Opname moet sê oor Psemas-diens
Sowat 60% van lede van die staat se mediese fonds (Psemas) sê die beskikbaarheid van spesialiste is die hoofrede waarom hulle verskaffers van gesondheidsdienste in die private eerder as die staatsektor opsoek.
Die bevinding vorm deel van ’n aanlyn opname wat deur die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste gedoen is om terugvoer van Psemas-lede te kry oor hul houding, opvattings en verwagtinge van dienslewering in openbare gesondheidsgeriewe.
Die opname het Psemas-begunstigdes geteiken met die fokus op senior regeringslui en gewone staatsamptenare. ’n Totaal van 2 949 lede het van 3 tot 11 Maart aan die aanlyn opname deelgeneem.
Korter wagtye (58,5%) was kort op die hakke van die beskikbaarheid van spesialiste as rede waarom die private gesondheidsbedryf verkies word, gevolg deur die 35,7% vir die beskikbaarheid van toegepaste diagnostiese toetse. Gemak was 13,1% se motivering.
Wanneer die keuse wel op openbare geriewe geval het, was die gunstelingkeuse vir sorg in die Windhoek Sentrale Hospitaal met 42,8%, gevolg deur Katutura met 26,2%, Rundu 11% en die staatshospitale op Swakopmund en Walvisbaai met 9,2%.
Volgens deelnemers aan die opname is hulle bereid om vir dienste soos spesialis-konsultasies, diagnostiese en nooddienste sowel as buitepasiënte voorkeur aan openbare gesondheidsgeriewe te gee.
Met verwysing na die gebruik van digitale oplossings vir gesondheidsorg was 43% van die deelnemers gewillig om dit ’n kans te gee, terwyl 34% onseker was.
Vir aanvaarbare wagtye by staatsgeriewe was meer as 50% dit eens dat dit minder as ’n uur moet wees. Om vertroue in die openbare gesondheidsektor ’n hupstoot te gee, het 44,3% klem op die verbetering van infrastruktuur en mediese toerusting gelê. Die beskikbaarheid van spesialiste was tweede met 27,8%.
Die opname bied aan die ministerie van gesondheid kritieke, bewysgebaseerde insig in die verwagtinge en voorkeure van Psemas-begunstigdes.
Dit stel die ministerie ook in staat om leemtes in die diensleweringstelsel te identifiseer. Veral belangrik is die prioritisering van die toekenning van hulpbronne tot hoë-impak areas, die versterking van verantwoordbaarheid en ook die monitering van prestasies.
Volgens die ministerie kan die uitkoms van die opname dit in staat stel om gesondheidsdienste in ooreenstemming met die behoeftes van alle pasiënte te bring. Die opname sal elke drie maande herhaal word om beide uitdagings en geleenthede in die openbare gesondheidsbedryf uit te lig.
Die ministerie het kommer oor dienslewering in die staatsektor erken en beklemtoon die uitslae van die opnames sal duidelike en uitvoerbare prioriteite vir hervorming verskaf. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie