Foto ter illustrasie. Foto Unsplash
Foto ter illustrasie. Foto Unsplash

Sê jou sê oor universele gesondheidsdekking

Primêre gesondheidsorg
Die kritieke elemente van UHC is die toegang tot en bekostigbaarheid en gehalte van dienste.
Brigitte Weidlich

Openbare konsultasies vir die konsepwetsontwerp vir staatsbeheerde Universele Gesondheidsdekking en –sorg (UHC) het gister begin en sal in al 14 streke gehou word. Die kabinet het die beleid vir universele gesondheidsdekking (UHC) vir Namibië waarvan die basiese element primêre gesondheidsorg, ‘n jaar gelede goedgekeur. Die kritieke elemente van UHC is die toegang tot en bekostigbaarheid en gehalte van dienste.

Volgens die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste vind konsultasies vandeeweek in die Noorde van die land plaas. Die wetsontwerp het ten doel om ‘n omvattende regs- en institusionele raamwerk te vestig om universele toegang tot gesondheidsorg te verseker. As deel van die voorgestelde finansieringsraamwerk sal heffings – insluitend dié van private gesondheidsversekeringsmaatskappye – as 'n inkomstebron vir die UHC-riglyne ingestel word wat onlangs aanvaar is. Volhoubare finansiering moet verseker word deur middel van fooie en heffings as 'n sleutelvereiste. Hierdie fondse is opsy gesit vir die gesondheidsorg wat deur die nuwe Nasionale Gesondheidsfonds verskaf sal word. Tans ken die nasionale begroting jaarliks ​​ongeveer N$3 miljard toe aan die mediese fonds vir staatsamptenare (Psemas) en ongeveer N$11 miljard aan die openbare gesondheidsektor. Dié fondse het daartoe bygedra dat Namibië 'n algemene gesondheidsdekkingsindeks van 62% tot 64% behaal het – een van die hoogste in Afrika.

Die ministerie het egter gemaan bykomende finansiering is nodig om toegang tot gesondheidsorg uit te brei en die gehalte daarvan te verbeter. Ongeveer 85% van Namibië se bevolking is afhanklik van openbare gesondheidsorg. Volgens die ministerie het slegs sowat 200 000 mense in die land private gesondheidsversekering. Namibië het meer as drie miljoen inwoners. Dit is nog nie bekend of alle werknemers en werkgewers 'n maandelikse bydrae tot die beplande nasionale gesondheidsversekeringsfonds sal moet betaal nie en of werknemers gelyktydig bestaande private gesondheidsversekeringsplanne sal kan handhaaf.

Die kabinet vroeër ’n interministeriële komitee gestig om die modaliteite vir die implementering van die beleid uit te werk, insluitend die verkryging van finansiering en personeel.

Die regeringstruktuur wat die ontwikkeling van die beleid sal bestuur, bestaan uit ’n kabinetskomitee oor openbare diens, ’n tegniese raad­gewende komitee, verskeie werksgroepe en ’n tegniese komitee vir die ontwikkeling en implementering van die beleid.

Die konsepwetsontwerp en die riglyne is op die ministerie se webtuiste by www.mhoss.gov.na beskikbaar. Skriftelike voorleggings kan tot 27 Februarie ingedien word. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-02-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer