N$8 miljoen aan oortyd
Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het meer as N$8 miljoen aan vaste oortyd uitbetaal aan 40 werknemers wat met voltydse studieverlof was.
Dít ten spyte van die versuim aan die kant van die ministerie om bewyse aan ouditeure te verskaf dat die betrokke personeel wel oortyd gewerk het.
Die betalings word uiteengesit in die jongste verslag van die ouditeur-generaal oor die ministerie se rekeninge vir die boekjaar wat op 31 Maart 2025 geëindig het. Ouditeur-generaal Junias Kandjeke het bevind dat N$7 miljoen aan 24 werknemers by die Katutura-staatshospitaal betaal is wat voltyds op studieverlof was. Ook is N$3,2 miljoen aan 16 werknemers in soortgelyke omstandighede by die Windhoek Sentrale Hospitaal betaal.
“Die ministerie kon nie dokumentasie verskaf wat wys dat die werknemers opdrag gegee is om oortydpligte uit te voer by die instellings waar hulle gestudeer het nie, asook nie bewyse lewer dat die oortydure werklik gewerk is nie,” het Kandjeke in die verslag gesê.
Lilani Brinkman, die Independent Patriots for Change (IPC) se skaduminister van gesondheid, het in die Nasionale Vergadering vandeesweek kennis gegee dat sy antwoorde van die minister van gesondheid, dr. Esperance Luvindao, sal eis.
Brinkman wil hê die minister moet verduidelik watter stappe gedoen is na aanleiding van Kandjeke se bevindinge en of enige van die betalings verhaal is.
“Dit laat die breër vraag ontstaan of die ouditeur-generaal se bevindinge omgeskakel word in korrektiewe stappe, die verhaling van openbare fondse en aanspreeklikheid binne die ministerie,” het Brinkman gesê.
Sy wil ook hê Luvindao moet verduidelik of dissiplinêre of administratiewe stappe gedoen is teen amptenare wat betalings gemagtig, verwerk of goedgekeur het sonder die vereiste stawende dokumentasie.
Die oudit het verder ’n geval geïdentifiseer van ’n mediese dokter wat na bewering vir bykans ses maande – tussen 1 Februarie en 24 Julie 2024 – met ongemagtigde studieverlof was.
Volgens die ouditbevindinge het die dokter N$4115 756 in vaste oortydbetaling, N$298 917,33 aan salaris en ander voordele ontvang wat die totaal op N$414 673,83 te staan bring. Dit het vrae laat ontstaan oor die ministerie se interne finansiële beheermaatreëls.
Die ouditeur-generaal het kommer uitgespreek oor swakpunte in risikobestuur en toesig en gewaarsku dat aanbevelings wat voortspruit uit interne en eksterne oudits sonder voldoende ouditstrukture die risiko loop om nie geïmplementeer te word nie.
Brinkman het aan die parlement gesê die saak het ’n breër vraag laat ontstaan oor of ouditbevindinge teen die ministerie van gesondheid lei tot korrektiewe stappe, die terugvordering van openbare geld en verantwoordbaarheid.
Sy wil verder hê dat Luvindao die parlement van ’n statusverslag moet voorsien oor die implementering van die aanbevelings van die ouditeur-generaal met betrekking tot die ministerie, insluitend uitstaande aanbevelings van vorige oudits.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie