Nuwe administrateur vir NHP sorg vir chaos
Henriette Lamprecht - Pasiënte, veral diegene met chroniese en gevreesde siektes soos kanker en veelvuldige sklerose (MS) se sorg gaan onderbreek word, wat tot geweldige gevolge, hetsy finansieel of kliniese risiko’s, gaan lei.
Dit volgens ’n kundige en ingeligte bron in die mediesefondsbedryf en die verskaffing van noodsaaklike mediese sorg rakende die “lukrake en onvoorbereide hantering” van eise deur Universal Healthcare Group in Suid-Afrika, wat as administrateur van Namibia Health Plan (NHP) by Medscheme in Namibië oorgeneem het.
Die oorname van Universal, wat verskeie takke in Suid-Afrika het, maar geen plaaslik nie, sou aanvanklik reeds op 1 Maart in werking getree het. Dit is egter na 1 April verskuif.
Volgens die bron was daar sprake van die oorgang na Universal in September/Oktober verlede jaar toe NHP-trustees in beginsel gesê het dit gaan gebeur.
Die kontrak vir “bestuurde sorg” is egter op ’n lukrake wyse beëindig en sou amptelik op 1 Maart in werking tree met Universal aan die stuur. Laasgenoemde het egter gesê hulle was nie gereed nie en is dit gevolglik tot een 1 April uitgestel. Hulle is egter tans nog nie gereed nie.
NHP-lede is egter eers op 5 Maart van die oorgang in kennis gestel en op 16 Maart is dit in ’n nuusbrief bevestig dat die verwerking van eise nou ook aan Universal oorgedra is. Lede het geen verdere insae gehad in die aanloop tot die oorgang of die implementering daarvan nie, aldus die bron.
Die voortbestaan van Medscheme in Namibië is gevolglik ook in die gedrang, wat personeel se poste insluit.
Die beëindiging van die sorgbestuurkontrak wat aan die administrasiekontrak verbind is, dui volgens die bron op potensiële kontrakbreuk en sou laasgenoemde aan die einde van 2027 met Medscheme verstryk, is die kanse goed “dat Universal dit ook sal kry”.
Volgens die bron was Universal egter geensins gerat om die magtigings te doen, eise elektronies of in reële tyd (real time) of selfs in groepe (batching) van meer as 60 000 NHP-lede te verwerk nie.
Verskaffers van dienste soos chemoterapie, opnames in hospitale en ook hernuwings van chroniese medikasie ontvang glo ook sedert 1 April geen terugvoering of magtigingsnommers nie.
Die bogenoemde diensverskaffers word gevolglik in ’n situasie geplaas waar ’n pasiënt opgeneem moet word, binneaarse toediening moet ontvang of van chroniese medikasie voorsien moet word “sonder dat ons betaal word of selfs ’n magtiging vanaf NHP het dat ons wel betaal sal word”.
Volgens die bron plaas dit die pasiënt wat nie by die kostepunt van diens kan betaal nie (asook diensverskaffers) in ’n posisie waar die pasient aan ’n kliniese risiko en die verskaffer aan potensiele kliniese nalatigheid sowel as aan finansiele risiko’s blootgestel word.
Die bron maan ook dat in terme van enige regstappe of kliniese trauma wat aan NHP en Universal se “nalatige optrede” toegeskryf kan word, dit verreikende gevolge gaan en kan inhou.
“Hierdie is ’n ernstige nie-nakoming van fidusiêre verantwoordelikhede van die trustees om na Universal oor te beweeg vir die administrasie van NHP,” het die bron beklemtoon.
KLAGSKRIF
In ’n klagskrif deur lede en rolspelers aan NHP se uitvoerende hoof, fondsbestuurder en raad van trustees, word ’n dringende beroep gedoen vir “onmiddellike deursigtigheid, verantwoordbaarheid en die beskerming van lede”.
Hierin word kommer geopper oor die uitkontraktering van die magtiging van bestuurde gesondheidsorg en verwerking van eise aan Universal sonder ’n openbare tenderproses wat vrae oor deursigtigheid en die beskerming van plaaslike werksgeleenthede laat ontstaan.
Vrae word geopper oor onbetaalde eise en vereistes dat pasiënte kontant vir dienste moet betaal, terwyl hulle tot ses dae moet wag vir magtiging vir spesialisdienste en hospitaalprosedures.
Universal word ook van ’n gebrek aan kommunikasie beskuldig, terwyl aangedring word op die besluitnemingsproses, insluitend notules van raadsvergaderings oor die kriteria waarom Universal gekies is in weerwil en ’n openbare tender gesystap is. Duidelikheid word gesoek oor NHP se leierskap, insluitend die stand van die fonds. Die klagskrif dring voorts aan op waarborge vir die voortgesette en onmiddellike verwerking van eise, asook die reële magtiging van voordele.
Die klagskrif vra ook vir die beskerming van Namibiese werksgeleenthede en kundigheid, insluitend duidelikheid oor die status van Namibiese personeel en ’n verbintenis tot die behoud van plaaslike beroepslui wat kern tot NHP se bedrywighede staan.
Buiten vir die klagskrif van lede, het ’n groot diensverskaffer ook aan die raad van trustees geskryf oor die erns van die kwessie en ’n gebrek aan kommunikasie aan die kant van NHP en sy uitvoerende hoof.
Die brief verwys na ’n situasie wat nou ’n vlak bereik het waar dit nie net die diensverskaffer se bedrywighede ernstig raak nie, maar meer kritiek, die kliniese belange en uitkomste van NHP-lede raak.
Dit fokus veral op die magtiging van sub-akute toelatings wat nie betyds, indien enigsins, verskaf word nie, en chemoterapie wat nie betyds gelewer kan word nie.
“Wat veral kommer wek is die huidige onvermoë om vooraf magtiging vir bestaande kankerpasiënte te verkry wat reeds op aktiewe chemoterapiebehandeling is om dit voort te sit,” lui die brief aan NHP.
Ook het die oorskakeling van apteekeise, wat nou deur Medikredit herlei word, grootliks in gedrang gebring, veral vir chroniese en onkologie-verwante voorskrifte en behandelings, wat steeds onstabiel bly.
In die verlede kon gesondheidspersoneel staatmaak op ’n diensverskaffersportaal by Medscheme om sekere funksies te bestuur, insluitend magtigingsversoeke, state, asook die bevestiging van voordele wat tans nie meer die geval is nie.
Ook is nie net die funksies van gesondheidsbestuur aan Universal oorgedra nie, maar ook die verwerking en betaling van eise wat beteken eise moet nou met die hand ingevoer word.
Universal gaan intussen verskeie webinare vir diensverskaffers aanbied, waartydens onder meer sy kommersiële hoof, Pieter Dorfling, insette sal lewer. Antwoorde op skriftelike vrae aan Dorfling sal in ’n opvolgartikel verskyn. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie