Nie ’n sent van miljoene gebruik vir staatshospitaal op Lüderitz

Meer as 50 jaar oud
Die geld is toegeken vir die vervanging van die hospitaal se dak, die uitbreiding van die teater en die opknap van die X-straalkamer.
Otis Daniels
Nie een van die kapitaalprojekte wat vir die staatshospitaal op Lüderitz onder die ontwikkelingsbegroting vir die 2021-’22- tot 2023-’24-boekjaar opsy gesit is, is geïmplementeer nie.

’n Totaal van N$15 miljoen is toegeken vir drie sleutelingrypings, naamlik die vervanging van die hospitaal se dak, die uitbreiding van die teater en die opknapping van die X-straalkamer.

Die inligting is bekend gemaak tydens ’n besoek deur die voorsitter van die parlementêre staande komitee oor geslagsgelykheid, gesondheid en maatskaplike welsyn, Nono Katjingisiua. Haar medeparlementslede Tuulikki Abraham en Vetaruhe Kandorozu het haar vergesel.

Die komitee se streekinspeksie het op 21 Julie begin en dek kapitaalprojekte in die Hardap-, ||Kharas- en Omahekestreek. Katjingisiua het tydens die komitee se besoek aan Lüderitz vir ’n opdatering oor die implementeringstatus gevra.

Justice Shikolalye, ’n senior administratiewe beampte by die hospitaal, het bevestig dat geeneen van die beplande projekte uitgevoer is nie. Katjingisiua het gesê die komitee verwag antwoorde wanneer die volgende raamwerk vir mediumtermyn-uitgawes ter tafel gelê word.

“Indien dit nie geïmplementeer word nie, wil ons weet hoekom – of die projek oorgedra is, en wat die redes is. Die komitee verwag ook ’n opdatering oor die instandhoudingsplan vir bestaande geboue,” het sy gesê.

Shikolalye het verduidelik die huidige hospitaalbestuur is nuut aangestel en kort inligting oor hoekom die projekte vasgeval het.

“Ek is bewus daarvan dat ’n behoeftebepaling by die streekkantoor ingedien is. Ons gebruik steeds die teater in sy huidige toestand en ons toerusting is verouderd, maar ons kom oor die weg. Die hospitaal het dringend ’n opknapping en uitbreiding nodig. Dit is meer as 50 jaar oud en ruimte is baie beperk,” het hy gesê.

Shikolalye het na verskeie dringende prioriteite verwys, insluitend die vul van vakante poste, die opknapping van teaters, die verkryging van nuwe ambulanse, die bou van 'n nuwe kliniek op Lüderitz en die verkryging van industriële wassery- en kombuistoerusting.

“Selfs een nuwe ambulans sal ’n verskil maak. Ons wasgoed word na Keetmanshoop gestuur, wat duur is.

Ons het twee ambulanse met elkeen wat meer as 700 000 km afgelê het en dit breek gereeld. Van ons 13 voertuie is slegs vier operasioneel. Selfs die brandblussers is sedert 2022 nog nie weer gediens nie.”

Volgens die waarnemende senior mediese beampte, dr. Linda Nail, het die hospitaal net twee dokters, terwyl sewe vereis word.

Van Lüderitz af het die komitee na Aus vertrek vir ’n inligtingsessie en inspeksie by die plaaslike kliniek, gevolg deur ’n besoek aan die Berseba-kliniek. Dinsdag het die komitee ’n hoflikheidsbesoek aan die goewerneur van die ||Kharasstreek, Dawid Gertze, afgelê voordat hulle die Keetmanshoop-hospitaal besoek.

Die komitee vergader ook met die goewerneur van die Hardapstreek, Riaan McNab, en besoek die Maltahöhe-kliniek.

Die laaste deel van die komitee se feitesending sluit ’n ontmoeting met Omaheke se goewerneur, Pijoo Nganate, in gevolg deur besoeke aan die Otjinene-kliniek en die Gobabis-distrikshospitaal.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer