Die Palmwag-kliniek se deure is nog nie vir pasiënte oopgemaak nie. Foto verskaf
Die Palmwag-kliniek se deure is nog nie vir pasiënte oopgemaak nie. Foto verskaf

Palmwag-kliniek ná drie jaar nog nie oop

Aurelia Afrikaner
’n Kliniek wat drie jaar gelede by Palmwag in die Khorixas-distrik in die Kunenestreek gebou is, se deure is nog nie vir die gemeenskap oopgemaak nie, aangesien daar nie akkommodasie vir verpleegpersoneel is nie.

Die kliniek bly in onbruik, wat die plaaslike gemeenskap sonder toeganklike gesondheidsorg laat en hernude verontwaardiging veroorsaak ná die onlangse dood van ’n tweede inwoner, volgens ’n bron wat in die omgewing woon.

Die betrokke gemeenskapslede, wat byna 40 km van die naaste gesondheidsgeriewe by Bergsig woon, het hul frustrasie en hartseer uitgespreek.

“Ons het ’n paar dae gelede ’n bejaarde verloor, omdat ons geen gesondheidsgeriewe het nie en kon nie anders as om te sien hoe haar lewe geëis word nie,” het ’n inwoner wat anoniem wou bly, gesê.

Dit het aan die lig gekom dat die kliniek nog nie sy deure oopgemaak het nie weens die afwesigheid van akkommodasie vir personeel.

Toe hy om kommentaar genader is, het die woordvoerder van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, Walters Kamaya, die kwessie bevestig.

“Volgens die distrikskoördineringskomitee (DCC) se assessering gedateer 19 Oktober 2023, is die voorsiening van personeelakkommodasie onontbeerlik om menslike hulpbronne op die grond te hê en die instelling te bedryf,” het Kamaya gesê.

“Op 11 Maart 2024 het die DCC probeer om ’n opvolginspeksie uit te voer, maar kon nie toegang tot die geriewe kry nie, aangesien die sleutels by ’n gemeenskapslid was wat ’n vergadering by Bergsig bygewoon het. Ten spyte hiervan het ons opgemerk die kliniek was amper voltooi,” het hy opgemerk.

Kamaya het bygevoeg geen akkommodasie vir verpleegpersoneel is tot dusver gebou nie en die gemeenskap word steeds deur die Bergsig-kliniek bedien, wat reeds een van die besigste klinieke in die distrik is.



OORHANDIGING SONDER

GESONDHEIDSMINISTERIE

Op 24 Oktober verlede jaar is die oorhandigingseremonie vir die kliniek gehou, maar geen amptenare van die gesondheidsministerie het egter die geleentheid bygewoon nie.

Die kliniek is eerder deur ’n raadslid van Outjo in ontvangs geneem, wat verwarring laat ontstaan het oor wie die administratiewe verantwoordelikheid dra.

Kamaya het benadruk die kliniek val tegnies onder die Opuwo-distrik, maar is geografies nader aan Bergsig, wat binne die Khorixas-distrik lê. “Palmwag behoort aan die Opuwo-distrik, hoewel dit nader aan die Bergsig-kliniek [39 km] is, in vergelyking met Sesfontein [114 km].”

Hy het verduidelik die gemeenskappe soek gesondheidsorgdienste by Bergsig, wat reeds die tweede besigste buitepasiëntkliniek in die Khorixas-distrik is.

Die Khorixas-distrik het belangstelling getoon om Palmwag administratief te absorbeer vir verbeterde dienslewering.

Terwyl die gesondheidsministerie sê dat hulle nie bewus is van spesifieke sterftes wat verband hou met die kliniek se sluiting nie, dring inwoners daarop aan dat lewens reeds verloor is.

“Die Khorixas-distrik is nie bewus van enige besonderhede rakende sulke voorvalle nie, maar ons sal graag besonderhede daarvan ontvang om te ondersoek.”

Kamaya het wel bevestig dat besprekings aan die gang is.

“Ons het in Maart 2024 ’n kort bespreking met verteenwoordigers van die Torra-bewaringsgebied gehad. Hulle het genoem dat hulle oorweeg om bykomende fondse vir die personeelakkommodasie in te samel,” het Kamaya gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer