NHP-lede moet self betaal, sê tandartse
Die Namibië tandartsvereniging (NDA) staak alle behandeling van lede van die Namibia Health Plan (NHP), tensy pasiënte bereid is om uit hul eie sak daarvoor te betaal en dit self terug te eis.
Sodra alle agterstallige eise van diensverskaffers verwerk en betaal is, sal die besluit moontlik heroorweeg word, sê die vereniging se uitvoerende bestuur. Die NDA verteenwoordig sowat 80% van die Namibiese tandheelkundige bedryf.
Die stap word hoofsaaklik toegeskryf aan wat die NDA beskryf as die “beweerde onbevoegdheid en gebrek aan beplanning” aan die kant van Universal Healthcare in die oorname as administrateurs van Medscheme vanaf 1 Apri.
Die NDA sê in ’n amptelike skrywe wat aan alle verwante partye gestuur is, dit sal ook pasiënte en werkgewersgroepe motiveer om uit NHP te bedank en na ander fondse te beweeg wat as betroubaar bewys is.
Van die klagtes wat deur NDA-lede ontvang is, sluit onder meer ingewikkelde eisprosedures met Universal in wat “oningelig” is oor die Namibiese mark en hoe verskaffers funksioneer en watter platforms gebruik word.
“Omdat hulle nie kan oorskakel nie, is verskaffers
gedwing om terug na papiereise te keer, maar ontvangs van genoemde eise word skaars erken en
tydsraamwerke wat deur Universal gekommunikeer is met betrekking tot verwerking, is tot op datum nie nagekom nie,” lui die verklaring.
Eise word glo ook verwerp met min tot geen verduideliking oor hoekom nie, terwyl daar “irrasionele versoeke vir motiverings vir basiese tandheelkundige prosedures” is. NDA-lede sukkel met voordeelkontrole en is onseker oor die akkuraatheid van voordele wat per telefoon bevestig word.
“Uiterste probleme” word ervaar om Universal se kantore te kontak sonder dat dit beantwoord word, lang wagtye of oproepe wat later afgesny word.
“Die langer tyd wat administratiewe personeel van praktyke bestee om baie min inligting te bekom, beteken hoër telefoonrekeninge vir verskaffers,” lui die verklaring.
Die NDA verwys ook na die verlies aan inkomste wat lei tot die gebruik van oortrokke fasiliteite, asook die vertragings in betalings aan krediteure wat rentekoste tot gevolg het. Sou dit voortduur, waarsku die vereniging, sal praktyke moontlik salarisse moet sny of personeel moet afdank omdat kontantvloei beduidend geraak word.
Volgens die NDA het Universal in ’n webinaar wat op 22 April aangebied is, genoem dat “dit weke sal neem om die agterstand uit te wis”.
Vir praktyke wat verbruiksgoedere moet koop en oorhoofse koste moet betaal, is dit onaanvaarbaar, maan die vereniging.
Dit verwys ook na aanvanklike outomatiese e-posse wat terugvoering oor navrae binne 7 tot 14 dae belowe, maar die outomatiese antwoord meld nou 10 tot 15 dae wat ook glo nie nagekom word nie.
“Wie sal verantwoordelikheid neem vir hierdie vertraging in sorg? Wie sal wetlik aanspreeklik gehou word wanneer pasiënte se toestand versleg as gevolg van swak administratiewe bestuur?
“Ja, tandprobleme kan noodlottig wees. Ja, daar is tandheelkundige noodgevalle. Ja, pasiënte is in gevaar. Tog bly die vraag – op wie se gewete sal dit wees?” vra die NDA.
’n Arbeidsterapeut beaam in ’n brief aan die uitvoerende raad van die Vereniging van Namibiese Mediese Fondse (Namaf) bogenoemde sentimente oor voortgesette administratiewe en vergoedingsuitdagings wat met NHP ervaar word.
Sy verwys na toenemende frustrasie in die voorlegging, verwerking en uitbetaling van eise. Rekeninge vir dienste wat reeds gelewer is, bly onbetaald, terwyl eise wat ingedien is, óf onverwyld vertraag word óf glad nie verwerk word nie.
“Wat veral kommer wek, is die afwesigheid van duidelike kommunikasie, terugvoering of gestruktureerde prosesse om hierdie kwessies op die los,” lui haar brief.
Dit veroorsaak onmiddellike operasionale spanning, met die verwante finansiële druk wat tans deur die verskaffer gedra word.
“Dit is nie ’n volhoubare model nie, veral nie binne ’n klein private praktykomgewing waar konsekwente kontantvloei noodsaaklik is vir voortgesette dienslewering nie,” sê die arbeidsterapeut.
Sy opper ook vrae oor die aanstelling van ’n diensverskaffer buite Namibië om die funksies van ’n Namibiese mediese fonds te administreer.
“Vanuit ’n praktiese en operasionele perspektief is dit onduidelik hoe so ’n reëling volhoubaar of gepas is binne die plaaslike gesondheidsorgomgewing.
“Die huidige uitdagings wat ondervind word, dui daarop dat die geografiese en sistemiese ontkoppeling moontlik tot ondoeltreffendhede in eiseverwerking, kommunikasie en verskafferondersteuning bydra.” lui haar brief.
Dit laat belangrike vrae ontstaan, volgens haar, rakende toesig, verantwoordbaarheid en die kriteria waaronder sulke oorgrens-diensreëlings binne die Namibiese regulatoriese raamwerk goedgekeur word.
Dr. Jürgen Hoffmann, uitvoerende hoof van die Namibiese Private Praktisynsforum (NPPF) het erken “baie klagtes” is van verskeie diensverskaffers ontvang.
Een van die klagtes is ’n totale gebrek aan kommunikasie met “sommige mense wat tot vandag toe nie weet wat die proses is nie”.
Volgens hom was daar geen verduideliking oor presies wat gaan verander nie en is navrae aan NHP se hoofbeampte, Dantago Garosas, “eenvoudig geïgnoreer”.
“Ons bly in die duister met wat spesifiek waar en wanneer sal gebeur,” sê Hoffmann.
Die NPPF het in gesprek getree met Universal se hoof kommersiële beampte, Peter Dorfling, oor hul frustrasie.
Dorfling het onder meer verduidelik dat daar spesifieke en internasionale protokolle moet wees waarvolgens dienste gelewer moet word, iets wat die NPPF ten volle ondersteun.
Hoffmann sê ’n tweede gesprek het met Dorfling gevolg en dat kommunikasie daarna meer na diensverskaffers gevloei het. Webinare is nou ook vir diensverskaffers op sekere dae beskikbaar waartydens Universal volledige inligting tydens ’n paneelbespreking deel.
Dorfling het by navrae deur Republikein gesê hy het nie ’n mandaat van NHP om oor die kwessies te reageer nie, maar dat dit as ’n kwessie van dringendheid met die mediese fonds opgeneem sal word. Navrae is verwys na Universal se maatskappy vir openbare betrekkinge, Martina Nicholson. Nicholson het onderneem om so gou as moontlik op navrae te reageer.
In ’n omsendbrief aan diensverskaffers het Universal die versekering gegee dat die oordrag na die maatskappy steeds op koers is.
Spanne bly ook gefokus om voortgesette diens te verseker, diensverskaffers te ondersteun en dat die oordrag die sorg aan NHP-lede versterk eerder as ontwrig. Eise wat reeds ontvang is, word aktief verwerk en betalingslopies sal op ’n weeklikse basis soos ouds voortgaan.
Intussen het NHP se bestuurder vir korporatiewe kommunikasie, Tunohole Mungoba, by navraag gesê vrae wat deur Republikein aangestuur is, vereis bondige terugvoering en tyd wat hulle nie tans het nie.
“Ons wil nie ’n haastige antwoord gee nie en vra dus vir tyd om u van omvattende terugvoer te voorsien om ons lede in te lig,” het Mungoba belowe.
NHP het tans 40 468 hooflede en 83 038 begunstigdes en het die afgelope drie jaar met 6% gestyg.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie