/Childline-hulplyne, en die beskikbaarstelling van berading in plaaslike tale. “Soms hoef mense net te sê ‘ek het hulp nodig’ in hul moedertaal,” het sy gesê.

Die minister het afgesluit met ’n oproep tot deernis en waaksaamheid oor gemeenskappe heen. “Soms verg dit net een persoon wat sê: ‘ek sal by jou sit totdat die son opkom,’” het sy gesê. “Een poging is nie die einde nie – maar dit is ons plig om seker te maak dit gebeur nie weer nie.”

VERSTERK STRYD

Helen Mouton, voorsitter van die Nasionale Selfdoodvoorkomings- en Behandelingsaksiegroep, het die minister se boodskap herhaal en gesê dat selfdoodvoorkoming nie alleen aan professionele persone oorgelaat kan word nie, maar ’n gemeenskapsgedrewe poging moet word.

“Ons doel is om te verseker dat elke streek ’n taakmag vir selfdoodvoorkoming het, net soos ons in Khomas en Hardap sien waar die strukture aktief is,” het sy verduidelik. “Ons wil ons streekpersoneel toerus met die vaardighede en hulpbronne om selfdood te bestry en uiteindelik veilige ruimtes skep waar enigiemand aan ’n deur kan klop en hulp kan kry – sonder om vir ’n maatskaplike werker of dokter te wag.”

Mouton het bevestig dat Namibië reeds sy eerste nasionale selfdoodvoorkomingstrategie ontwikkel het en nou saam met die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) aan die tweede een werk. Dit sal ’n gemeenskaplike “gereedskapskis” vir selfdoordvoorkoming en ’n “noodhulpkissie” vir geestesgesondheid insluit, wat ontwerp is om gewone burgers te help om “hul broer se bewaarder” te word.

“Met die ondersteuning van ons nieregeringsorganisasies, kerke, gemeenskappe en die media, weet ons dat ons ver sal kom,” het sy gesê. “Ons doel is niks minder nie as om selfdood in Namibië uit te te wis nie.”

As jy of iemand wat jy ken, swaarkry, kontak Lifeline Namibia by 061 232 111 of Childline by 116 vir vertroulike ondersteuning.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer