Dr Vincent Kambinda. FOTO VERSKAf
Dr Vincent Kambinda. FOTO VERSKAf

Rundu spog met nuwe gesondheidsentrum

Henriette Lamprecht
Die MedRundu-gesondheidsentrum het met die hulp van die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) sy deure op Rundu geopen.

Die sentrum word bestuur deur dr. Vincent Kambinda wat danksy die hulp van die DBN die finansiering gebruik het vir onder meer toerusting en voorrade.

Die bank se hoof van bemarking en korporatiewe kommunikasie, mnr. Jerome Mutumba, sê 16 dokters, een staats- en een private hospitaal moet sowat 90 000 inwoners bedien wat ver onder die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) se voorgestelde standaard van een dokter vir 1 000 inwoners is. Volgens hom sal die ondersteuning van nog ’n dokter onder die omstandighede beduidend die druk op die beskikbare mediese vaardighede verlig wat in die streek beskikbaar is.

“Die tekort aan plaaslike vaardighede kan lei tot omstandighede waarin pasiënte afstand doen van enige mediese behandeling wat ekstra koste tot gevolg het in terme van die verlies van produktiwiteit of die maatskaplike las op families wat siek familielede moet versorg.

“Die alternatief is dat pasiënte verder op hul eie koste moet reis en wat ook druk plaas op mediese geriewe in die openbare sektor,” het hy gesê.

Die bank het ’n lang geskiedenis van die finansiering van mediese geriewe en beroepslui en sluit in finansiering vir Ongwediva Medipark, twee verskaffers van radiologiese en diagnostiese dienste waarvan een gehelp is onder die vaandel van die bank se Innovation Fund, sowel as verskeie apteke.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer