N$200 000 vir 29 gesondheidsgeriewe

Jaarlikse begroting vir instandhouding
Die gesondheidsminister het amptenare in in Kavango-Wes oor die vingers getik.
Eliot Ipinge

Die 29 gesondheidsgeriewe in Kavango-Wes moet ’n jaarlikse begroting vir instandhouding van slegs N$200 000 deel. 

Dit kom neer op ’n gemiddeld van slegs N$6 897 per fasiliteit vir klein herstelwerk en algemene instandhouding. Dit laat vrae ontstaan oor die direktoraat van gesondheid se vermoë om infrastruktuur oraloor die streek in ’n goeie toestand te hou.

Die streek se gesondheidsdirekteur, Fransiska Hamutenya, het Dinsdag die toekenning tydens ’n toesigbesoek deur die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Esperance Luvindao, aan die Katjinakatji-kliniek bekend gemaak, nadat die minister gevra het waarom ’n toilet wat al lank lek, nie herstel is nie. 

Dit het Hamutenya genoop om die direktoraat se beperkte befondsing vir instandhouding en sy herhaalde pogings om bykomende hulpbronne te bekom, uit te lig.

“Met N$200 000, regtig, jy kan nie 29 geriewe in stand hou nie,” het Hamutenya gesê. 

Sy het bygevoeg die direktoraat het herhaaldelik finansiebeamptes in die ministerie genader om ’n verhoging in die toekenning te versoek.

Hamutenya het ook gewys op kommunikasiegapings in die aanmeld van probleme met instandhouding en verduidelik dat klagtes soms distrikskantore bereik, maar nie na die direkteur se kantoor verwys word nie, wat dit vir haar moeilik maak om in te gryp.

“Wanneer dit nie die direkteur se kantoor bereik nie, is dit vir my ook baie moeilik om dit op te tel,” het sy gesê.

Hamutenya het volgehou wanneer noodgevalle onder haar aandag gebring is, sy verseker het dat herstelwerk, insluitend lekkende pype en ander instandhoudingswerk, vinnig hanteer word. Sy het onderneem om ’n span na die Katjinakatji-kliniek te stuur om die lekkende toilet te herstel.

Luvindao het egter die verduidelikings verwerp en aan amptenare gesê om op te hou verskonings maak, hul tekortkominge te erken en verantwoordelikheid te neem.

“Kom ons aanvaar waar ons verkeerd is en ons verander en ons beweeg vorentoe, het sy gesê.

Die minister het bevraagteken hoe swak higiëne by die kliniek aan onvoldoende befondsing toegeskryf kan word en aangevoer dat netheid ’n kwessie van toesig is eerder as bykomende hulpbronne.

“Netheid vereis nie meer geld nie. Dit vereis ’n toesighouer wat ernstig is,” het Luvindao gesê.

Sy het Hamutenya se verduideliking dat klagtes soms nie haar kantoor bereik nie, verder uitgedaag en aangevoer dat streeksdirekteure verantwoordelik is om gesondheidsgeriewe te inspekteer en probleme te identifiseer, in plaas daarvan om heeltemal op verslae van ondergeskiktes staat te maak.

Om haar punt te verduidelik, het Luvindao gevra of sy vir president Netumbo Nandi-Ndaitwah dieselfde verduideliking moet gee as die staatshoof haar oor probleme by ’n gesondheidsfasiliteit sou kontak.

Sy het gesê sy kan nie bloot vir die president sê dat streeksamptenare versuim het om die saak onder haar aandag te bring nie.

“Is dit hoe leierskap werk?” het sy gevra.

“As ’n leier is dit jou verantwoordelikheid om rond te gaan en jou geriewe na te gaan,” het sy gesê en daarop aangedring dat direkteure verantwoordelikheid moet neem vir die toestand van geriewe onder hul toesig.

Luvindao het ook ’n verbod op reise deur gesondheidsamptenare in die onderskeie aangekondig totdat verbeterings aan basiese geriewe aangebring is. Sy het hulle opdrag gegee om in hul onderskeie streke te bly en op die tekortkominge te fokus wat hulle moet aanpak.

“Ons het alle reise verbied” en herhaal “alle reise is verbied. Jy bly in jou streek, jy doen jou werk. 

“Totdat ons ’n verbetering in basiese geriewe sien, is daar geen reise nie,” het sy gesê.

Die minister het volgehou beperkte begrotings behoort nie amptenare behoort te verhinder om praktiese oplossings vir dringende infrastruktuurprobleme te vind nie. Sy het na voorafvervaardigde strukture en bykomende kamers verwys as moontlike tydelike ingrypings wanneer infrastruktuurbehoeftes nie vir befondsing kan wag nie.

“Dit is die soort leierskap waarna ons soek, nie dat die minister toevallig in die streek kom om ’n kliniek te sien en dan dit ontdek nie,” het sy benadruk.

Luvindao was in Kavango-Wes-streek op ’n toesigtoer van gesondheidsgeriewe en om die Mabushe-kliniek in die Mashare-kiesafdeling amptelik te open.

– [email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-11-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer