Penda Ithindi Foto argief
Penda Ithindi Foto argief

Private sale in staatshospitale geskep

Bykomende inkomste vir verdere belegging
Die langtermyndoelwit is om ’n sterker, meer veerkragtige en volhoubare gesondheidstelsel te skep wat in staat is om gehalte-gesondheidsorgdienste aan alle Namibiërs te lewer.
Staff Reporter

Hoofredaksie - Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het kliëntediens- en hulptoonbankbeamptes, matrones en fasiliteitsbestuurders opgelei.

Dit vorm deel van voorbereidings om opgegradeerde private sale by uitgesoekte staatshospitale oraloor die land vir lede van mediese fondse asook kontantpasiënte in te stel. 

Dié sale is by die Windhoek Sentrale Hospitaal; die intermediêre hospitale in Katutura, Rundu, Oshakati en Onandjokwe; die Keetmanshoop-distrikshospitaal; asook die Swakopmund-hospitaalkompleks.

Die uitvoerende direkteur van die ministerie, Penda Ithindi, sê mediese toerusting en meubels is ook aangekoop. Dit sluit kraambeddens, ultraklank- en narkosemasjiene, asook lewensbelangrike monitors in.

Ithindi sê bykomende gespesialiseerde tegnologieë en dienste gaan geleidelik bekend gestel word, afhangende van bedryfsvereistes en die beskikbaarheid van hulpbronne by die verskillende geriewe.

Volgens hom het die opleiding op diensprotokolle, kommunikasievaardighede, die bestuur van pasiëntevloei, verwysingstelsels en standaarde vir kliëntediens gefokus. Dit volg in die lig van die regering se beplande integrasie van begunstigdes van mediese fondse in opgegradeerde staatshospitale.

“Opleiding is ook spesifiek vir kliëntediensbeamptes aangebied om hul vermoë op te skerp om begunstigdes van die staat se mediese fonds (Psemas) in die openbare gesondheidsorgstelsel te bestuur en te integreer,” sê Ithindi.


GESTANDAARDISEERDE FAKTURERING

Ithindi sê die kabinet het goedkeuring verleen dat die ministerie se tariewe in lyn met dié van Psemas en die Vereniging vir Mediese Fondse in Namibië (Namaf) gebring word vir pasiënte- en nie-hospitalisasiedienste wat by staatshospitale gelewer word.

Die goedkeuring vestig ’n gestandaardiseerde faktureringsraamwerk en ondersteun die integrasie van begunstigdes van mediese fondse in die openbare gesondheidsorgstelsel.

“Die ingrypings vorm deel van die ministerie se breër agenda wat daarop gemik is om infrastruktuur by openbare gesondheidsorg te versterk, dienslewering te verbeter en toegang tot gehalte-gesondheidsorgdienste uit te brei,” sê Ithindi.

Die opgeknapte en gemoderniseerde dele van staatshospitale vorm deel van Namibië se breër program vir die versterking van gesondheidstelsels, sê hy. Dit is voorts gekoppel aan die land se langtermyn-agenda vir universele gesondheidsdekking (UHC).

Die regering beoog om hiermee bykomende inkomste te genereer uit begunstigdes van mediese fondse asook pasiënte wat kontant betaal. Die inkomste sal herbelê word in die openbare sektor se infrastruktuur vir gesondheidsdienste, mediese toerusting, dienslewering en programme vir instandhouding.

Ithindi sê private pasiënte het tot dusver positief op die inisiatief gereageer. ’n Basislynopname in Maart onder Psemas-lede het getoon talle respondente is bereid om staatsgeriewe vir spesialiskonsultasies, as buitepasiënte, diagnostiese ondersoeke en noodsorg te gebruik.

“Die bevindinge dui oor die algemeen op ’n positiewe reaksie,” sê Ithindi.

’n Opvolgopname gaan gedoen word om bykomende terugvoer oor verbruikerservarings en -patrone in te samel namate die sale ten volle operasioneel is. 

Hoewel geen aparte personeeldiens spesifiek vir die private sale geskep is nie, sal bestaande dokters, verpleegkundiges en gesondheidsorgpersoneel binne die huidige gesondheidstrukture gebruik word om dienste te verskaf.

“Die werwing en plasing van spesialiste en ander kritieke gesondheidsorgpersoneel bly deurlopende prioriteite terwyl die regering voortgaan om vakante poste oraloor die gesondheidsektor te adverteer en te vul,” sê Ithindi. 

“Om die kapasiteit vir spesialiste te versterk, het die regering ook vergelykbare voorregte aan private mediese praktisyns, insluitend spesialiste, uitgebrei.

“Dit stel hulle in staat om hul pasiënte by aangewese staatsgeriewe op te neem en te bestuur.

“Uiteindelik is die langtermyndoelwit om ’n sterker, meer veerkragtige en volhoubare gesondheidstelsel te skep wat in staat is om gehalte-gesondheidsorgdienste aan alle Namibiërs te lewer. Dit terwyl ongelykhede in toegang tot sorg verminder word,” sê Ithindi. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer