aids
aids

Namibië wil MIV/vigs teen 2030 uitwis

Twee nuwe nasionale beleidsdokumente
'n Nuwe middel teen MIV en nuwe nasionale riglyne vorm deel van Namibië se omvattende plan om MIV/vigs teen 2030 in Namibië uit te wis.
Elizabeth Kheibes
Namibië het twee nuwe nasionale beleidsdokumente bekend gestel wat die land se pogings sal dryf om MIV/Vigs teen 2030 te beëindig. Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste dr. Esperance Luvindao, het tydens die vieringe van Wêreld Vigsdag Namibië se vooruitgang geloof, maar gewaarsku dat weerlose groepe soos tieners en kinders die risiko loop om agter gelaat te word. Luvindao het die dag as een van “nasionale eenheid” beskryf en ‘n tyd om dié te eer wat hul lewens as gevolg van die pandemie verloor het. Die minister sê Namibië het nie net “die kruin bereik nie”, maar ook globale verwagtinge oortref deur Unaids se 95-95-95 teiken te bereik met 96% van mense wat met MIV saamleef wat weet wat is hul status, 98% van dié wat gediagnoseer is wat behandeling ontvang en 98% van die wat terapie ontvang, wie se virale lading onder druk is. “Dit is ‘n oorwinning vir ons gesondheidswerkers, ons vennote en elke inwoner wat kies om getoets te word,” het sy gesê. Luvindao het verwys na die potensiaal van Lenacapavir, ‘n inspuiting wat twee keer ‘n jaar toegedien word. Die middel se huidige prys is tans ‘n struikelblok om in die openbare gesondheidsektor beskikbaar te stel, maar die ministerie het reeds begin met die regulatoriese proses om dit in die private sektor te kan gebruik. Sy het beklemtoon dat die regering voort sal gaan om wêreldwyd voorspraak vir prysverlagings te doen om gelyke toegang te verseker. Luvindao het verwys na Namibië se reaksie op MIV/vigs wat toenemende finansiële druk weens die onttrekking van verskeie internasionale skenkers ervaar. Volgens haar het die land se binnelandse belegging verhoog en koop dit sy eie anti-retrovirale medisyne aan. Die minister het ook die 7de uitgawe van die ARV Riglyne 2025 bekend gestel wat die kliniese benadering vir die bestuur van MIV moderniseer en onder meer fokus op virale ladings wat nie onderdruk kan word nie, gevorderde siekte en die integrasie van nie-oordraagbare siektes in roetine MIV-sorg. Die 4de uitgawe van die Riglyne vir die Voorkoming van Moeder-tot-Kind-oordrag (PMTCT) 2025 is ook bekend gestel om Namibië se vooruitgang te versnel vir die trippel uitwissing van moeder-tot-kind-oordrag van MIV, sifilus en hepatites B.

Kommentaar

Republikein 2025-12-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer