'n Sentrum van hoop

Elandri se nalatenskap
Om hul dogter te verloor, was een van die moeilikste dinge wat die Van Wyks van Windhoek moes deurmaak. Maar vandag is Huipie van Wyk juis oor haar waar sy moet wees en waar sy ander soos Elandri kan ondersteun met die lesse wat sy by haar dogter geleer het.
Henriette Lamprecht
Sy onthou die dag wat hulle die skokkende diagnose gekry het dat hul dogter wat na haar geboorte met drie ernstige breinafwykings gediagnoseer is, nooit ouer as ‘n baba sal word nie.

Sy onthou die kleur van die rok van die vrou wat saam met hulle in die kamer was en die gevoel dat die dokter se nuus vir hulle as ouers bitter sleg sou wees.

Elandri was “so klein, so broos en baie, baie siek” skryf Huipie van Wyk op Side-By-Side-Intervention Centre se webtuiste, die sentrum waar sy die afgelope paar jaar haar evaring terugploeg.

Op ses weke is Elandri met ACC (Agenesis of the Corpus Callosum) gediagnoseer, op agt maande met Lissencephaly en op een jaar en ses maande met totale misvorming van die brein. Elke paar maande sou in die soektog na antwoorde na Suid-Afrika reis waar haar telkens in stukke gebreek sou word. Oor en oor sou Huipie en haar man hoor daar is niks wat vir Elandri gedoen kon word nie en die beste is om vir solank as moontlik haar gemaklik te hou. Nie vir lank nie, was die antwoord as sy sou vra. Volgens inligting wat hulle ingesamel het, sou haar ouers ‘n jaar, miskien twee saam met haar wees.

“Hoe berei jy jouself voor om te groet terwyl sy nog leef?”

Huipie was ‘n boekhouer, haar man ‘n tegnikus en voor Elandri se koms in Februarie 2013 ook ouers van twee dogters wat onderskeidelik in April 2020 en September 2011 gebore is.

“Ons het nie geweet hoe om na ‘n kind met ernstige behoeftes om te sien nie en hoe om noodsorg te toe pas vir ‘n kind met uiterste mediese uitdagings nie.”

Huipie erken in die oomblikke van haar eerste diagnose was hulle bang en onseker en het onbekwaam gevoel om na haar om te sien.

Dokters was dit eens dat sou leef, maar sonder enige lewnskwaliteit.

Wat beteken kwaliteit van lewe, het Huipie gewonder.

“Dit is waar die reis begin het. Ons reis om onsself te vind, om ons twee oudste dogters te help om die dood te aanvaar en om die betekenis van die kwaliteit van lewe te vind.”

Dokters se voorspelling was dat Elandri nie ouer as twee jaar sou word nie. Maar sy het nege jaar, sewe maande en 14 dae geleef en in hierdie tyd het die Van Wyks “begin lewe”, sê Huipie.

Sy erken die eerste drie jaar van haar jongste dogter se lewe “was ons dood, gebroke en het skaars oorleef”.

“Maar toe staan ons op en verander die manier hoe ons na haar kyk. Sy was nie ons sterwende dogter nie, sy was ons dogter! Haar susters het verdien om haar te leer ken. Ons het besluit dat sy ‘n nalatenskap sou hê, dit was toe ons mekaar regtig gevind het.”

Haar nalatenskap moes een wees van vervulling sonder enige beperkings. En dit was so, sê Huipie.

“Sy het ons huis toe gebring. Sy het geleef om ons te lei na hierdie plek van hoop. Danksy haar het ons vrede gevind.”

Side By Side is wat dit is as gevolg van die planne wat God nie net vir haar dogter nie, maar vir elke kind in Namibië gehad het, beklemtoon Huipie.

Dit is Elandri se reis terwyl sy op aarde was en die nalatenskap van haar reis nadat sy haar doel vervul het.

Daar was “duisende wonderwerke” van haar geboorte op 21 Februarie 2013 tot met haar dood op 5 Oktober 2022 om 02:02, die “swaarste dag” van Huipie se lewe.

Side by Side is deur Sandra Hollweg en Anita Nangombe as niewinsgewende organisasie begin. Dit is grootliks gefinansier deur Duitse skenkers gefinansier, met Sandra, die voormalige direkteur, wat haar beroep en kennis gebruik het om ‘n sterk ondersteuningstelsel in die genadelose omgewing van gemeenskappe in Windhoek se nedersettings te skep. Haar belegging het ‘n reuse-impak op die gemeenskappe gehad waar ‘n gebrek aan ondersteuning vir vroeë kinderontwikkeling pre-primêre onderwys vir kinders met gestremdhede agterweë bly.

In Desember 2017 keer Sandra terug na Duitsland, met Huipie wat haar plek as direkteur by Side by Side vul. Danksy haar reis met Elandri as ‘n ma van ‘n kind met ernstige gestremdhede, verstaan sy die belangrikheid van ondersteuning in die gemeenskap, maar veral in die mediese veld.

By Side by Side stort sy haar kennis, ervaring, kontakte en ook passie in die sentrum om nie net dienste te verbeter nie, maar ook die pas te handhaaf waarteen dit moet groei om in die behoeftes van die gemeenskap en kinders met gestremdhede in Namibië te voldoen.

Huipie, die personeel en die sentrum se hoop is om deur voorspraak vroeë kinderontwikkelingsdienste, vroeë ingryping en gemeenskapsgebaseerde rehabilitasie te versterk.

“Ons glo elke kind met gestremdhede het die reg tot ‘n gesonde en ingeligte familie, maklike toegang tot mediese ondersteuning, toerusting en terapie, asook sosiale en opvoedkundige insluiting."

Die dagsorg- en rehabilitasiesentrum waar kinders ook ontbyt kry, is Maandag tot Vrydag op. Vroeë ontwikkelingsdienste word ook hier aangebied vir babas en kleuters en hul families, terwyl die sentrum een keer per week besoek aan die neuro-natale kliniek bring. Hier word gefokus op kinders wat ‘n hoë kans van vertraging in ontwikkelingsdoelwitte het. Saam met ‘n span dokters en terapeute word die kinders vroeg gediagnoseer en die proses van vroeë ingryping begin. Tuisbesoek word ook Okuryangava, Khomasdal en Goreangab gebring, terwyl slypskole aangebied word vir ouers, assistente en kindertuinonderwysers wat fokus op vroeë kinderontwikkeling. Van die ander fokuspunte sluit ondersteuningsprogramme vir ouers asook spesiale skoolgereeds, en individuele borgskapprogramme in. As betrokke wil raak, stuur ‘n e-pos aan [email protected] of skakel 081 147 7760.

MAAK 'N POTJIE

Side by Side se tweede jaarlikse potjiekoskompetisie in samewerking met Wanderers, LearnOn1 en Special Olympics vind vanjaar op 4 Oktober by die Wanderers-sportgronde plaas. Buiten vir die viering van inklusiwiteit, is die fokus van die dag ook bewusmaking oor gestremdheid. Dit is ook ‘n onthou van Elandri wat serebrale verlamming gehad met Wêreld Serebrale Verlammingsdag wat twee dae later op 6 Oktober gevier word. Spanne van vier kan inskryf teen N$2 500 per span, met elke span wat ‘n gestremdheid verteenwoordig wat deur die kinders van Side by Side gekies is. Lede van die wenspan kry ‘n geskenkbewys van Gondwana vir twee mense vir twee nagte .

Kliek hier: https://q.my.na/2SFN

Kommentaar

Republikein 2025-10-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer