NHP: ‘Lede nie geken’
Wat het die besluit gemotiveer om Medscheme ná jare as administrateur van NHP met Universal Healthcare te vervang en op watter kriteria is die besluit gebaseer?
Waar in die fonds se regulasies is die mandaat om beduidende veranderinge aan NHP se bedrywighede aan te bring sonder die betrokkenheid van lede?
Dit is van die kwelvrae wat deur lede geopper word sedert die oordrag op 1 April in werking getree het en tot onder meer laat of geen betalings van eise gelei het.
Verskeie verskaffers van gesondheidsdienste het ook by monde van hul verwante verenigings en wel vir tandartse, sielkundiges, arbeids- sowel as fisioterapeute gesê NHP-lede moet self vir dienste opdok en hul terugbetalings by die fonds eis.
“Geen melding van beduidende veranderinge aan die fonds se bedrywighede is tydens die laaste algemene vergadering gemaak nie,” het ’n lid gesê.
’n Ander het die oorgang beskryf as ’n “growwe gebrek aan bestuur, aangesien ons as lede die eienaars van die fonds is. Ons vertrou die trustees, maar nou, ten spyte van versoeke om inligting te deel en deursigtig te wees oor hul besluit, word ons net gevra om geduldig te wees en hulle sal die simptoom regstel, nie die oorsaak nie”.
Nog ’n lid het beklemtoon dit is nie “’n tegniese fout nie”, maar ’n “mislukking in leierskap”.
“’n Mediese fonds se eerste verpligting is teenoor sy lede. Geen waarde is in hierdie transaksie vir die kliënt gevind nie, net ongerief en persoonlike kontantvloei wat moet gaan na ’n diens waarvoor ek reeds betaal het.
“Geen bewys van konsep nie, net die arrogansie van die transaksie ten koste van Namibiërs,” het die ontstoke lid gesê.
Vrae wat op 24 April aan NHP se bestuurder vir kommunikasie, Tunohole Mungoba, gestuur is, het onder meer gefokus op wanneer en hoekom die besluit geneem is om Medscheme te vervang, of dit deel van ’n oop tenderproses was, hoeveel mense se poste by Medscheme in gedrang is weens die skuif, en of die kontrak met Medscheme sonder meer opgeskort kon word.
Teen druktyd het NHP geen van die vrae beantwoord nie wat einde verlede week ’n algemene verklaring uitgereik het waarin huidige probleme erken is en dat agterstallige eise teen môre verwerk sou wees.
In ’n brief aan verskaffers van gesondheidsdienste het die fonds die afgelope maand se ernstige ontwrigting in dienslewering erken en dat dit “nie die standaard van NHP weerspieël waaraan dit homself onderwerp nie”.
Volgens die brief wat deur NHP se hoofbeampte, Dantago Garosas, onderskryf is, is die oorgang na Universal Care om “waardegebaseerde bestuurde sorgdienste” aan lede te lewer.
“Alhoewel hierdie oorgang bedoel is om die lewering van gesondheidsorg op die lang termyn te versterk, erken ons dat die onmiddellike implementering met beduidende uitdagings gepaardgaan wat ons aktief aanspreek,” het Garosas gesê.
Volgens haar word agterstallige eise vir terugbetaling geprioritiseer en word diensverskaffers direk betrek om uitstaande rekonsiliasies op te los en die korrekte verwerking van geldige eise te verwerk. Bykomende hulpbronne is ook ontplooi om die verwerking van eise te bespoedig, terwyl verlengde ondersteuningstye ook in plek bly om verskaffers te help.
“Ons is aktief besig om verhoudinge met diensverskaffers te herstel om hulp aan NHP-lede te verleen,” het Garosas gesê.
Volgens haar bly die fokus daarop om te verseker dat geldige eise korrek verwerk word en dat praktiese en werkbare oplossings in samewerking met verskaffers geïmplementeer word.
Garosas het die versekering gegee lede se dekking bly ten volle aktief en dat die fonds in ’n gesonde finansiële posisie is om alle eise wat verwerk is, te hanteer.
NAMFISA
Intussen het die toesighoudende owerheid vir finansiële instellings in Namibië (Namfisa) in ’n verklaring gesê die owerheid dra met “ernstige kommer” kennis van die bogenoemde kwessies en is in voortgesette gesprekke met die mediese fonds.
Volgens Namfisa se bestuurder vir korporatiewe kommunikasie, Victoria Raimond, is die owerheid ook besig met ’n omvattende oorsig van die kwessie in ooreenstemming met sy regulatoriese mandaat en gepaste regsraamwerk.
UNIVERSAL CARE
Universal Care se kundigheid lê, volgens sy webtuiste, in die gebruik van data, tegnologie en bewysgebaseerde inligting om innoverende en volhoubare oplossings te skep.
As ’n leier in gesondheidsdienste is die maatskappy veral gefokus op derdeparty-administrasie, geïntegreerde gesondheidsorgbestuur, die bestuur van farmaseutiese voordele, korporatiewe welstand, versekering en gesondheidsorgtegnologie, luidens die webtuiste.
Die maatskappy bestuur in Suid-Afrika onder meer die staat se mediese fonds, GEMS. en het meer as 10 000 deeldnemende verskaffers. Benewens in die buurland het die maatskappy ook ’n teenwoordigheid in die Indiese Oseaan-eilande, sowel as in Amerika.
NHP het 40 437 hooflede en 82 985 begunstigdes.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie