Psemas: Beperkte voordele vir private sorg
Lede van die staat se mediese fonds (Psemas) het sedert 1 April onbeperkte voordele vir hospitalisasie in staatshospitale, maar word beperk tot N$350 000 per begunstigde en N$700 000 per familie sou hulle in ’n private hospitaal opgeneem word.
Die beperkte voordele as deel van die hoër opsie vir private sorg, sluit verblyf, teater, intensiewe- sowel as hoësorg, medikasie, rehabilitasie, palliatiewe sorg asook die opname in ’n eenheid vir geestesgesondheid in.
Beperkte voordele geld ook vir die standaardopsie en is die voordeel vir private hospitalisasie net beskikbaar as die prosedure nie in ’n staatshospitaal uitgevoer kan word nie. Indien die prosedure wel by die staat beskikbaar is, sal die uitbetaling volgens staatstariewe geskied.
Die nuwe voordele het saam met Visie April 2026 vandeesmaand afgeskop, met staatsamptenare wat ingevolge die regeringsinisiatief verplig word om van staatsgeriewe gebruik te maak. Dis in ’n poging om openbare gesondheidsorg te verbeter en te versterk.
Volgens ’n ingeligte bron in die mediesefondsbedryf is die Psemas-voordeel van N$350 000 vir private hospitale egter nie genoeg om groot prosedures te dek nie.
“Dit is vir ons ’n groot bron tot kommer. Mense kanselleer nou hul gapingsdekking omdat hulle dink hulle word gedek. Ons het reeds ’n paar gevalle van Psemas-lede gehad wat hul N$350 000 oorskry het,” het die bron gesê.
Gapingsdekking in Namibië is ’n versekeringsproduk wat ontwerp is om die tekort tussen mediesefondstariewe en hoër tariewe wat deur private dokters en spesialiste gehef word, te dek en om uitgawes uit eie sak vir hospitaalprosedures te voorkom. Dit dek spesialiskoste in die hospitaal, bybetalings en soms spesifieke buite-hospitaalbehandelings of onkologie-uitgawes.
“Ek dink die grootste verandering met die beperking van N$350 000 is dat die oomblik wat jy dit bereik en Psemas begin om staatstariewe te betaal, dek ons die verskil tussen die staats- en Psemas-tarief,” het die bron verduidelik.
Beperkinge word ook geplaas op ambulans- en ontruimingsdienste. Goedkeuring word vereis vir ambulansvervoer tussen hospitale of nie-noodgevalle, met ’n limiet van N$10 000 per begunstigde.
MRI- en CT-skanderings binne en buite die hospitaal word beperk tot N$30 000 per familie en benodig ’n verwysing van ’n mediese spesialis. Verwysing van ’n algemene praktisyn vir CT-skanderings tydens ’n noodgeval is net geregverdig in die geval van kopbeserings.
Vir radiologie en patologie, asook bloedoortappingsdienste wat in ’n staatshospitaal uitgevoer word, is die Psemas-lid se voordeel onbeperk.
Met verwysing na konsultasies by algemene praktisyns en spesialiste buite die hospitaal is die voordeel beperk tot N$7 000 vir die hooflid en N$16 000 vir ’n hooflid met vier afhanklikes.
Akute medikasie word beperk tot N$7 000 per lid, terwyl chroniese medikasie wissel van N$15 000 vir die hooflid tot N$35 000 vir ’n hooflid met vier afhanklikes.
Beperkings word ook geplaas op basiese “konserwatiewe” tandheelkunde en wel N$10 000 per lid. ’n Eenmalige bedrag van N$16 500 geld per lid vir ortodonsie met vooraf goedkeuring.
Oogtoetse word beperk tot een toets per lid elke ses maande, terwyl bril- en kontaklense beperk word tot N$3 000 elke twee jaar. Vir ’n raam kry ’n Psemas-lid N$600 elke twee jaar.
Lede het ook toegang tot hulpmiddels soos rolstoele (N$10 000 per lid elke vier jaar), kunsmatige ledemate (N$30 000 per lid) en ortopediese skoene (N$1 860 tot N$3 750), terwyl ’n gehoorapparaat se jaarlikse voordeel N$9 000 per lid per oor is.
Goedkeuring moet vooraf verkry word vir mediese reise na die buiteland, met die koste van ’n ekonomiese klas vlieg- of buskaartjie wat ten volle betaal word.
MIV- en vigsmedikasie word beperk tot N$35 000 per lid en sluit patologie in. Dit is onderworpe aan registrasie op die kliniese moniteringsprogram vir MIV/vigs.
Volgens ’n amptelike omsendbrief deur die uitvoerende direkteur van justisie en arbeidsverhoudinge, Audrin Mathe, moes alle staatspersoneel die nuwe aansoekvorms vir Psemas teen 15 April voltooi en ingedien het.
Die brief gedateer 1 April sê dit is nodig om lede se rekords in lyn met die hersiene voordelestruktuur van Psemas te bring. Dit sal voorts ook help om enige vertragings in toegang tot voordele te vermy.
Vrae wat Republikein twee weke gelede aan die hoofwoordvoerder van die ministerie van finansies, Wilson Shikoto gestuur is, is nooit beantwoord nie.
Van die vrae het ingesluit of afgetrede staatsamptenare ook moes herregistreer en wat sou die gevolge wees indien die betrokke vorms nie teen 15 April voltooi en ingestuur is nie. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie