Ruacana het uiteindelik ’n ambulans gekry wat deur NamPower geskenk is. Foto Kenya Kambowe
Ruacana het uiteindelik ’n ambulans gekry wat deur NamPower geskenk is. Foto Kenya Kambowe

Ruacana kry uiteindelik ’n ambulans

Kenya Kambowe
Nadat hulle jare lank sonder ’n ambulans moes klaarkom, het die Ruacana- primêre gesondheidsorgkliniek uiteindelik een van NamPower ontvang.

Die Omusatistreek se direkteur van gesondheid, Alfons Amoomo, het sy dankbaarheid uitgespreek en gesê die skenking van die ambulans sal ’n beduidende impak hê op die verskaffing van dienste aan dié streek se mense. Hy het bygevoeg die Omusati-gesondheidsdirektoraat het 19 ambulanse wat op mediese nooddienste reageer. Sommige van dié ambulanse is egter oud en benodig dringende vervanging.

“As sodanig word tydige mediese nooddienste negatief beïnvloed en gewone bakkies word meestal as ambulanse gebruik,” het hy gesê.

Andersins ry gemeenskappe siek mense op donkiekarre aan.

NamPower het die ambulans en mediese toerusting met ’n totale waarde van N$240 000 aan die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste geskenk.

Amoomo het gesê hulle is verbind tot die behoorlike instandhouding, doeltreffende gebruik en verantwoordelike bestuur van die ambulans en mediese toerusting om die langtermynvoordeel daarvan vir die Ruacana-gemeenskap te verseker.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer