Die gesondheidsministerie se uitvoerende direkteur, Penda Ithindi. FOTO VERSKAF
Die gesondheidsministerie se uitvoerende direkteur, Penda Ithindi. FOTO VERSKAF

N$793 m. vir opgradering van staatshospitale

Ministerie onthul groot planne
Die regering belê in hospitale, vergoeding vir gesondheidswerkers en dienslewering in streke om die openbare gesondheidstelsel te versterk.
Elizabeth Kheibes

Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het byna N$793 miljoen vir opgradering aan hospitaalinfrastruktuur en toerusting geoormerk.

N$269 miljoen word ten bate van vergoedingshervorming vir gesondheidswerkers uitgerol en N$1,69 miljard word aan streke oorgeplaas as deel van pogings om gesondheidsorg oraloor Namibië te verbeter. 

Met die ministerie se strategiese oorsig en mediumtermyn-uitgaweraamwerk aan die parlementêre staande komitee gister, het die uitvoerende direkteur, Penda Ithindi, gesê die beleggings is daarop gemik om openbare gesondheidsgeriewe te moderniseer, dienste op die voorste linie te versterk en die behoud van vaardige gesondheidsorglui te verbeter. 

“Die begrotingspos groei van N$10,99 miljard in 2024-’25 tot N$13,47 miljard teen 2028-’29 om tred te hou met die bevolking se gesondheidsvraag,” het Ithindi gesê. 


HOSPITALE

Onder die ministerie se grootste beleggings vir die 2026-’27-boekjaar is ’n gekombineerde N$792,6 miljoen wat vir infrastruktuur en mediese toerusting by hospitale bewillig is. Die toekenning bestaan uit N$302,9 miljoen vir operasionele kapitaaluitgawes en N$489,7 miljoen in ontwikkelingsbefondsing. Volgens Ithindi sal die befondsing “opgradering van hospitale, nuwe klinieke, uitbreiding van vir dialise- en intensiewesorgeenhede en nuwe toerusting” ondersteun, terwyl die regering poog om toegang tot gehalte-gesondheidsorgdienste landswyd te verbeter. 

Die belegging bou voort op pogings om infrastruktuur vir gesondheidsorg uit te brei, insluitend die bou van die 500-bed Windhoek-distrikshospitaal in Havana, waarvan die sooispitseremonie in Mei 2024 plaasgevind het en wat na verwagting in 2027 voltooi sal word. Die ministerie het onvoldoende infrastruktuur en toerusting as een van die groot uitdagings vir die gesondheidsektor geïdentifiseer, saam met tekorte aan gespesialiseerde medici, ongelyke toegang tot gesondheidsorg in landelike en afgeleë gebiede en toenemende druk van oordraagbare en nie-oordraagbare siektes. 


PERSONEEL 

Om langdurige uitdagings in die arbeidsmag aan te pak, het die ministerie ook ’n eenmalige toekenning van N$269 miljoen opsy gesit om ’n beter vergoedingstruktuur vir openbare gesondheidswerkers te implementeer. 

Ithindi het gesê dit sal “die implementering van ’n verbeterde vergoedingstruktuur vir openbare gesondheid” finansier. 

Die vergoedingshervorming volg terwyl die ministerie steeds sukkel met die hoë personeelomset onder spesialiste, mediese beamptes en gespesialiseerde verpleegkundiges. Die uitvoerende direkteur identifiseer die tekort aan gespesialiseerde medici as ’n kernuitdaging en die regering beoog om “gesondheidswerkers te werf, op te lei en te behou”, terwyl ’n werwing- en behoudstrategie vir kritieke gesondheidsberoepe gefinaliseer word. 

Teen 30 Junie 2026 het die ministerie 19 575 werknemers in poste gehad teenoor ’n goedgekeurde personeelstruktuur van 31 566, wat beteken dat slegs 62% van goedgekeurde poste gevul is. 


DESENTRALISASIE

Die ministerie het ook ’n nuwe oordrag van N$1,69 miljard aan streekrade ingestel, ’n stap wat Ithindi gesê het verband hou met die voortgesette desentralisasie van gesondheidsdienste. 

“’n Nuwe toekenning van N$1,69 miljard vir subsidies en lopende oordragte begin in 2026-’27,” het Ithindi gesê. 

Hy het verduidelik dat die toekenning “te wyte is aan die delegering van verskeie funksies aan die streekrade”, met die oordrag wat na verwagting tot N$1,79 miljard teen die 2028-’29-boekjaar sal toeneem. 

Die nuwe subsidie verhoog die aandeel van subsidies en oordragte in die ministerie se begroting van 2,8% tot 13,1%, wat dit die enkele grootste strukturele verandering maak wat in die huidige mediumtermyn-uitgaweraamwerk vervat is.

Die ministerie het in November 2025 amptelik gedelegeerde gesondheidsfunksies aan streekrade oorhandig en gesê die stap sal streekbestuur versterk, aanspreeklikheid verbeter en dienste nader aan gemeenskappe bring. 

Volgens Ithindi sal desentralisasie voortgaan deur beter beplanning, begroting, verkryging en finansiële bestuur op streekvlak, ondersteun deur werwing, opleiding en nouer samewerking met streekrade, plaaslike owerhede en ander belanghebbendes. 

Ten spyte van die verhoogde belegging het die ministerie erken dat beduidende uitdagings bly voortbestaan, insluitend personeeltekorte, verouderde infrastruktuur, begrotingsbeperkings en die groeiende vraag na gesondheidsorgdienste.

Nietemin het Ithindi gesê die ministerie bly daartoe verbind om te verseker dat die bykomende hulpbronne tot beter uitkomste vir pasiënte sal lei.

“Die ministerie verwelkom die Nasionale Raad se voortgesette toesig en ondersteuning om te verseker dat hierdie hulpbronne beter uitkomste in gesondheids en maatskaplike welsyn vir alle Namibiërs sal bring,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-08-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer