Namaf-tariewe geld, sê NHP
Standaardtariewe van die Vereniging vir Mediese Fondse in Namibië (Namaf) bly die verwysingspunt vir die verwerking van eise en die administrasie van voordele van Namibia Health Plan (NHP). Dis in ooreenstemming met die Namibiese gesondheidsomgewing en die fonds se reëls.
NHP het gereageer op bewerings deur private diensverskaffers dat kodes wat in lyn met Namaf-kodes is nie deur die nuwe administrateur Universal Healthcare in Suid-Afrika erken word nie.
NHP se hoofbeampte, Dantago Garosas, het by navraag deur Republikein gesê die fonds gaan voort om met Universal en rolspelers te werk om probleme met die belyning van kodering op te los. Dit is om te verseker dat goedgekeurde behandeling voortduur en enige administratiewe ontwrigting tot pasiëntesorg beperk word.
Met verwysing na die beweerde verwerping van behandelingsplanne van pasiënte wat tans behandeling ontvang, het Garosas gesê dié planne word nie bloot afgekeur nie.
“Alle besluite vir kliniese befondsing word in ooreenstemming met die fonds se reëls, die voordele waarop geregtig is en gevestigde kliniese protokol geëvalueer,” het sy gesê.
Volgens Garosas bly die fonds daartoe verbind om die welstand van lede te beskerm, die kontinuïteit van medies noodsaaklike behandeling te handhaaf en te verseker dat alle befondsingsbesluite billik, deursigtig en in lyn met regulatoriese en kliniese bestuurstandaarde is.
Op ’n vraag oor ernstige kommer aan die kant van diensverskaffers oor die beskerming van pasiënte se inligting, asook die finansiële sekuriteit van pasiënte en verskaffers, het Garosas beklemtoon dit is fundamenteel tot NHP se bestuur en operasionele mandaat.
“NHP gaan voort om dienslewering aktief te monitor, met rolspelers in gesprek te tree en bedryfskwessies te takel soos dit ontstaan. Dis om te verseker dat lede se belange en regulatoriese verpligtinge ten volle beskerm bly,” het sy gesê.
KLAGTES
Verskeie klagtes is ontvang rakende probleme wat diensverskaffers ondervind om op ’n universele netwerk te registreer. Dit sluit in dat spesifieke planne en opsies nie van toepassing in Namibië is nie, fooie nie met Namaf-tariewe ooreenstem nie, reëls vir kodes nie in lyn met Namaf-tariewe is nie en dat verskeie kodes en behandelings deur Universal as die fonds se nuwe administrateur weggelaat word.
Beweringe word gemaak dat diensverskaffers wat wel die ooreenkoms onderteken, gebind word deur beperkende kodes en fooie wat nie in ooreenstemming met die Namaf-standaardtariewe is nie. Geen ander tariefkodes of fooie soos voorgeskryf deur Universal sal gevolglik glo uitbetaal word nie.
Garosas sê egter daar word nie van diensverskaffers vereis om aan “enige onvanpaste tariefraamwerk wat nie in lyn met die Namibiese gesondheidsorgomgewing is nie” deel te neem nie.
“Reëlings vir ’n verskaffersnetwerk is gestruktureer om binne die Namibiese regulatoriese raamwerk te funksioneer, insluitend toepaslike Namaf-tariewe en fondsreëls,” het sy beklemtoon.
In ’n vroeë verklaring deur NHP het die fonds gesê sy reëls het nie verander nie. Diensverskaffers sê egter geen duidelikheid is oor Universal Healthcare se Namibiese eienaarstruktuur of sy registrasie by die Owerheid vir Sake- en Intellektuele Eiendom (Bipa) gegee nie.
Garosas het in reaksie hierop beklemtoon dat NHP se reëls nie as gevolg van die oordrag na bestuursorg verander het nie.
“Universal Care is ’n eksterne verskaffer wat deur die fonds deur middel van ’n formele kontraktuele ooreenkoms aangestel is.
“Dit volg op deeglike ondersoeke en binne ’n raamwerk van deurlopende toesig om nakoming van toepaslike bestuurs-, regulatoriese en kontraktuele standaarde te verseker,” het sy gesê.
VRAE
Vrae is ook geopper oor of NHP se oorgang na Universal in lyn met die wet op finansiële instellings en markte (Fima) is.
Kommer is veral uitgespreek oor of die fonds se oorgang in ooreenstemming is met die wet se bepaling dat kernfunksies van ’n mediese fonds, soos onder meer die evaluering van eise, betalings vir gesondheidsorg en die ontwerp van voordele, in Namibië onder die toesig van die Toesighoudende Owerheid vir Finansiële Instellings in Namibië (Namfisa) bestuur moet word en nie meer uitgekontrakteer mag word nie.
Volgens Garosas ís NHP in lyn met Fima, wat op 1 Mei in werking getree het.
“NHP word binne hierdie regulatoriese raamwerk bedryf en bly onderhewig aan Namfisa se voortgesette toesig en vereistes vir ooreenstemming,” het sy gesê.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie