PHOTO: CONTRIBUTED
PHOTO: CONTRIBUTED

Net een geval van a-pokke, sê ministerie

Leandrea Mouers
Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het berigte verwerp wat op verskeie media se sosiale platforms gedeel is dat Namibië 44 gevalle van a-pokke op Swakopmund sou hê. Die ministerie se woordvoerder Walters Kamaya het gister dit as onwaar afgemaak en beklemtoon die land het steeds net een bevestigde geval op die kusdorp. Kamaya het verduidelik dat die syfer van 44 bloot verwys na die aantal kontakte wat opgevolg word.

Die ministerie het Sondag in ’n mediaverklaring een geval van a-pokke in Swakopmund bevestig. Hierdie is volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) se maatreëls ’n uitbreking. Die ministerie het toe gesê hulle is besig is om kontakte van die persoon op te spoor om ander moontlike gevalle te probeer bepaal. Die bevestigde geval het volgens die ministerie glo onlangs in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) gereis.

Die gesondheidsminister dr. Esperance Luvindao het intussen bevestig die pasiënt ontvang behandeling in isolasie in die Swakopmund-distrikshospitaal en is in 'n stabiele toestand.

Namibië het nou by 17 ander Afrikalande aangesluit wat tans aktiewe gevalle van a-pokke het, insluitend die Demokratiese Republiek van die Kongo, Zambië, Malawi en Tanzanië. A-pokke is 'n aansteeklike siekte wat 'n pynlike uitslag, vergrote limfkliere, koors, hoofpyn, spierpyn, rugpyn en lae energie kan veroorsaak. Die meeste mense herstel ten volle, maar sommige word baie siek. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer